X

Voorblad

 

Die gewilde musiekblyspel Fame is op 30 en 31 Augustus en op 1 en 2 September in die Sanlam Ouditorium op die kampus in Potchefstroom opgevoer en watter opwindende, onvergeetlike fees vir die sintuie was dit nie!

Die kreatiewe span verantwoordelik vir Fame, naamlik lede van Artéma, Alabama Produksies en NWU Potch Kunste, het die gehoor getrakteer op ’n reis vol wonderlike uitvoerings deur talentvolle kunstenaars, wat studente en dosente ingesluit het.

 

Alumna Nacia Kruger het hierdie opwindende produksie geregisseer en gechoreografeer, terwyl Pieter de Bruin, die kunsdirekteur van die Artéma-opname-ateljee, in beheer van die musiek was. ’n Orkes met nege musikante het die begeleiding verskaf.

Op die voorbladfoto dans Stephen Bogatsu (as Tyrone Jackson) met Lyrinda Venter (in die rol van die balletdanser Iris Kelly).

 

FOTO: Nacia Kruger

 

 

 

nuus

Eric Ntumba het in Julie vanjaar aan die Afrika-Frankryk-jongleiersprogram deelgeneem. As deel van die leierskapsopleiding is die afgevaardigdes opgelei in die kuns van mediaverhoudinge en netwerking. Dit het verskeie radio- en uitsaai-onderhoude ingesluit.


“Ek sal vir altyd dankbaar wees vir die tyd en vaardighede wat in my as student op die NWU se kampus in Vanderbijlpark belê is. Dit is waar ek vir die eerste keer aan formele leierskap en veranderingsbestuur bekendgestel is.

 

“Sedertdien het ek elke geleentheid aangegryp om meer oor leierskap te leer en het ek probeer om daardie kennis op my professionele en persoonlike lewe toe te pas.”

 

 

 

Eric verteenwoordig sentraal-Afrika in Franse leierskapsprogram

Eric Ntumba is ’n man met ’n missie: om verandering na die Afrika-vasteland te bring.

Sy plan van aksie? Om aktief deel te neem aan besprekings wat ’n verskil kan maak, om die meeste te maak van elke geleentheid wat sy pad kruis, om by sy gemeenskap betrokke te wees, en om nooit op te hou om nuwe kennis te verwerf nie.

 

Hierdie NWU-alumnus is die hoof van korporatiewe, privaat en diaspora bankdienste by die Procredit Bank in die Demokratiese Republiek van die Kongo.

 

Eric het in Julie hierdie jaar deelgeneem aan die Afrika-Frankryk-jongleiersprogram met die doel om hoëpotensiaal leierskap in Afrika en Frankryk te ontwikkel. Slegs 20 jong leiers is uit meer as 600 aansoekers vir die 2017-program gekies.

 

Die NWU & U het vir Eric in Parys opgespoor, waar hy van 3 tot 7 Julie aan die program deelgeneem het.

 

Wat beteken dit vir jou om vir hierdie leierskapsprogram gekies te word?

 

Ek voel baie klein. Om vir die program gekies te word, is nie net ’n erkenning van my professionele prestasierekord tot dusver nie, maar ook ’n erkenning van my volgehoue pogings om ’n kultuur van transformasie en diensleierskap te bevorder.

 

Jy het baie op hierdie relatief jong ouderdom van 34 vermag. Watter rol dink jy moet voortgesette leierskapsontwikkeling ten opsigte van jong professionele persone soos jyself vervul?

 

Ek sien leierskapsopleiding as absoluut noodsaaklik. Daarby glo ek uitnemendheid is ’n plig en nie ’n opsie nie. Deur my leierskapsvaardighede die hele tyd op te skerp, rus ek myself toe om ’n waarneembare verskil in die lewens van ander te maak, en om met gesag te praat vir diegene wat nie ’n stem het nie.

 

Wat is jou verwagtinge van die program?

 

Ek het in 2014 aan die inleidende program van die Mandela Washington Fellowship for Young African Leaders deelgeneem en ek sien daarna uit om ’n vergelykende ontleding van die twee leerprogramme te doen.

 

Ek is ook opgewonde oor die vooruitsig van eweknie-tot-eweknie-leer deur my interaksie met die ander afgevaardigdes.

 

"My grootste verwagting is om ’n netwerk te bou van jong, eendersdenkende leiers wat die storie van Afrika sal verander."Kyk as voorbeeld na my tuisland, die DRK. Die lewe in Kinshasa, die hoofstad, is wonderlik, maar dit word deur erge armoede en deur die huidige politieke onrus en onstabiliteit geteister.

 

Laasgenoemde word veroorsaak deur die poging van die uitgaande president om aan sy mag vas te klou ten spyte van ’n duidelike grondwetlike klousule wat ’n derde ampstermyn verbied.

 

Die situasie is gespanne en as ’n land hoop ons vir die beste, aangesien die DRK beter verdien. Kortom: Ek hoop ek sal in staat wees om netwerke te bou wat kan bydra tot die pogings om die streek te stabiliseer en laat groei.

 

Hoe behou jy ’n werk-lewe-balans?

 

Ek moet erken dat dit ’n uitdaging is, gegewe die feit dat ek aan die hoof staan van een van die vinnigsgroeiende besigheidsegmente van die organisasie waar ek werk. Dit het my amper twee jaar geneem om ’n korporatiewe bankafdeling in ’n finansiële diensverskaffer gevestig te kry wat voorheen slegs op kleinhandel, klein- en mediumorganisasie- (KMO-) bankwese en mikrofinansiering gefokus het. Ek het die eerste jaar ’n gemiddelde van 75 uur per week gewerk om die span en die kantoor op te bou.

 

Ek kry balans deur gedurende die week aan sport deel te neem en naweke tyd met my gesin deur te bring. Sondag is ons gesinsdag en ons maak die meeste daarvan deur nuwe plekke te besoek, op die Kongorivier te vaar, saam te eet of tennis te speel.

 

 

Kyk gerus na hierdie video oor die interaksie tydens die Afrika-Frankryk-program.

die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

mEER INLIGTING

KLIK

DEEL

Die Ntumba-gesin, Eric, Laetitia en hulle twee kinders, Johan en Nissi, geniet ’n onlangse gesinsvakansie.


Eric op die voorpunt

 

  • As voormalige voorsitter van die Verteenwoordigende Studenteraad was Eric op die voorpunt van onderhandelinge toe die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys in 2004 met die Universiteit van Noordwes saamgesmelt het.
  • Hy het ’n BSc-graad in inligtingstegnologie van die NWU se kampus in Vanderbijlpark.
  • Eric het die NWU Raad se toekenning ontvang vir uitmuntende leierskap en diens wat hy tydens sy termyn as VSR-voorsitter aan die gemeenskap van die kampus in Vanderbijlpark gelewer het.
  • Hy het sy meestersgraad in publieke administrasie aan die toonaangewende Franse Skool vir Administrasie ontvang waar hy ook studente op die Administrasieraad verteenwoordig het.
  • Hy was in 2013 een van die eerste ontvangers van die gesogte NWU Alumni-toekenning vir Uitnemendheid.

 

 

NWU & U  |

NWU & U  |

CONTENTS

NWU & U