Stefan voel beslis nie vere vir dié voëls nie

Wedvlugduiwe is nie sommer enige duif wat weet waar sy huis is nie. Nee, daar steek baie meer in dié tipe sport.

>

>

Stefan Siebert en sy seun, Johan, met twee van hulle wedvlugduiwe.

BEWEEG AF

Prof Stefan Siebert, vakgroepvoorsitter van Plantkunde op die Potchefstroomkampus, sê duiwe word opgelei, volg ʼn spesiale dieet voor wedvlugte en kan soms verdwaal en wegraak. Boonop vat die sportsoort aan ʼn mens se beursie. Medikasie is duur en van die topwedvlugduiwe in die wêreld kan tot R100 000 kos.

 

Tog, sê Stefan, is dit ʼn stokperdjie wat hard en diep byt.

 

Hy en sy seun, Johan (10), deel dié passie en het al ʼn paar wedvlugte vir hulle klub, Mooirivier Resiesduif-klub, gewen. “Ons duiwe vlieg in die Westelike Posduif-unie wat klubs in Potchefstroom, Klerksdorp, Bothaville, Fochville, Viljoenskroon en Wesselsbron insluit.”

 

Oos, wes, tuis bes

Stefan vertel dat ʼn jong duifie van so 30 dae oud se opleiding aanvanklik begin deur in sy onmiddellike omgewing rond te sit sodat hy sy hok se ligging kan memoriseer. “Dit vat so drie dae vir die duif om homself te oriënteer. Daarna sal hy begin opvlieg en met tyd al hoe verder en verder van die hok wegbeweeg. Dan sê ons die duif is ge-‘home’.”

 

Hy sê dit gebeur instinktief en hulle leer later om saam met die ouer duiwe te vlieg – mens sien dikwels hierdie duiwe in swerms oor die dorp draai. “Sodra die jong duiwe fiks is, kan ek hulle pad toe vat. Ek verkies om op 5 km te begin en verleng dit later na tot 80 km. As die duif voor my by die huis is, neem ek hulle verder.”

 

“Party raak weg, maar met tyd kom hulle terug soos hulle die pad onthou. Dit is natuurlik indien valke of katte, of selfs ʼn windbuks hulle nie eerste plattrek nie.”

 

Lok hulle hok toe

Duiwe moet ook leer om in en uit die hok te kom, anders sal hulle ná ʼn wedvlug heeldag buite sit. “Ek leer hulle met kos: ek fluit of roep en ná twee minute maak ek die valdeur toe en beloon net dié wat binne is. So leer hulle vinnig dat ʼn lekkerny op hulle wag as hulle dadelik inkom.”

 

Elke duif kry ʼn elektroniese ringetjie aan sy voet wat op ʼn “klok” ingelees word. Die klok word by sy hok geplaas en sodra die duif aankom, word die tyd geregistreer. Duiwe se spoed word dan bereken en die duif met die beste spoed oor die afstand bepaal sy plek in die wedvlug. ʼn Vinnige wenspoed op ʼn mooi dag met die wind van agter is sowat 100 km/u.

 

Stefan sê dit kos hom sowat R3 500 per jaar om aan 36 wedvlugte deel te neem. Dit sluit die vervoer in die klub se spesiaal ingerigte vragmotor in, asook hulle versorging tydens die rit.

 

Stefan moes al talle kere sy duiwe in Vereeniging gaan haal het wanneer van sy jong duiwe se paaie kruis met dié wat Gauteng toe vlieg. Gelukkig kan duiweboere mekaar kontak omdat die duiwe gering is.

 

Vriendskaplike mededinging

 

Stefan sê hy en sy seun het ʼn lekker vriendskaplike kompetisie om te sien wie se resiesduif eerste by die huis aankom. Johan het so 20 duiwe (pa het 100) en kan elke week net twee of drie inskryf. Die laaste tyd is hy egter so kortkop voor sy pa nadat een van sy duiwe onlangs derde van altesaam 600 duiwe in die hele unie geëindig het.

 

“Dit is lekker om hierdie passie met my seun te deel. Ek dink min pa’s kan so ’n voorreg geniet.”

 

Stefan sê wedvlugduiwe is hoofsaaklik die Europese rotsduif (Columba Livia – bo) en behoort aan dieselfde genus as die kransduif van Sub-Sahara Afrika (Columba Guinea – onder).