ProfIELE

Alumnus Martin Ntwaeborwa is tans ’n professor aan die Universiteit van die Witwatersrand se Skool vir Fisika.

 

Toekennings en erkenning van oral

 

Martin het reeds meer as 100 artikels en verskeie hoofstukke in boeke geskryf, en het toekennings soos die Young Black Researcher-toekenning van die Nasionale Wetenskap en Tegnologie Forum (NWTF) in 2009 ontvang.

 

Hy is ook die voorsitter van die SA Nanotegnologie-inisiatief, lid van die keuringspaneel van die NWTF as verteenwoordiger van die onderwyssektor, raadslid van die Nasionale Sentrum vir Hoëresolusie Transmissie-elektronmikroskopie (CHRTEM), direkteur van die UNESCO-TWAS sentrum van uitnemendheid, en raadslid van die Departement van Materiaalwetenskappe by iTemba Labs.

 

Baanbreker in

nanotegnologie onthou waar hy vandaan kom

NWU-alumnus prof Martin Ntwaeborwa word plaaslik en in die buiteland beskou as ’n baanbrekernavroser op die gebied van nanotegnologie, wat ʼn totale ander wêreld is as dié van sy grootwordjare in die afgeleë dorpie van Mokasa in Taung, Noordwes.

Sy ma, Elsie Keikanetswe Ntwaeborwa, was ’n huiswerker in Gauteng, daarom was dit Martin se ouma, Louisa Mammoni Mosalanyane, wat hom en sy broers en susters grootgemaak het met die bietjie geld wat sy ma van haar stukwerk in die stad huis toe kon stuur.

 

Martin geniet dit baie om tyd saam met sy vrou, Molly, en seun, Tlotlang, deur te bring.“My kindertyd was nie maklik nie,” onthou Martin, “aangesien ons van kleintyd af, totdat ons volwasse was, deur ons werklose ouma grootgemaak is.” Hy onthou dat hy ’n graad in die laerskool moes herhaal omdat sy skoolgeld nie betaal is nie en hy dus nie die jaareindeksamen kon skryf nie.

 

Haal verlore tyd in

 

Martin was vasbeslote om die verlore tyd in te haal. “As gevolg van my uitstekende akademiese prestasie kon ek die verlore tyd inhaal toe ek van standerd 5 na standerd 7 oorgeplaas is, en só standerd 6 oorgeslaan het,” sê hy.

 

Nadat hy sy matriek voltooi het, het hy as vrywilliger by die Gabobidiwe Hoërskool in Buxton opgetree en die skool se eerste matriekklas in wiskunde, fisiese wetenskappe en biologie onderrig.

 

Die skool het ’n rekord behaal met ’n 100%-slaagsyfer in die drie vakke wat hy onderrig het.Hierdie talent vir onderrig het Martin by die voormalige Universiteit van Bophuthatswana, nou die NWU, vir ’n BSc in opvoedkunde, met hoofvakke fisika en chemie, laat inskryf. Nadat hy sy graad in 1997 verwerf het, het hy die volgende jaar ’n BScHons in fisika verwerf.

 

Aanvaar sy mentor se raad

 

Martin het ’n onderwyspos by die Senzile Hoërskool in Hertzogville aanvaar en was gereed om sy planne om vir ’n meestersgraad te studeer, uit te stel. Dit was totdat hy ’n gesprek met sy mentor, prof Dan Kgwadi, nou die NWU se visekanselier, gehad het. Ná die gesprek het hy besluit om die onderwyspos te bedank en eerder sy MSc in fisika in 2000 te voltooi.

 

Martin het dieselfde jaar by die Qwaqwa-kampus van die voormalige Universiteit van die Noorde, nou die Universiteit van Limpopo, as dosent aangesluit. Hy het daarna na die Universiteit van die Vrystaat geskuif om sy PhD te doen en klas te gee.

 

Daarna het Martin as navorsingsgenoot na die universiteite van Florida en Pennsylvania in die VSA vertrek, waar hy navorsing vir sy PhD-projek in nanowetenskap gedoen het.Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy weer by die Universiteit van die Vrystaat begin werk en sy PhD in 2006 verwerf. Martin is van senior lektor na medeprofessor bevorder en in 2012 na vol professor. Hy is tans ’n professor aan die Universiteit van die Witwatersrand se Skool vir Fisika.

 

Wat hom die meeste bevrediging gee – dis nou behalwe die tyd wat hy saam met sy vrou, Molly, en die 13-jarige Tlotlang bestee – is om voorgraadse studente te onderrig en aan nagraadse studente studieleiding te gee. Dit is daar waar hy voel dat hy die meeste impak het – om die denke van toekomstige wetenskaplikes in nanotegnologie en verwante wetenskapvelde te help vorm.

 

Dit is nie net sy intelligensie en vermoë wat hom laat uitstaan en ander inspireer om verder as die grense van hulle grootwordjare te droom nie, maar ook sy vasberadenheid om elke dag buitengewoon te wees.

die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

KLIK

DEEL

<

>

Navigasie

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

mEER INLIGTING

NWU & U  |

NWU & U  |

X

Front page

 

On the front page photograph, Stephen Bogatsu (as Tyrone Jackson) dances with Lyrinda Venter (in the role of ballet dancer Iris Kelly).

NWU & U