REDAKSIONEEL

Prof Dan Kgwadi

Boodskap van

die visekanselier

Beste alumnus,

 

Mense kla dikwels oor al die slegte nuus wat ons daagliks via die media ontvang, maar as jy na die stories in hierdie uitgawe van die NWU & U kyk, is dit duidelik dat daar baie goeienuusstories in ons NWU-omgewing is. Daarvoor kan ons baie dankbaar wees. Personeel, studente en alumni gee ons steeds rede om te glimlag.

 

Een so ’n rede is die onlangse vierster-toekenning wat die NWU van die internasionale graderingsagentskap Quacquarelli Symonds (QS) ontvang het. Die NWU het voorheen, in 2012, ’n toekenning van drie sterre ontvang. Hierdie vierstergradering bevestig die NWU se vordering met die realisering van sy droom om ’n internasionaal-erkende universiteit in Afrika te word.

 

In top 5% ter wêreld

 

Die NWU het ook die top vyf persent van universiteite regoor die wêreld gehaal. Ons posisie is 601–700 op die akademiese graderings van universiteite in die wêreld.

 

Die QS-graderingstelsel word wyd gebruik as internasionale evalueringstelsel wat universiteite evalueer. Dit gee aan studente ’n onpartydige, bewysgebaseerde gradering wat hulle kan help om ’n universiteit te kies.

 

In die jongste gradering is die NWU in die volgende vyf kategorieë geëvalueer: ’n spesialis-vakgebied; navorsing; onderrig; indiensneembaarheid; internasionalisering; fasiliteite; innovasie; en maatskaplike verantwoordelikheid.

 

Vyf sterre hiervoor

 

Die NWU het vyf sterre in die kategorieë vir onderrig, indiensneembaarheid, innovasie en fasiliteitekategorie behaal. In die kategorie vir onderrig het studente ’n hoë vlak van tevredenheid gerapporteer – met hulle oorkoepelende ervaring sowel as met ons onderrig-leer-aanbieding.

 

Vir indiensneembaarheid het die universiteit volpunte behaal in die aanwyser wat op werkgewers se teenwoordigheid op kampusse dui. Dit is as gevolg van die meer as 200 maatskappye wat jaarliks die NWU se kampusse vir die moontlike indiensneming van studente besoek.

 

Die NWU se geriewe is uitstekend, met sportgeriewe van wêreldgehalte en ’n goeie hoeveelheid studenteverblyf, asook ’n goeie inligtingstegnologie-infrastruktuur, studente-ondersteuningsgeriewe en ’n wye verskeidenheid studenteverenigings.

 

Die NWU is ’n innovasieleier met ten minste 50 aktiewe patente, meer as 500 bedryfsnavorsingsamewerkings en ten minste vyf newemaatskappye wat in die afgelope vyf jaar gestig is.

 

Hoewel hierdie positiewe evaluering ’n welkome erkenning is van die werk wat by die NWU gedoen word, is daar ook gebiede geïdentifiseer waar ons moet verbeter. Ons kan nooit selftevrede wees nie. Die mededinging is straf en die uitdagings moeilik.

 

Wees verseker dat ons deurgaans daaraan werk om te verbeter sodat jy op jou alma mater trots kan wees.

 

 

Prof Dan Kgwadi

Visekanselier

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

MEER INLIGTING

KLIK

DEEL

NWU & U  |

NWU & U  |

NWU & U