DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

volgende ARTIKEL

vorige ARTIKEL

KLANK

video

MEER INLIGTING

KLIK

DEEL

NUUS

Jeanne het ’n gesogte Whitley-toekenning – bekend as ’n “Groen Oscar” – vir haar navorsing oor en bydrae tot die bewaring van paddas gewen.

 

Die VK-gebaseerde bewaringsliefdadigheidsorganisasie, die Whitley Fund for Nature, ken die Groen Oscars aan individue in die Suidelike Halfrond toe. Ses omgewingsbewaarders – drie van hulle uit Afrika – het in 2020 erkenning vir hulle prestasies in natuurbewaring ontvang. Van hulle is Jeanne die enigste een wat op amfibieë fokus.

 

Die begin

 

Jeanne, wat in Durban woon en tans aan die hoof van die Bedreigde Wildlewe Trust (EWT) se program vir bedreigde amfibieë is, het in Underberg in die suidelike Drakensberg grootgeword en by Hoërskool Howick skoolgegaan.

 

Sy het haar voorgraadse studies aan Rhodes Universiteit voltooi, voordat sy vir haar nagraadse studies by die NWU se Skool vir Dierkunde ingeskryf het.

 

Hier het sy tussen 2006 en 2008 haar MSc onder leiding van prof Louis du Preez en prof Ché Weldon verwerf, en op die taksonomie (benoeming, beskrywing en klassifisering) van Lesotho se rivierpaddas gefokus.

 

Jeanne het daarna met ’n PhD oor die bewaringsevaluering van bedreigde amfibieë in KwaZulu-Natal voortgegaan, terwyl sy ook die fungussiekte chytrid by Suid-Afrika se bedreigde paddas bestudeer het.

 

Sy het in 2012 haar postdoktorale studies begin – ook by die NWU – met navorsing oor die Pickersgill-rietpadda en die Amathole-brulpadda, wat albei kritiek-bedreigde spesies is. Sy het terselfdertyd by die Bedreigde Wildlewe Trust aangesluit en die program vir bedreigde amfibieë geïnisieer.

 

Nee, nie regtig nie, prof

 

Haar studieleier, prof Louis du Preez, vertel graag die storie van hulle eerste ontmoeting toe Jeanne in 2006 die Fakulteit Natuurwetenskappe besoek het.

 

Hulle is deur prof Pieter Theron, die destydse vakhoof van Dierkunde, aan mekaar bekendgestel toe sy na ’n projek vir haar nagraadse studies gesoek het. Louis het gevra of sy van paddas hou en dit was toe dat sy haar oë gerol het en gesê het, “Nie regtig nie …”! Nodeloos om te sê, die res is nou geskiedenis.

 

Niks is so bevredigend as om te sien hoe goed Jeanne vaar nie, sê Louis. “Ek is uiters trots op wat sy bereik het. Dit is nou haar beurt om die jongmense te onderrig en op te lei.”

Paddavrou wen ’n ‘Groen Oscar’

Vir iemand wat eenkeer vir haar studieleier gesê het sy hou nie eintlik baie van paddas nie, het alumna dr Jeanne Tarrant ’n ver pad gekom. Sy het onlangs ’n internasionale toekenning vir haar navorsing oor daardie einste amfibieë gewen.

 

Hoe paddas bedreig word

 

Tans is 41% van alle amfibiese spesies in die wêreld in gevaar om uitgewis te word, wat hulle een van die mees bedreigde groepe diere op die planeet maak.

 

Jeanne meen dat die verlies aan habitat die enkele grootste bedreigings vir die amfibieë is, gevolg deur waterbesoedeling. Die gebruik van paddas in die troeteldierhandel of vir eksperimente in laboratoriums is ook ’n bedreiging wat toenemend voorkom.

 

Haar navorsing oor die bewaring van paddas het onlangs vir dr Jeanne Tarrant ’n gesogte Whitley-toekenning, ook bekend as ’n “Groen Oscar”, besorg.

 

’n Waardige wenner

 

Edward Whitley, stigter van die Whitley Fund for Nature, sê Jeanne is ’n inspirerende leier en ’n ywerige kampvegter vir amfibieë – ’n groep wat dikwels vergeet word.

 

“Ons hoop hierdie toekenning sal haar in staat stel om haar belangrike boodskap wyd en syd te versprei, en om deur middel van wetenskap, beleid, en gemeenskapsopvoeding waarlik ’n verandering vir amfibieë en hul habitat teweeg te bring.”

 

Jeanne sê sy gaan saam met ander kundiges regoor die land asook internasionaal werk, en die strategie vir die bewaring van Suid-Afrika se paddas op die wêreldwye bewaringsaksieplan vir amfibieë baseer.

 

“Dit sal behels dat daar na verskillende behoeftes gekyk sal moet word.

 

“Dit sluit navorsingsprioriteite soos taksonomie en monitering in, en dat bedreigings hanteer moet word en die behoeftes vir die beskerming van die habitat van die streek se bedreigde spesies geïdentifiseer sal moet word.

 

“Die plan sal ook op opvoeding en kapasiteitbou fokus om hierdie behoeftes te ondersteun.”

 

Die 2020 Whitley-toekenningsgeleentheid, wat gewoonlik by die jaarlikse seremonie in Londen deur die liefdadigheid se beskermvrou, haar koninklike hoogheid, die kroonprinses, oorhandig word, is as gevolg van die Covid-19-pandemie uitgestel.

 

Die wenners sal hulle befondsing nou ontvang, terwyl daar beplan word om hulle later hierdie jaar na ’n seremonie en verwante geleenthede in Londen te nooi indien omstandighede dit toelaat.

 

Wanneer sy met skoolkinders praat, is een van Jeanne se uitdagings om die mites oor paddas die nek in te slaan. “’n Baie belangrike deel van die werk wat ons doen, is om ’n waardering te kweek vir paddas en die lewensbelangrike rol wat hulle in ons ekostelsel speel.”

 

Wanneer sy nie werk nie, kyk Jeanne na haar twee seuns van 7 en 10 jaar oud. Sy is baie lief vir joga en bring graag tyd in die buitelug deur. Sy probeer ook hard om nie van haar bergfiets af te val nie, sê sy.

 

Waarom mnr Padda in werklikheid ’n prins is

 

Jeanne, wat liefderyk as die Paddavrou bekend staan, wil ’n openbare bewustheid kweek en mense se negatiewe houding verander deur die belangrikheid van amfibieë te beklemtoon.

 

“Ons wil waardering kweek vir paddas en die skakel wat hulle met die mens se gesondheid het,” sê sy.

 

“’n Padda se vel is sy eie apteek – elke spesie het ’n unieke kombinasie van afskeidings, insluitende proteïene, antiswam- en antibakteriese afskeidings, peptiede of gifstowwe. Dit beskerm die dier teen infeksies, of in sommige gevalle tree dit as ’n verdediging teen predatore op omdat dit bitter smaak of giftig is.”

 

Jeanne verduidelik dat die verbindings in ’n wye reeks toepassings in medisyne vir mense gebruik kan word. “Daar is bewyse dat verbindings van boompaddas in Australië (Litoria) die oordrag van MIV onderdruk, terwyl ander – veral van hoogs giftige spesies – uiters doeltreffende pynstillers is wanneer dit in die regte dosisse gebruik word.

 

“Dit is ’n baie aktiewe navorsingsgebied en was trouens vir verskeie Nobelpryse in medisyne en wetenskap verantwoordelik. Hierdie verbindings kan as afskeidings versamel word – met ander woorde die diere hoef nie doodgemaak te word nie, en in sommige gevalle kan hierdie stowwe sinteties vervaardig word wanneer dit verstaan word.”

 

Hierdie kêreltjie op Jeanne se hand is ’n Rose’s-bergpaddatjie – Capensibufo rosei – wat op Tafelberg aangetref word. Leon Meyer, ’n medestudent by die NWU se Afrika amfibiese bewaringsnavorsingsgroep (African Amphibian Conservation Research Group) het die foto in 2019 geneem.

INHOUD

NWU & U  |

NWU & U  |

NWU & U