Dié personeel doen meer as net hul deel
Die NWU het toegewyde personeel wat behalwe hul werk ook veel meer doen. In die tweede artikel van Eish! se nuwe tweede-myl-reeks gee ons erkenning aan kollegas wat ʼn verskil in ander se lewens maak.
Blanch Carolus
Bonita Maboeta, bestuurder van Werknemerwelstand in die Institusionele Kantoor, nomineer vir Blanch Carolus, hoof van die eenheid vir studente met gestremdhede by die Potchefstroomkampus se Ingrypsentrum. “Blanch het nie net die bestuur van die NWU se oë oopgemaak ten opsigte van die behoeftes van gestremde persone nie, maar is ook ʼn kampvegter vir gelykheid as dit by mense met gestremdhede kom.”
Mieke du Plessis
Prof Olubukola Babalola van die Skool vir Biologiese Wetenskappe op die Mafikengkampus sê hy kon onwetend van sy NNS-fondse verloor het as dit nie vir Mieke du Plessis, navorsingsondersteuningsbeampte vir befondsing in die Institusionele Kantoor was nie. “Sy het dit vir my opgevolg en seker gemaak dat die fondse uitbetaal. Haar toegewydheid en vinnige optrede met verskeie e-posse beteken baie vir my.”
Marieta Olivier-du Preez
“Haar harde werk en toewyding stel ander personeel in staat om hulle werk te doen.” Petrus Cloete, senior administratiewe assistent by die liaseerafdeling van die toelatingskantoor op die Mafikengkampus, sê Marieta Olivier du Preez, beampte by Studente Administratiewe Stelsels in die Institusionele Kantoor, is ʼn spontane en hulpvaardige werknemer wat erkenning verdien.
Renet Rothman
Renet Rothman, dosent in wiskunde by die Skool vir Rekenaar-, Statistiese en Wiskundige Wetenskappe op die Potchefstroomkampus, doen baie moeite met haar studente. "Sy moedig hulle aan deur hulle met lekkernye te bederf. As hulle moeg is, staan sy gereed met Bioplus-tablette of Redbull om hulle te help," vertel prof Ewert Kleynhans, medeprofessor in die Skool vir Ekonomie op dieselfde kampus. Renet het ook ʼn Facebookblad met die naam Wiskunde trippel een begin om haar insig en haar passie vir wiskunde met haar studente te deel.
Jackie van der Merwe
Petro Beukes, sekretaresse by die Skool vir Ondernemingsbestuur op die Potchefstroomkampus, sê Jackie van der Merwe, administatiewe assistent by dié skool, huiwer nie om haar talente tot voordeel van die NWU te gebruik nie. “Sy is kundig, rol die spreekwoordelike klip uit die pad en is ʼn vredemaker. Geen opdrag is vir haar ooit te groot of te veeleisend nie.” Petro sê dit is ʼn absolute voorreg om saam met Jackie te werk. “Sy het ʼn ongelooflike groot impak op my lewe gemaak.”
Prof Fanus van der Merwe
Prof Fanus van der Merwe was administratiewe bestuurder by die fakulteit vir Ekonomiese en Bestuurswetenskappe op die Potchefstroomkampus en hoewel hy aan die einde van 2015 afgetree het, help hy vanjaar nog by dié fakulteit uit. Hy stap die ekstra myl deur studente aan te moedig, raad te gee en soms ook te vermaan. Judie Coetzee, senior finansiële beampte in dieselfde fakulteit, sê hy is die persoon wat elke navraag van studente, ouers en dosente suksesvol kan hanteer. “Ons gaan sukkel om nie te sê ‘gaan vra vir prof Fanus’ nie.”
As jy graag ʼn kollega wat die tweede myl in die uitvoering van sy/haar daaglikse pligte stap, wil nomineer, stuur gerus ʼn e-pos aan willie.duplessis@nwu.ac.za. Onthou asseblief om jou en die persoon wat jy nomineer se postitel en relevante departement of skool ook in die e-pos aan te dui. Gee ook redes waarom jy dink die persoon die tweede myl loop.