KLIK OM AF TE BEWEEG

>

>

’n Span derdejaarstudente van die Fakulteit Regte op die Potchefstroomkampus het in die suksesvolle en gewilde jaarlikse NWU Juta Skynverhore-kompetisie ’n tweede agtereenvolgende oorwinning vir derdejaars van dié kampus behaal.

 

Michell Brits, Christoff Kalp, Marijke van Jaarsveld en Johandri Wright het hulle staal gewys terwyl hulle in die finale rondte van die verhore, wat op die Potchefstroomkampus plaasgevind het, die verdediging in ’n gewone aanrandingsaak verteenwoordig het.

 

Hulle het die septer geswaai oor die derdejaar-NWU-span, wat uit lede van al drie kampusse van die NWU bestaan het. Die NWU-span, wat die staat se saak bepleit het, se lede was Sergio dos Santos, Asma Haffejee, Thando Kunene en Davin Olën.

 

Gewaardeerde regter sit voor

 

Regter Monica Leeuw, regterpresident van die Noordwes Hoë Hof, het die hofverrigtinge gelei. Sy het bevind dat die span wat die staat verteenwoordig het, nie bo redelike twyfel kon bewys dat ’n beweerde woordewisseling tussen ’n man en vrou wel tot aanranding gelei het nie, en het dus ten gunste van die verdediging beslis. Adv Mark Adams het verrigtinge tydens die halfeindrondte die vorige dag gelei.

 

Soos in vorige jare was hierdie jaar se skynverhore uiters gewild. Meer as 150 studente het deelgeneem en spanne van al drie die NWU se kampusse het teen mekaar meegeding. Verskeie hooggeplaaste gaste uit die regsgemeenskap het ook die geleentheid bygewoon. Hulle het die hooflanddros van Noordwes, die waarnemende senior landdros, die hoof van die Regbank Potchefstroom, verskeie landdroste en die hoofstaatsaanklaer, asook senior aanklaers uit die streek ingesluit.

 

Visie lei tot gewilde kompetisie

 

Die Juta Skynverhore-kompetisie is die produk van die visie van adv René Koraan, dosent in die Fakulteit Regte op die Potchefstroomkampus. Sy beskou dit as ’n geleentheid vir tweede- en derdejaarstudente om broodnodige ervaring op te doen. “Die skynverhore help om hulle voor te berei op hulle loopbane en leer hulle hoe om die reg in die praktyk toe te pas.“ Sy het alle rolspelers bedank vir hulle betrokkenheid, en dat hulle die kompetisie aan die gang hou.

 

Prof Martin Oosthuizen, adjunk-visekanselier vir onderrig en leer by die NWU, sê die NWU Juta Skynverhore-kompetisie stel die vermoëns, talente en toewyding van die NWU se regstudente ten toon. “Dit is ’n werklike getuigskrif vir die toewyding van die NWU-studente en die personeel van die regsfakulteite,” sê hy.

 

“Verder is dit by die NWU een van die dinge wat ons doen en probeer om meer te doen om ons studente te help om teorie en praktyk beter by mekaar uit te bring. Hulle moet dit wat hulle in die lesingsale leer, kan gebruik en ’n voorsmakie kry van wat dit beteken om dit in werklike situasies en kontekste toe te pas. Hoe studente as professionele persone optree, sal ’n geweldige impak op lede van die samelewing hê.”

 

Hy sê die NWU Juta Skynverhore het in hierdie opsig hulleself oor die afgelope vier jaar as ’n belangrike gebeurtenis van die Fakulteit Regte gevestig.

KLIK OM AF TE BEWEEG

TERUG