Die span van die Institusionele Gemeenskapsverbinteniskantoor het onlangs ʼn wetenskaplike studie oor die universiteit se impak in die gemeenskappe wat met die drie kampusse geassosieer word, voltooi. Die impakstudie is die eerste van sy soort en bied waardevolle insigte oor die pad vorentoe as ʼn geïntegreerde en belynde universiteit.
Wat is ons impak op die gemeenskap?
Eish! het gaan kers opsteek by Bibi Bouwman, direkteur vir gemeenskapsverbintenis, en dr Hendri Coetzee, waarnemende direkteur vir gemeenskapsbetrokkenheid op die Potchefstroomkampus.
FOKUS
OP
V: Wat is die belangrikste bevindinge?
A: Die meerderheid van die inwoners beskou die NWU se bydraes tot hul onderskeie gemeenskappe as grootliks neutraal of relatief gering.
Die mees betekenisvolle bronne van positiewe impak wat die respondente genoem het, sluit in die NWU se gemeenskapsprojekte, gemeenskapsdienste, ingenieursweke en ope dae en regsklinieke wat vir die publiek toeganklik is. Die respondente het geen betekenisvolle negatiewe impak genoem nie.
Hulle het die volgende as die NWU se grootste bydraes beskou:
diensleer en werkgeïntegreerde leer-aktiwiteite, ondersteunings- programme, wetenskapsweke en ope dae, sportweke en opleidingsklinieke, die wetenskapsentrum en botaniese tuin op die Potchefstroomkampus en die betrokkenheid van akademiese personeel op beroeps- en adviesrade.
V: Het die studie die behoeftes van die gemeenskappe geïdentifiseer?
A: Ja, die studie het bevestig die behoeftes van die gemeenskappe is werksgeleenthede, gesondheidsorgdienste, vaardigheidsontwikkeling en opleiding, infrastruktuur, polisiëring, veiligheids- en sekuriteitsmaatreëls, munisipale dienslewering en die toegang tot hoëgehalteskole.
In baie gevalle bestaan daar wel doeltreffende oplossings vir sommige van hierdie behoeftes en kwellinge, maar die gemeenskappe het nie altyd toegang tot hierdie oplossings nie. Dit is waar die NWU ʼn belangrike rol kan speel om kennis en kundigheid te deel.
V: Wat is die pad vorentoe?
A: Die algemene konsensus is dat die NWU ’n verskil maak. Dit is duidelik dat die universiteit goeie dinge doen, maar ongelukkig is daar nie genoeg mense wat dit weet nie.
Dit is belangrik om seker te maak dat gemeenskappe van ons aktiwiteite weet deur die inligting deur die toepaslike media te versprei.
Personeel en studente moet ook aangemoedig word om oor hul gemeenskapsgebaseerde aktiwiteite verslag te doen.
Ons moet verseker dat aktiwiteite wat te doen het met gemeenskapsverbintenis proaktief met die behoeftes van die gemeenskappe belyn word. Die behoeftes, bates en psigososiale welstand van die gemeenskap moet met gereelde tussenposes geassesseer word om te verseker dat die universiteit vinnig, effektief en tydig op enige veranderinge kan reageer.
Al die plaaslike gemeenskappe het die diensleer- en werkgeïntegreerde leergeleenthede as die NWU se belangrikste impak gegradeer. Daarom beplan ons om dit verder uit te brei.
V: Hoe gereeld beplan julle om impakstudies te doen?
A: Ons wil dit ten minste elke drie tot vyf jaar doen, afhangende van die befondsing. Daar moet genoeg tyd tussen impakstudies verloop sodat daar genoeg tyd is om intervensies te beplan en te implementeer voordat dit weer gemeet kan word. Klik hier om die volledige gemeenskapsimpakstudie te lees.
V: Wat was die doel van hierdie gemeenskapsimpakstudie?
A: Ons wou kyk wat die vermeende impak van die NWU op plaaslike gemeenskappe was, en wat die behoeftes, bates en psigososiale welstand van inwoners van hierdie gemeenskappe is.
In gemeenskapsbetrokkenheid is daar ʼn tendens om weg te beweeg van insette en uitsette, en om eerder impak te meet. Ons het probeer bepaal wat die status quo is en wat die gemeenskappe se persepsies oor die projekte in daardie gemeenskappe is.
Die impakstudies het alle aktiwiteite ingesluit, soos welstand en die behoeftes en bates van die gemeenskappe. Ons het net die ekonomiese impak uitgesluit.
V: Wat het die studie behels?
A: Die wetenskaplike studie is oor ʼn tydperk van ses maande in die gemeenskappe van Tlokwe, Emfuleni en Mahikeng gedoen. Die universiteit se Etiekkomitee het dit goedgekeur.
Ons het studente en lede van hierdie gemeenskappe gewerf en opgelei om data van 984 deelnemers te versamel. Daar was 14 rekrute in die span en ons het hulle eers geleer wat navorsing is en hoe dit gedoen moet word.
X
X
X