
Rektor is Noordwes se Landboukundige van die Jaar
Prof Herman van Schalkwyk, rektor van die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit, is pas deur die Landbouskrywers Suid-Afrika, as die Noordwesprovinsie se Landboukundige van die Jaar aangewys.
|
Ernst Janovoksy, hoof van ABSA Agribesigheid, oorhandig die toekenning van Noordwes se Landboukundige van die Jaar aan prof Herman van Schalkwyk, rektor van die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit. |
Volgens die Vereniging, word dié gesogte toekenning aan Van Schalkwyk toegeken vir sy verdienstelike landboukundigheid wat ander kan inspireer. Hulle meen hy het bewys wat bereik kan word deur goeie beplanning en onvermoeide toepassing, in verskeie omstandighede en omgewings.
Landbouskrywers SA is 'n vereniging vir joernaliste en ander belanghebbendes in die landboumedia en wys al vir meer as 30 jaar 'n nasionale boer- en landboukundige van die jaar aan. Van Schalkwyk is nou ook een van nege kandidate wat in aanmerking kom vir die nasionale toekenning, wat op 11 November in Kaapstad aangewys word, na sy benoeming as die provinsiale wenner.
Dié professor is in Februarie 2010 as rektor by die NWU-Potchefstroomkampus aangestel, waar hy sedertdien sy staal gewys het deur verskeie nuwe inisiatiewe van stapel te stuur.
Van Schalkwyk is ook ‘n boer in murg en been, en bedryf ‘n beesboerdery op sy plaas buite Dealesville in die Vrystaat. Hy is ’n gewilde spreker en gas by landboukongresse en werkwinkels en tientalle artikels vir die populêre media het al uit sy pen gevloei. Hy lewer ook die afgelope jaar ’n weeklikse bydrae op OFM radiostasie met Pieter Möller oor aktuele sake in die landbou. Van Schalkwyk is tans die besturende direkteur van Aginfo (handeldrywend as AMT), wat op ’n weeklikse basis prys- en markneigings in Landbouweekblad publiseer. “Hierdie toekenning is vir my ‘n reuse eer, en erkenning vir die harde werk wat tot dusver in die Noordwesprovinsie gedoen is. Ons het egter nog groot planne, en wil verseker dat dié Provinsie se rol in landbou groter uitgekring word,” sê hy.
Sy betrokkenheid by talle provinsiale en nasionale instansies word hoog aangeslaan. Hy is onder andere in 2007 deur die minister van landbou as lid van die Nasionale Landboubemarkingsraad aangestel en in 2008 as die adjunkvoorsitter van die raad van die Landbank. Hy het ook vir 18 maande as voorsitter van die raad van die Landbank waargeneem. Van Schalkwyk is ’n konsultant vir die Wêreldbank en ander Suid-Afrikaanse instansies, asook ’n spesialis in landbou- en -verwante hofsake.
As gerekende landbou-ekonoom en akademikus, het hy reeds ses akademiese boeke geskryf, sowat 70 publikasies in wetenskaplike joernale en 117 navorsing- en projekverslae gepubliseer. Hy het ook 77 referate by plaaslike konferensies en 38 by internasionale konferensies gelewer en was promotor en medepromotor vir 24 PhD-studente en studieleier of mede-studieleier vir 32 meestersgraadstudente.


