
Beste meesterstudent in die land
Sy navorsing vir 'n meestersgraad in Toegepaste Wiskunde het Gabriel Mogalakwe van die Noordwes-Universiteit se Mafikengkampus 'n Toekenning vir Akademiese Uitnemendheid as die beste meesterstudent in die land besorg.
Gabriel het hierdie toekenning van mnr Nathan Sassman, Programdirekteur van SANHARP ("South African Nuclear Human Asset and Research Programme"), by die 2012-toekenningseromonie ontvang wat op 4 Maart 2012 by die Alfa-konferensiesentrum in Pretoria gehou is.
Die doel van die Toekennings vir Akademiese Uitnemendheid is om erkenning aan hoogstaande nagraadse navorsing in die kernsektor te gee. Gabriel se navorsing getiteld "The applications of life group methods to problems in fluid mechanics” is onder leiding van prof Masood Khalique van die NWU se Departement Wiskunde en Toegepaste Wiskunde op die Mafikengkampus gedoen.
Die toekennings is 'n inisiatief van SANHARP, in samewerking met die Nasionale Departement Wetenskap en Tegnologie en die Nasionale Navorsingstigting (NNS). SANHARP is 'n pionier wat die beheer van kernenergie betref en werk saam met navorsers en akademici van verskillende nywerheidsektore en hoëronderwysinstellings in Suid-Afrika.
Gabriel, wat tans as 'n PhD-student in Toegepaste Wiskunde ingeskryf is, sê dat hy "baie opgewonde oor die toekenning [was] en graag verder wil studeer en tot kernnavorsing wil bydra".
Gabriel Mogalakwe


