HOKK oudit 2009
Behalwe vir die gedrewe poging om die kernbesigheid van die NWU verder uit te bou, was die institusionele oudit deur die
Hoëronderwyskwaliteitskomitee (HOKK) in Maart 2009 waarskynlik die belangrikste gebeurtenis van 2009. Ons wag nog vir die
finale verslag, maar dis duidelik dat ons rede het om trots te wees op die manier waarop die oudit hanteer is. In hul
mondelinge nabetragtingsessie het die paneel duidelik laat blyk dat hulle baie optimisties is dat die NWU strategieë en
gehalteversekeringsmeganismes in plek gestel het wat sal verseker dat ons ons doelwitte sal bereik om 'n selfs meer
deurslaggewende rol in die hoëronderwyslandskap te speel.
Terug na bo
Hoogtepunte van die jaar
Kgosi Leruo Tshekedi Molotlegi, Koning van die
Koninklike Bafokeng-stam, is op 17 September 2009 tydens 'n
prestige-geleentheid as die tweede Kanselier van die Noordwes-Universiteit ingehuldig.
Die Universiteit is vir die derde jaar in 'n ry deur PricewaterhouseCoopers as die bes-korporatief bestuurde universiteit in Suid-Afrika aangewys.
Wat die kernbesigheid betref, sal enige terugblik op 2009 beslis oorwegend positief wees. In die lig van die NWU se
uitstekende prestasie t.o.v. ons kernbesigheid in 2008 kan ons voortgaan om op daardie stewige grondslag voort te bou. Oor
onderrig-leer moet gesê word dat ons nog wag vir meer duidelikheid oor die vlak van die eerste groep studente wat die
Nasionale Senior Sertifikaat behaal het - wat moontlik 'n negatiewe uitwerking op ons voorgraadse slaagsyfer kan hê. Ek sal
vroeg in 2010 kan terugvoer gee hieroor. Betreffende navorsing lyk dit of ons 2008 se uitstekende uitsette ten minste sal kan
ewenaar - en dit op al drie kampusse. Die enigste teleurstellende elemente van die 2008-uitslae - minder meestersgrade en
PhD's - kan moontlik verbetering toon in 2009.
In 2009 het ons ononderbroke akademiese aktiwiteite en stabiliteit op al ons kampusse ervaar. Op die Mafikengkampus
(waar verlede jaar probleme ondervind is) kan dit toegeskryf word aan die klem op die verbetering van kommunikasie en
verhoudinge met alle belanghebbendes, veral die studente.
Alle belanghebbendes het aandag gegee aan kwessies rondom transformasie en sosiale kohesie. Dankie aan alle personeel
wat die industriële teater-sessies bygewoon het en wat deelgeneem het aan die derde oudit oor sosiale kohesie. Die Bestuur,
en die Raad in die besonder, sal voortgaan om aandag te gee aan hierdie belangrike kwessies.
Terwyl die NWU binnekort sy sesde "verjaarsdag" vier, was die Potchefstroomkampus in September vanjaar reeds 140 jaar
oud.
Ten spyte van die ekonomiese resessie lyk dit asof ons die finansiële jaar weereens met 'n redelike surplus gaan
afsluit. Daarbenewens het die NWU (vir die eerste keer sedert die middel 90's) 'n substansiële bedrag (R212m) van die
Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) ontvang met die oog op infrastruktuurbefondsing vir die tydperk 2010-2012.
Ingevolge die ooreenkoms met die DHOO gaan ons uit eie fondse ongeveer R60m by hierdie bedrag voeg. Ek beoog om in die eerste
nuusbrief van 2010 meer inligting te verskaf oor die aanwending van hierdie fondse. In 2009 is weereens goeie vordering
gemaak wat betref regstelling ten opsigte van geboue en fasiliteite en infrastruktuurontwikkelings op al ons kampusse.
Terug na bo
Akademiese programbelyning
Na afloop van diepgaande besprekings in CARS (C_coordination/koördinering; A=alignment/belyning;
R=rationalisation/rasionalisering] gedurende die afgelope twee jaar moes die spesifieke voorgraadse programme, kurrikulums en
modules voorgelê word aan die Institusionele Komitee vir Akademiese Standaarde (IKAS) vir formele goedkeuring teen Junie 2009
met die oog op die implementering van hierdie programme in 2010 (volle implementering sal onmiddellik geskied).
Met die formele gedeelte op voorgraadse vlak reeds afgehandel, is die fakulteite nou besig met die finalisering van hul
gedetailleerde planne vir die implementeringsproses en werk hulle aan die belangrike kwessie van kommunikasie met studente.
Die moontlike regsimplikasies word ook in gedagte gehou, met die klem daarop om studente nie in die proses te benadeel nie.
Dit sal eenmalige aksies insluit, soos addisionele assesseringsgeleenthede en deeglike voorligting oor kurrikulumsamestelling
aan studente wat modules neem wat besig is om uitgefaseer te word.
Die volgende beginsels/vertrekpunte word gebruik om die
proses te ondersteun en om die verwagte probleme te voorkom:
Die wysigings aan programme en kurrikulums as gevolg van die belyningsproses mag onder geen omstandighede 'n student
se studieprogram uitrek of duurder maak nie.
Die nodige buigsaamheid en regverdigheid sal tydens kurrikulumhersieningsprosesse aan die dag gelê word om te
verseker dat die studietydperk van studente nie verleng word suiwer as gevolg van die belyningsproses nie (terwyl daar seker
gemaak moet word dat die vereiste uitkomste wel behaal word).
Module-eienaars sal daarvoor verantwoordelik wees om te verseker dat volledige inligting oor veranderings in
modulekodes, die vervanging van modules deur ander modules, of enige ander wysigings aan die kurrikulums van programme wat
studente raak wyd beskikbaar gestel word tesame met finale besluite wat 'n invloed sou kon hê op kurrikulumhersiening. Met
hierdie doel voor oë sal 'n volledige lys name en kodes van bestaande modules gekoppel aan nuwe modules (name en kodes)
beskikbaar gestel word aan studente vir gebruik gedurende die tydperk van kurrikulumhersiening.
Dit is programeienaars se verantwoordelikheid om studente betyds in te lig oor programme wat vanaf 2010 uitgefaseer
word - asook oor die hantering van alternatiewe.
Waar modules uitgefaseer word, sal herevalueringsgeleenthede geskep word vir studente wat nie sodanige modules in die
eerste en tweede semesters van 2009 voltooi het nie - ten einde 'n gladde oorgang na die nuwe program/kurrikulum te verseker
sonder dat ekstra tyd of uitgawes met betrekking tot die program/kurrikulum op die hals gehaal word.
Sodra oorleg gepleeg is oor hul programme/kurrikulums vir 2010, en dit gefinaliseer is, sal studente 'n verklaring
moet onderteken dat hulle die wysigings verstaan en aanvaar.
Vir 2010 bly die fokus op die monitering van die implementering van die voorgraadse programbelyning wat alle fasette
aanbetref. Daarna sal voortgegaan word met nagraadse programbelyning in ooreenstemming met die HOKR.
Terug na bo
Samesmelting (uiteindelik) voltooi!
Die NWU het in die afgelope ses jaar gevorder van 'n saamgesmelte instelling na een van die toonaangewende universiteite in
die land. Die onlangse konferensie oor samesmeltings wat deur die Tshwane Universiteit van Tegnologie aangebied is, het
weereens gewys dat die NWU die sektor ver vooruit is wat betref kernbesigheid, stelsels en prosesse.
Dit is interessant dat
die NWU die enigste instelling was wat statistiek verskaf het oor
suksesse van die samesmelting (insluitende voorgraadse
slaagsyfers, navorsingsuitsette, innovasie-aktiwiteite en finansiële
stabiliteit) vir die Mail and Guardian se bylaag oor
hoër onderwys wat gelyklopend met die konferensie verskyn het. Ons het
ook 'n laaste vergadering gehad met die Departement van
Hoër Onderwys en Opleiding se Samesmeltingseenheid. Ek is bly om te
kan berig dat die amptenare - wat aan die Minister gaan
verslag doen - oor die algemeen uiters tevrede wat met die suksesse
wat tot dusver behaal is.
Terug na bo
Studente-inskrywings
Die besonderhede van die 2009-studente-inskrywings is soos volg (met slegs die afstandkomponent wat nog sal afkom):
| Kampus |
Totale kontak |
Totale afstand* |
Totaal 2009 |
| Mafikeng |
6,552 |
1,721 |
8,273 |
| Potchefstroom |
17,157 |
32,361 |
49,518 |
| Vaaldriehoek |
3,714 |
864 |
4,578 |
| NWU totaal |
27,423 |
34,946 |
62,369 |
* Hierdie is voorlopige syfers: nie alle Verdere Onderwysersopleiding-studente is noodwendig aktief nie omdat hulle sou kon
verkies om nie vanjaar eksamen te skryf nie.
Intussen moes alle instellings hul inskrywingsplanne tot en met 2013 aan die DHOO voorlê. Met betrekking tot kontakstudente
het die NWU matige groei getoon tydens die samesmeltingsfase. Tussen nou en 2013 behoort 'n gemiddelde groeikoers van 4,8% per
jaar behaal te word. Ten opsigte van afstandsonderrig (Voortgesette Onderwysersopleiding) oorskry die aansoeke die toegelate
studentetalle, en sal ons nuwe teikens met die DHOO moet beding (om en by 20 000 studente).
Terug na bo
Die pad vorentoe
As ons vorentoe kyk na 2010 staan die volgende sake uit:
Institusionele plan 2010-2012
Die 2010-2012 Institusionele Plan is deur die Raad goedgekeur. Dit is ons gebruik om vir onsself teikens te stel en na te
streef; die Bestuur is gevolglik in die proses om prestasieooreenkomste vir 2010 te finaliseer.
In 2010 beoog die
Institusionele Bestuur om in die besonder op die volgende intervensies te fokus:
Finaliseer en internaliseer 'n
transformasiehandves; ontwikkel en ontplooi 'n veldtog vir die
bevordering van
transformasie en sosiale kohesie teen Junie 2010.
Implementeer die handelsmerkessensie en
handelsmerkposisionering van die NWU regoor die instelling om 'n
gedeelde
handelsmerkervaring op 'n deurlopende basis te bewerkstellig, en
verbeter en belyn belanghebberbestuur (veral m.b.t. die
regering) en -verhoudinge buite sowel as binne die instelling.
Verfyn die parameters vir 'n
langtermynontwikkelingstrajek vir elke kampus, met inbegrip van
diversiteit, PKM,
politieke, ekonomies en maatskaplike behoeftes.
Verbeter die gehalte van onderrig-leer op 'n deurlopende basis.
Finaliseer programbelyning op alle vlakke op al drie kampusse ten einde gehalte te verbeter.
Bevorder studente se bereidheid om toegang op 'n buigsame en verantwoordelike wyse te verbeter.
Finaliseer 'n raamwerk vir innoverende leer in
die konteks van die oop en afstandsleermodel as 'n afleweringsmodus, en
verbeter die deelnamekoers.
Stuit die afname in die aantal PhD- en meestersgraadstudente, en draai die situasie om.
Maak werk van die gehaltebestuursgapings wat in
die 2009 Institusionele Oudit deur die HOKK geïdentifiseer is - in
ooreenstemming met die betrokke projekplan en die HOKK se formele
ouditterugvoer.
Normering: Ontwikkel en bepaal breë kategorieë
van akademiese personeel/ondersteuningspersoneel-ratio's teen Junie
2010.
Programbelyning
Die fokus bly steeds op die monitering van die implementering van die voorgraadse programbelyning wat alle fasette aanbetref.
Daarna sal voortgegaan word met nagraadse programbelyning in ooreenstemming met die HOKR.
Die FIFA-wêreldbeker
Die FIFA-wêreldbeker het reeds 'n impak op ons beplanning. Ons sal ekstra hard moet werk om seker te maak dat ons alle
verpligtinge nakom. Ons behoort binnekort te verneem of die Spaanse span gaan gebruik maak van die Hoëprestasie-instituut se
fasiliteite en akkommodasie op die Potchefstroomkampus. Indien wel, sal dit baie positief vir die hele NWU wees. Daar is ook
'n kans (hoewel gering) dat akkommodasie op die Mafikeng- en Vaaldriehoekkampus gebruik kan word vir FIFA 2010.
Nuwe Kampusrektore
Ons gaan ook twee nuwe kampusrektore hê in 2010. Professor Herman van Schalkwyk, tans Dekaan van die Fakulteit Natuur- en
Landbouwetenskappe by die Universiteit van die Vrystaat, is vir 'n termyn van ses jaar aangestel as nuwe Rektor van die
Potchefstroomkampus. Professor Thanyani Mariba, tans Dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van
Pretoria, is aangestel as nuwe Rektor van die Vaaldriehoekkampus. In sy geval net vir 'n vyfjaartermyn aangesien hy reeds oor
vyf jaar aftreeouderdom bereik.
Met die proses van die aanstelling van nuwe
kampusrektore is die NWU in wese besig om die postsamesmeltingsfase te
betree.
Ons neem afskeid van die eerste senior lede van die bestuur wat die
samesmelting maak werk het en ons kry twee nuwe leiers
wat nie van die begin af betrokke was nie. Dit sal noodwendig lei tot
nuwe idees en innovasie, iets wat ons as universiteit
sterk onderskryf deur ons slagspreuk "Innovasie deur diversiteit".
Ek wil van die geleentheid gebruik maak om alle
personeellede te bedank wat aan die einde van die jaar gaan aftree - maar proff. Annette Combrink en Piet Prinsloo in die
besonder, sowel as dr Maarten Venter, Uitvoerende Adviseur - vir die rol wat hulle gespeel het om die NWU een van die beste
universiteite in die land te maak.
Terug na bo
Dank aan personeel
Kollegas, laat ek ook sommer die kans gebruik om u te bedank vir al die harde werk van die laaste aantal jare.
As blyk van
ons waardering het die Bestuur met die volle steun van die Raad besluit om ex gratia-verlof aan alle personeel toe te staan
gedurende die 2010-sokkerwêreldbeker vir die tydperk van 28 Junie tot 9 Julie.
In gevalle waar noodsaaklike dienste gelewer moet word, sal die verlofekwivalente (10 werksdae) in kontant uitbetaal word.
Diesulke persone moet deur hul lynbestuurder geïdentifiseer word en dan deur die onderskeie IB-lede bevestig word.
Terug na bo
Ten slotte
Op 'n persoonlike noot: My tweejaartermyn as HESA-voorsitter is iets van die verlede. In 2010 behoort ek dus meer tyd te hê om
op die NWU se kernbesigheid te fokus. My voorsitterskap van die Association of Commonwealth Universities (ACU) sal gelukkig
nie dieselfde eise aan my tyd stel as wat die afgelope twee jaar met HESA die geval was nie.
Ons missie om 'n gebalanseerde onderrig-leer- en
navorsingsuniversiteit te word, en ons kundigheid op 'n innoverende
manier te
implementeer, is binne bereik. Ons strategie om op ons kernbesigheid te
fokus terwyl ons volhoubare transformasie nastreef,
het ook vrugte afgewerp - soos wat duidelik blyk uit die nasionale
erkenning wat ons in die afgelope twee jaar gekry het.
In die volgende vyf jaar behoort ons die regte balans tussen onderrig-leer en navorsing te bewerkstellig. In 2008 het ons 'n
voorgraadse sukseskoers van 81,2% bereik, maar ons wil verder daarop voortbou. Ons gepubliseerde artikelekwivalente het
verbeter vanaf 275 in 2004 tot 512 in 2008, maar daar moet nóg meer gedoen word met betrekking tot navorsingsproduktiwiteit.
Die feit dat 11% van akademiese personeel oor NNS-graderings beskik, bied 'n goeie grondslag hiervoor. Wat gehalte en
doeltreffendheid aanbetref, is daar altyd ruimte vir verbetering.
Met betrekking tot transformasie sal die regstel-proses
verdere momentum kry op die Mafikeng- en Vaaldriehoekkampus. Dit sluit in infrastruktuur, die studente-ervaring en gelykheid
van akademiese uitsette. Die bereiking van groter diversiteit in die personeel se demografie bly 'n uitdaging wat met ywer
aangepak sal moet word.
Ons betree ook 'n nuwe era wat betref gemeenskapsbetrokkenheid en internasionalisering. Dit is
duidelik dat 2010 (weereens) 'n jaar vol uitdagings gaan wees...
Terug na bo
Geniet die ruskansie saam met u geliefdes; ek hoop u kry genoeg kans om u kragte op te bou vir al die nogal aansienlike
uitdagings van 2010!
Vriendelike groete
THEUNS ELOFF Visekanselier
|