X

Voorblad

 

Die gewilde musiekblyspel Fame is op 30 en 31 Augustus en op 1 en 2 September in die Sanlam Ouditorium op die kampus in Potchefstroom opgevoer en watter opwindende, onvergeetlike fees vir die sintuie was dit nie!

Die kreatiewe span verantwoordelik vir Fame, naamlik lede van Artéma, Alabama Produksies en NWU Potch Kunste, het die gehoor getrakteer op ’n reis vol wonderlike uitvoerings deur talentvolle kunstenaars, wat studente en dosente ingesluit het.

 

Alumna Nacia Kruger het hierdie opwindende produksie geregisseer en gechoreografeer, terwyl Pieter de Bruin, die kunsdirekteur van die Artéma-opname-ateljee, in beheer van die musiek was. ’n Orkes met nege musikante het die begeleiding verskaf.

Op die voorbladfoto dans Stephen Bogatsu (as Tyrone Jackson) met Lyrinda Venter (in die rol van die balletdanser Iris Kelly).

 

FOTO: Nacia Kruger

 

 

 

Redaksioneel

Prof Dan Kgwadi

Boodskap van die

visekanselier

Ons is besig om die Noordwes-Universiteit stap vir stap te verbeter. Talle belanghebbers verwelkom hierdie veranderings, terwyl ander voel dat ons ons verlede in die steek laat. Laat ek verduidelik: ons verandering na ’n unitêre universiteit was noodsaaklik en die tyd was ryp daarvoor. Ons kon nie as ’n federale instelling bly funksioneer nie. Dit was nie prakties volhoubaar nie en ook nie in ooreenstemming met dit wat ons konteks vereis nie.

 

Hierdie fundamentele verskuiwing in ons benadering is nog besig om gevestig te raak. Ons het nou ’n uitvoerende dekaan aan die hoof van elke fakulteit regoor al die kampusse. Oorkampus-skooldirekteure sal binnekort aangestel word. Ons is dus besig om die NWU te herstruktureer om die uitdagings van vandag en die volgende dekade tegemoet te gaan.

 

’n Simboliese dimensie waaraan ons aandag gee, is ons korporatiewe kleur of kleure. As unitêre instelling kan ons nie met kampuskleure en sportspanne voortgaan wat die NWU as NWU Mafikeng, NWU Pukke of NWU Vaal verteenwoordig nie. Ons glo dat ons een NWU is en dat ons simbolies eenders moet lyk.

 

Daarom het die departement Korporatiewe Verhoudinge en Bemarking vroeër hierdie jaar met ’n ontwerp- en konsultasieproses begin. Die universiteitsbestuurskomitee was tevrede met die voorstelle wat gevolg het en het dit vir ’n finale besluit na die Raad verwys. By die Raadsvergadering van 21 September is besluit dat verdere konsultasie nodig is en dat ’n voorlegging aan die Raad gemaak moet word met die volgende drie opsies: die huidige maroen, blou en groen (as kombinasie), pers (soos deur die handelsmerkkomitee aanbeveel) en een ander opsie. Die Raad het ook gesê die nuwe unitêre handelsmerk moet in 2018 geïmplementeer word. (Let daarop dat nie een van die voorstelle is dat die vorm van die logo moet verander nie.)

Watter keuse ook al gemaak word, dit sal ’n nuwe era verteenwoordig.Die kampusse wat volgens kleur gekodeer is, is nie meer ’n opsie nie, aangesien ons in die toekoms as eenheidsuniversiteit deur een kleur of kombinasie van kleure verteenwoordig wil word.

 

Alumni sal hieroor geraadpleeg word, maar ons is nie van plan om ’n referendum oor hierdie kwessie te hou nie. Mense het te veel uiteenlopende idees oor kleure en sal altyd daaroor verskil. Daarom vertrou ons ons kundiges om goeie opsies aan ons voor te lê. Ons wil egter hê dat mense hierdie idee aanvaar en wil julle graag met ons saamneem op ons reis wat begin het toe ons ons nuwe strategie en struktuur aanvaar het.

 

Dit is belangrik om te onthou dat ons nuut-ontplooide NWU-kultuur die beste van al die kampusse en kulture inkorporeer. Ons kan bloot nie dieselfde as 10 of 30 jaar gelede wees nie. Ons het aanbeweeg. Ons wil ’n beter universiteit wees vir die tyd waarin ons leef, naamlik ’n unitêre universiteit met ’n sterk verbintenis tot akademiese uitnemendheid en ’n fokus op maatskaplike geregtigheid.

 

Ons weet julle wil trots bly op julle alma mater. Ons bedank julle vir jul deurlopende lojaliteit en verbind onsself daartoe om jul ondersteuning waardig te wees.

 

Vriendelike groete,

 

Prof Dan Kgwadi

 



die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

mEER INLIGTING

KLIK

DEEL

NWU & U  |

NWU & U  |

CONTENTS

NWU & U