|
Wat die Mafikengkampus betref gaan klasse rustig voort, ten spyte van 'n halsstarrige Kampus-SR wat steeds 'n klasboikot voorstaan (volgens my inligting draf hulle self klas en skryf toetse!). Bestuur is steeds, deur middel van 'n eksterne fasiliteerder, in gesprek met die Kampus-SR om verhoudinge te normaliseer. Die eksamen op die Mafikengkampus sal later begin en die tweede eksamengeleentheid sal eers in Januarie plaasvind om ons in staat te stel om verlore klastyd in te haal. Die belangrike saak is dat die Bestuur nie voor eksterne druk geswig het om studente wat ernstige oortredings begaan het, (soos gewoonlik) skotvry daarvan te laat afkom nie. Intussen gaan die Kampusbestuur voort om re?lings te tref om die Kampus in die toekoms beter te beskerm en te beveilig.
Wat die Facebook-saak betref, is sewe studente wat betrokke was, aangekla en die dissiplin?re verhore sal voor die einde van Oktober afgehandel wees. Die NWU het hierdie saak vinnig en doeltreffend hanteer en die feit dat dit 'n "nie-storie" in die media geword het, getuig hiervan. Die optog van die Kampus-SR en SASCO het getoon dat die grootste meerderheid van NWU-Pukke rassisme verwerp. Die langertermyn-uitdaging vir die bestuur, personeel, huisouers en studenteleiers is om alle studente te oortuig dat die waardes van die NWU en die Grondwet van die land nie met sulke denke en optrede te versoen is nie.
Die Ministeri?le Taakspan het op Donderdag, 23 Oktober sy besoeke aan die kampusse van die NWU afgesluit. Alhoewel die bestuur en die Raad 'n probleem het met die proses wat met die aanstelling van die Taakspan gevolg is, is besluit dat volle samewerking aan die Taakspan gegee sal word. Op Woensdag, 15 Oktober is die gevraagde dokumentasie by die Taakspan in Mafikeng afgelewer (nege l?ers vir elke lid!). Die Taakspan, bestaande uit ses lede onder die voorsitterskap van dr Joe Phaahla, 'n voormalige LUK van Limpopo, het die Raad, die Institusionele Bestuur, kampusbesture, die Institusionele Forum, die verskillende vakbonde en die studenteleierskap te woord gestaan. Ander personeel en studente kon ook met die Taakspan praat.
In die interaksie wat ek self met die taakspan gehad het, was dit vir my duidelik dat daar 'n opregte begeerte is om by die feite uit te kom. Die saak van "ontbondeling" ("demerger") het nooit ter sprake gekom nie. Die Taakspan se belangrikste uitdaging sal wees om die feite oor die samesmelting en die amptelike dokumente wat hulle ontvang het met die persepsies en totale oningeligtheid van veral die studenteleierskap en die Staff Association op die Mafikengkampus te versoen. Dat daar personeel en studente is wat, ten spyte van raadsnuusbriewe, visekanseliersnuusbriewe, rektorsnuusbriewe, Eish!, visekanseliersontbyte, fakulteitsbesoeke en ander kommunikasiekanale nog steeds so waningelig is, gaan die verstand te bowe! Die IB se voorlegging aan die Taakspan is beskikbaar hier en ek wil personeel en studente aanmoedig om daarna te kyk om 'n goeie idee oor die vordering met die samesmelting te kry.
Die Taakspan moet teen die tweede helfte van November 'n eerste verslag aan die Minister gee, met die finale verslag teen die einde van November/begin Desember. Die Minister sal waarskynlik 'n afskrif van die verslag aan die Raad beskikbaar stel en hopelik ook gesprek voer rakende moontlike aanbevelings.
Uiteraard sal die Raad en bestuur die personeel en studente inlig oor enige relevante inligting wat beskikbaar gestel word. Sonder om die bevindings van die Taakspan enigsins vooruit te loop, is dit my mening dat die verslag nie anders sal kan as om die vordering met die samesmelting te erken nie, maar ook die (aan ons reeds bekende) uitdagings soos ekwiteitstransformasie uit te lig. Die kuns vir die komitee gaan wees om 'n balans te vind tussen die feitelike (goeie vordering met die samesmelting) aan die een kant en persepsies oor die sukses van die samesmelting aan die ander kant.
Ten slotte: die NWU is, soos sy voorgangeruniversiteite, nie ongewoond aan kontroversie nie. Soos ek al voorheen ges? het: ons moet net van ons kant af ons taak so goed verrig, dat ons respek en agting bly afdwing. Ek is daarvan oortuig dat dit ons reaksie op al die bogenoemde sake moet wees.
Sterkte aan almal met die laaste paar weke van 2008....
Vriendelike groete
THEUNS ELOFF
VISEKANSELIER
|