BEWEEG AF

>

>

Die NWU se Kreatiwiteitsentrum op die Potchefstroomkampus bied ʼn groot verskeidenheid kursusse aan wat nie net aan studente nie, maar ook aan personeel en lede van die publiek die geleentheid gee om hul horisonne te verbreed en ʼn nuwe wêreld van kreatiwiteit te ontdek. Eish! het met Francois Pretorius, bestuurder van die sentrum, gesels oor die wonderlike kursusse wat beskikbaar is.

 

“Ons leef in ʼn wêreld waar die uitruil van kennis voortdurend plaasvind. Om lewenslange studente te wees, moet ons almal ons vaardighede en kennis voortdurend opskerp. Daarom is die Kreatiwiteitsentrum ʼn groot bate vir al die NWU se personeel.”

 

Francois sê die primêre fokus van die kursusse is op vaardighede, wat hierdie ʼn ideale geleentheid maak om mens se CV bietjie uit te brei.

 

Al die kursusse is geregistreer en word deur kundiges aangebied. Daar is vaardigheidskursusse in kreatiewe rekenaarsagteware, webbladontwerp en ʼn inleiding tot modeontwerp en fotografie, sowel as kreatiewe kursusse in skilder, teken en reliëfdrukwerk.

 

Kursusse word na ure aangebied op weeksdae, en ook sommige Saterdae. Die dramakursus is die enigste kursus van die Kreatiwiteitsentrum wat bedags aangebied word, en wel op Donderdae.

Praktiese rekenaarvaardighede

 

Francois sê die rekenaarkursusse, wat onderskeidelik op die programme Illustrator, Indesign en Photoshop fokus, is tans die gewildste onder die personeel.

 

“Die universiteit subsidieer hierdie kursusse uit vaardigheidsontwikkelingsfondse van die onderskeie entiteite op die kampusse as personeel kan motiveer dat ʼn kursus noodsaaklik is vir hul werk by die universiteit. Tans word 10 personeellede gesubsidieer.”

 

 

Gewilde kursusse om uit te kies

 

Hy is veral opgewonde oor die nuwer kursusse. “Reliëfdrukwerk, wat linosnee, houtsnee en monodrukwerk insluit, is ʼn splinternuwe kursus vir 2016. Ander kursusse wat onlangs bekendgestel is

wat reeds baie gewild is, sluit in musiektegnologie, ʼn kortkursus in filosofie wat moontlikhede vir nagraadse studies inhou, en karakterontwikkeling vir strokiesprentverhale.”

 

Dit is maklik om te registreer aangesien alle aansoeke via die Kreatiwiteitsentrum se webwerf gedoen kan word.

 

Die logo van die sentrum is ʼn skoenlapper, geïnspireer deur die storie van Papillon, die beroemde ontsnapte gevangene. “Dit simboliseer dat ons almal uit ons selfopgelegde tronke moet losbreek en voluit moet leef. Breek die grense af en leef ʼn kleurvolle lewe,” sê Francois.

 

Met so baie kursusse om uit te kies, behoort niks in jou pad te staan om jou lewe deur die Kreatiwiteitsentrum te verryk nie.

 

Vir meer inligting, klik hier

 

KLIK OM AF TE BEWEEG

KLIK OM AF TE BEWEEG

TERUG

KLIK OP DIE SKOENLAPPERS