Nasionale prestasies
NWU die universiteit met die beste korporatiewe bestuur
Die NWU se verbintenis tot die handhawing van beste praktyk in algemene en korporatiewe bestuur het vir die vyfde jaar in 'n ry erkenning gekry toe die Universiteit die eerste plek in PricewaterhouseCoopers (PWC) se Korporatiewebestuur-toekenning vir Uitnemendheid in Hoëronderrig vir 2011 behaal het. Die NWU het die toekenning ontvang tydens PWC se Konferensie oor Hoër Onderwys wat op 5 September in Kaapstad gehou is.
In 2007 het die NWU die eerste prys gedeel, en in 2008 en 2009 was die NWU die alleenwenner. In 2010 het die Universiteit ook die prys gedeel, maar in 2011 is ons weereens alleen aangewys as die bes bestuurde universiteit in die Suid-Afrikaanse hoëronderwyslandskap.
Hierdie toekenning is nóg 'n bewys dat die NWU 'n universiteit is wat onverbiddelik by die regte prosesse hou en sodoende die gewenste resultate behaal. Of dit nou gaan oor die vul van sleutelposisies, toesighouding oor die instelling se begroting en finansiële bestuur, of die hou van 'n Raadsvergadering: dit is vir ons belangrik om die regte prosedures te volg sonder om kortpad te vat of af te skeep.
Die kompetisie vind jaarliks plaas om hoëronderwysinstansies aan te moedig om hoë standaarde vir korporatiewe bestuur na te streef en aan die vereistes van die King III-verslag oor Korporatiewe Bestuur in Suid-Afrika te voldoen. Hierdie verslag benadruk sewe beginsels van goeie korporatiewe bestuur, naamlik dissipline, deursigtigheid, onafhanklikheid, aanspreeklikheid, verantwoordelikheid, regverdigheid en maatskaplike verantwoordelikheid.
Terug na bo
SA publikasies-toekennings
Die NWU se interne personeelnuusblad Eish! is een van die beste interne publikasies in die land. Dit is bevestig by die Suid-Afrikaanse Publikasieforum se toekenningsgeleentheid op Vrydag 2 September 2011. Eish! was 'n finalis in die kategorie vir Beste Interne Nuusbrief, en tweede in die kategorie vir Beste Publikasie met 'n Kleiner Begroting. Eish! het ook sertifikate ontvang vir Uitnemendheid in Skryfwerk en Uitnemendheid in Kommunikasie.
Die NWU het ook 'n paar van sy ander publikasies ingeskryf, o.a. die alumnitydskrif, NWU & U. Hierdie publikasie het twee merietesertifikate ontvang: een vir Uitnemendheid in Kommunikasie en een vir Uitnemendheid in Ontwerp. Die positiewe terugvoer oor die Profiel en die Jaarverslag dui daarop dat ons op die regte spoor is met hierdie publikasies in ons strewe om doeltreffende kommunikasie met ons belanghebbers te verseker.
Terug na bo
NWU-vroue van die bestes in die land
Die universiteit se vroulike wetenskaplikes en akademici is weereens in die kollig nadat verskeie van hulle toekennings ontvang het. In 'n kompetisie van die saketydskrif CEO (Celebrating Excellence in Organisations) het prof Susan Visser die prys ontvang vir die mees invloedryke vrou in Onderwys en Opleiding: Akademie. Prof Cara Jonker was tweede in dieselfde kategorie. Albei is verbonde aan die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe op die Potchefstroomkampus.
Prof Alta Schutte, nisareadirekteur van die Hipertensie in Afrika-navorsingspan (HART) by die Fakulteit Gesondheidswetenskappe op die Potchefstroomkampus is onlangs in kennis gestel dat die silwermedalje (British Association Medal) van die Suider-Afrikaanse Vereniging vir die Bevordering van Wetenskap (S2A3) aan haar toegeken is. Hierdie medalje word jaarliks deur die Raad van S2A3 toegeken ter erkenning van 'n uitsonderlike bydrae tot die bevordering van wetenskap.
In vanjaar se Vroue in Wetenskap-kompetisie, aangebied deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie (DWT), het prof Wilma Viviers, Direkteur van die Skool vir Ekonomie op die Potchefstroomkampus, die tweede prys ontvang in die kategorie vir vroue wat hulself onderskei het in die geesteswetenskappe. Prof Andrea Saayman van dieselfde fakulteit was derde in die kategorie vir jong vroue wat hulself op hierdie gebied onderskei het.
Prof Hanlie Moss, Direkteur van Fisiese Aktiwiteit, Sport en Rekreasie (FASRek) op die Potchefstroomkampus, het die Eminent Scientist of the Year 2011 - Millennium Golden International-toekenning ontvang.
Terug na bo
Kwaliteitsbestuur
HOKK-oudit-terugvoer oor die NWU-verbeteringsplan
Die NWU is onlangs besoek deur dr Mark Hay, die nuut aangestelde HUB van die Hoëronderwys-kwaliteitskomitee (HOKK). Die doel van die besoek was om terugvoer te verskaf oor die NWU se Verbeteringsplan wat aan die einde van verlede jaar aan die HOKK voorgelê is, en om by die Universiteit te verneem watter planne gemaak word met betrekking tot die implementering van die verbeteringsplan.
'n Omvattende statusverslag oor die vordering met die implementeringsplan sal in November 2011 voor die Raad dien, waarna dit aan die HOKK voorgelê sal word.
Terug na bo
'n Oorsig oor prestasies op die sleutelprestasie-aanwyserskaal (SPA-skaal)
Tabel 1, met 'n omvattende longitudinale oorsig van die Universiteit se prestasie op die akademiese SPA-skaal vanaf 2005, dui op die volgende belangrike tendense:
| |
|
Studente-inskrywing aan die NWU het van 2005 tot 2011 met 56% gestyg. Die toename in kontakstudente was 16%, en die toename in afstandstudente was 151%. |
| |
|
'n Bestendige styging in die slaagsyfer van voorgraadse modules, deurlopend hoër as die nasionale gemiddeld van 77%, is duidelik waarneembaar. Veral die slaagsyfer van afstandmodules is merkwaardig. |
| |
|
Terwyl die nasionale gemiddelde graadverwerwingskoers tussen 15% en 16% is, het die NWU dit oor die jare reggekry om sy graadverwerwingskoers by die huidige syfer van 27% uit te bring. |
| |
|
'n Bestendige styging kan gesien word in die aantal grade en diplomas wat by die NWU toegeken word: 'n styging van 17% in kontakstudentgraduandi, en 387% in afstandstudentdiplomandi en graduandi. |
| |
|
Wat die nagraadse graduandi betref, moet uitgewys word dat die afname in meestersgraadverwerwers deel is van 'n nasionale tendens. Verskeie maatreëls is egter in plek gestel om hierdie afname te stuit, onder andere meer en beter beurse. Die styging van 46% in PhD-toekennings is ook merkwaardig. |
| |
|
'n 77%-styging is in hierdie tydperk waargeneem met betrekking tot artikelekwivalente. Tussen 2004 en 2010 was daar 'n 37%-toename in die aantal NNS-gegradeerde navorsers aan die NWU, sowel as 'n 305%-toename in postdoktorale genote en 'n 52%-toename in totale navorsingsuitset. |
| |
|
Hierdie syfers dui daarop dat die NWU goeie vordering gemaak het met die verwesenliking van sy visie om 'n gebalanseerde onderrig-leer- en navorsingsuniversiteit te word.
|
In tabelle 2, 3, 4 en 5 kan die volgende gesien word:
| |
|
By al drie kampusse en wat sowel die drie- as die vierjaarprogramme aanbetref, is 'n geleidelike afname sigbaar in die uitvalkoers van studente. |
| |
|
Hoewel daar 'n effense verbetering gesien kan word in die voltooiing van kwalifikasies in die minimumtydperk is kampusbestuur bekommerd dat gemiddeld slegs 33% van studente wat vir driejaargrade inskryf hul studies in die minimumtydperk voltooi. Daarteenoor is dit opmerklik dat studente wat vir vierjaargrade ingeskryf is oor die algemeen beter vaar, met 'n gemiddelde voltooiingskoers van 45% in die minimumtydperk. |
| |
|
Indien 'n ekstra jaar toegevoeg word, verbeter die voltooiingskoers effens; driejaargraad-kandidate se gemiddelde koers is dan 45% terwyl vierjaargraadkandidate se voltooiingskoers opskuif na gemiddeld 55%. |
| |
|
Ongeveer 10% van studente wat vir 'n driejaarkwalifikasie ingeskryf is, is steeds in die stelsel ná 5 jaar. En 10% van studente wat vir vierjaarkwalifikasies ingeskryf is, is steeds in die stelsel na 6 jaar. |
| |
|
Die uitvalkoers van eerstejaars aan die NWU is gemiddeld 13%, wat beter is as die nasionale gemiddeld van 25%. |
| |
|
Die eerstejaarprestasie in die eerstesemester-eksamens van 2011 is oor die algemeen bevredigend en bevestig die waarnemings uit Tabelle 2, 3 en 4 aangaande die bogemiddelde prestasie van eerstejaarstudente aan die NWU. Teenoor die nasionale studiestakingskoers van ongeveer 30% na die eerste semester op universiteit is die NWU-syfer oor alle kampusse heen slegs 7%.
|
Terug na bo
Kampus-VSR-verkiesings en samestelling van die Institusionele VSR
Die VKSR-verkiesings op die Potchefstroom- en Vaaldriehoekkampus het 'n verrassing opgelewer toe daar ontdek is dat die kampusse se onderskeie huisreëls nog nie deur die VKSR goedgekeur is nie en dus nie aan die Statuut van die NWU voldoen het nie.
Gevolglik moes die verkiesings uitgestel word. Die uittredende VKSR het aandag gegee aan die saak en die huisreëls by 'n spesiale vergadering van die VKSR goedgekeur, waarna die verkiesings kon plaasvind. Die inkomende VKSR sal vervolgens aandag gee aan verskeie ander sake wat gedurende die proses geopper is.
Die uitslag van die verkiesings op die onderskeie kampusse was soos volg:
| Mafikengkampus-VSR-lede: |
| Lebogang Molopyane |
President |
| Tsietsi Mmutle |
Adjunkpresident |
| Orapeleng Matshediso |
Sekretaris-generaal |
| Kebaabetswe Nkate |
Adjunksekretaris-generaal |
| Onalenna Mutle |
Penningmeester |
| Thabang Seremane |
Akademiese Sake |
| Khulekani Nkosi |
Openbare Betrekkinge |
| Kgotso Mongale |
Regsaangeleenthede |
| Thejane Matsoso |
Sport, Godsdiens en Vermaak |
| Kaelo More |
Koshuisraad |
| Batseba Moatlhodi |
Welsyn en Geslagsgelykheid |
| Nelsile Ginindza |
Internasionele Studentesake |
| Potchefstroomkampus-VSR-lede: |
| Chrisna Kraaij |
Voorsitter |
| Susan Botma |
Ondervoorsitter |
| M'Landi van Rooyen |
Lid vir Skakeling |
| Janco Jordaan |
Finansies |
| Claudette Otto |
Koshuisraad |
| Michelle Botha |
Akademiese Raad |
| Izelle Mostert |
Kunsteraad |
| Heila Liversage |
Studentesake |
| Retief Scheepers |
Verenigingsraad |
| Kobus Dannhauser |
Studentejool-gemeenskapsdiens |
| Bertie Maritz |
Sport en Rekreasie |
| Marietjie Cowan |
Bemarking en Openbare Betrekkinge |
| Sinki Mlambo |
Aktuele Sake |
| Reitumetse Machaba |
Verenigingsraad |
| Corné Zandberg |
JOOL |
| Vaaldriehoekkampus-VSR-lede: |
| Tadashi Sabelele |
Voorsitter |
| Boitumelo Molelekeng |
Ondervoorsitter |
| Molly Ncongwane |
Sekretaris-generaal |
| Ofentse Moloto |
Adjunksekretaris-generaal |
| Obakeng Senne |
Penningmeester |
| Ndumiso Hadebe |
Akademie |
| Ummy Tebeila |
Kuns en Kultuur |
| Aubrey Nzunga |
Grondwet en Verenigings |
| Sylise da Silva |
Gesondheid en Veiligheid |
| Boitumelo Pule |
Projekte |
| Eugene Jacobs |
Openbare Betrekkinge |
| Mmabatho Makhobotloane |
Koshuisraad |
| Kelello Mophuthing |
Sport |
| James Ncedani |
Transformasie |
| Institusionele VSR |
| Die volgende is die name van die IVSR-lede van 2011-2012 wat op 9 September ingehuldig is: |
| Tadashi Sabelele |
Voorsitter |
| Chrisna Kraaij |
Ondervoorsitter |
| Lebogang Molopyane |
Sekretaris-generaal |
| Kebaabetswe Nkate |
Gesondheid en Veiligheid |
| Kaelo More |
Koshuisraad |
| Tsietsi Mmutle |
Sport |
| Molly Ncongwane |
Adjunksekretaris |
| Obakeng Ndumiso |
Akademie |
| Hadebe Senne |
Kuns en Kultuur |
| Janco Jordaan |
Regsbeampte |
| Sinki Mlambo |
Penningmeester |
| Reitumetse Machaba |
Openbare Betrekkinge |
Terug na bo
Nuwe universiteitslied volgende jaar bekendgestel
Personeel en studente het die inisiatief geneem om 'n nuwe universiteitslied te komponeer. Na 'n behoorlike oorlegplegingsproses is "Bless us, oh Lord" in Augustus finaal goedgekeur deur die Institusionele Bestuur. Hierdie lied sal die huidige universiteitslied "Mmaarona" in 2012 vervang.
Volgens 'n implementeringsplan wat op die onlangse vergadering van die Institusionele Bestuurskomitee ter tafel gelê is, sal die lied bekendgestel word tydens die amptelike openingseremonies wat in 2012 op die drie kampusse gehou sal word, en gesing word by alle amptelike seremonies van die Universiteit, onder andere by gradeplegtighede.
Klik hier om die woorde van die veeltalige "Bless us, oh Lord" te lees.
Klik hier om na 'n opname van die universiteitslied te luister.
Terug na bo
Kollegas, ek is seker almal sal saamstem dat, hoewel hierdie bestekopname reeds baie stof tot dankbaarheid bied, dit ook duidelik aantoon dat ons nie op ons louere kan rus nie en dat daar bepaald nog harde werk voorlê byvoorbeeld om die graadvoltooiingskoers in die minimumtydperk te verhoog.
Baie sterkte en seën vir die laaste bult van die akademiese jaar!
Vriendelike groete
THEUNS ELOFF Visekanselier
|