30 September 2016

 

NWU Raadsnuusbrief

 

Om jou op hoogte te bring met alles wat tydens die mees onlangse Raadsvergadering op 22 September bespreek en besluit is.

 

Hersiene inskrywingsplan van die NWU

Die Raad het die hersiene inskrywingsplan via rondomtalie op 8 September 2016 goedgekeur. Die inskrywingsplan is met 'n meerderheidsgoedkeuring aanvaar en gevolglik aan die Departement vir Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) voorgelê.

Nuwe Raadslid deur ondersteuningspersoneel verkies

Mnr FJ (Frans) du Preez het op 21 Junie 2016 uit die Raad bedank. Die nodige nominasie- en verkiesingsprosesse is gevolg en mnr AF (Des) Ayob is na behore as lid verkies vir 'n driejaar-termyn, vanaf 13 September 2016 tot 19 September 2019.

Raadslid in die Institusionele Forum

Met die verstryking van ds SA Musa se termyn op die Raad op 21 Junie 2016, het 'n vakature in terme van par 24(1)(a) van die Statuut vir 'n Raadslid in die Institusionele Forum ontstaan.
Die Raad het ds David Dinkebogile genomineer om as Raadslid op die Institusionele Forum te dien, op voorwaarde dat die Vaaldriehoekkampus 'n ander kandidaat moet nomineer om die vakature wat hy as lid van die Vaaldriehoekkampus op die Forum laat, te vul.

HOKK: Finale afsluiting van NWU se institusionele oudit

Die Raad het 'n brief van die Raad op Hoër Onderwys ontvang en genoteer. Die Hoër Onderwys Kwaliteitskomitee (HOKK) het die afsluiting van die NWU se institusionele oudit tydens sy vergadering op 7 Julie 2016 goedgekeur.

Die HOKK het sy waardering uitgespreek oor die ernstigheid waarmee die universiteit die voorstelle wat uit die ouditverslag voortgespruit het, hanteer het, en die NWU se gewilligheid om 'n lang en veeleisende transformasieproses aan te pak. Die HOKK het die NWU geprys vir die werk wat reeds gedoen is om 'n identiteit as unitêre instelling te vestig, en het die universiteit aangemoedig om deur sy pogings 'n positiewe klimaat te skep en voort te gaan om sinergie tussen die aktiwiteite wat op sy drie kampusse plaasvind, teweeg te bring.

Eenpersoonkommissie om gebeure op die Mafikengkampus te ondersoek

Op 11 Maart 2016 het die Raad die Uitvoerende Komitee (Exco) 'n mandaat gegee om 'n eenpersoonkommissie aan te stel om die gebeure by die NWU, spesifiek die Mafikengkampus, te ondersoek met die doelwit om die gebeure deeglik aan te teken en 'n riglyn vir die pad vorentoe te gee.

Lees meer...

Hersiening van die NWU-statuut

Die Raad het op 22 Junie 2016 'n mandaat aan die Exco gegee om 'n verfyningskomitee bestaande uit regskenners aan te stel om 'n finale teks vir oorweging deur alle relevante belanghebbers daar te stel.

Die Verfyningskomitee het die finalisering van die teks op 30 Augustus afgehandel, waarna 'n konsultasiefase begin het.

Verskeie strukture is genooi om insette oor die hersiene konsep van die Statuut te lewer vir die Raad se oorweging.

Die Raad het besluit om die hersiene Statuut in beginsel goed te keur sodat die institusionele registrateur kan begin om met die DHOO te skakel en te konsulteer ooreenkomstig met die Departement se aanvanklike terugvoer oor die Statuut, wat in ag geneem kan word in die finaliseringsproses. Die Statuut sal dus nie nou al aan die Departement voorgelê word vir goedkeuring nie, en insette van Raadslede tydens die Raadsvergadering sal in ag geneem word.


Klik hier vir 'n meer gedetailleerde verslag.

 

Ad Hoc Raadskomitee vir Herstrukturering

Die sameroeper van die komitee, mnr Flip Buys, het aangedui dat die proses steeds voortgaan en dat die Ad Hoc Raadskomitee vir Herstrukturering die Exco van die Raad sal nader met finale voorstelle. Een van die belangrikste voorstelle was dat alle raadskomitees die herstrukturering in oënskou moet neem soos dit van toepassing is op hul areas van kundigheid en hieroor aan die Raad in November terugrapporteer.

'n Aantal herstruktureringsverwante aangeleenthede is bespreek, soos onder andere die impak van die herstrukturering op die kernbesigheid en werknemers, en die risiko's wat met die herstrukturering geassosieer word.

'n Volledige verslag sal via die Exco van die Raad aan die Raad voorgelê word.

Mandaat aan bestuur om met belanghebbers te konsulteer oor die Minister se aankondiging

Die institusionele bestuur het 'n voorgestelde proses voorgelê waarvolgens die universiteit die kwessie van klasgelde in die lig van die Minister se aankondiging op 19 September sal hanteer.

Die Raad het die voorstel aanvaar en 'n mandaat aan die institusionele bestuur gegee om in 'n deursigtige konsultasieproses met studente betrokke te raak, in ooreenstemming met die Minister se aankondiging dat die klasgeldverhoging vir 2017 nie meer as 8% moet wees nie, en Universities South Africa se aanbevelings.

Die mandaat sluit ook in dat bestuur onvoorsiene gevolge en risiko's as deel van die 2017-begrotingsverslag moet lys.

Bestuur het ook 'n mandaat ontvang om met die DHOO te skakel vir meer duidelikheid oor die befondsing wat die departement in die ministeriële aankondiging bekendgemaak het. Net so belangrik is dat daar met 'n proses begin moet word om die nodige inligting in te win om te bepaal watter studente deur die DHOO befonds sal word, volgens die genoemde aankondiging en in oorleg met die DHOO.

'n Finale voorstel oor die kwessie sal via die Finansiële Komitee na die Raad verwys word vir 'n finale besluit tydens die vergadering wat vir 17 November 2016 geskeduleer is.


Lees meer...

Die volgende Raadsvergadering sal op 17 November 2016 plaasvind.

Vir meer inligting, kontak asseblief vir Amanda van der Merwe