X

Profiel

Alumnus Marcel Spaumer sê hy wil graag meer televisiereekse ontwikkel en ’n teks, ’n roman en sy eie versameling gedigte skryf.

“Ek wens meer mense wil vir ’n ruk lank in ’n koshuis bly waar almal verskillend grootgemaak is, maar dieselfde doelwit deel: om te studeer en deel van die groep te wees. Jy kom baie gou agter dat jy nie die enigste mens in die wêreld is nie. So leer jy ’n wonderlike les oor verdraagsaamheid.”

Tweeling se talent skitter in

vermaaklikheidsbedryf

’n Alumnus van die NWU gebruik sy skryftalent om lewe (en punt-van-jou-stoel-drama) te blaas in karakters in die gewilde Suid-Afrikaanse sepie, Suidooster.

Broers in die vermaaklikheidsbedryf. Marcel en Marco Spaumer het onderskeidelik vir hulle loopbane in skryf en toneelspel uitgekerf.

Marcel Spaumer en sy tweelingbroer, Marco, wat in dieselfde reeks optree, is bewys dat talent ’n familietrek is. Die NWU & U het met hulle oor hulle parallelle lewens as skrywer en akteur gepraat.

 

Marcel verdien sy brood met dit wat hy die meeste geniet, naamlik skryfwerk. As storie-ontwikkelaar vir die KykNET-sepie leef hy sy passie uit en geniet hy elke oomblik daarvan.

 

“Ek was bevoorreg om deel te wees van die span wat die konsep agter Suidooster ontwikkel het, en dit was wonderlik om te sien hoe dit een van die gewildste sepies op televisie geword het.”

As deel van ’n klein span behels ’n dag in sy lewe om nuwe storielyne, episodes en tonele uit te dink. “Dit is beslis nie die maklikste ding wat ek al gedoen het nie; realiteit verskil baie van teorie, maar dit is ’n baie opwindende en lonende beroep.”

 

Wanneer hy nie aan Suidooster skryf nie, kry hy tyd om gedigte en toneelstukke vir tieners te skryf. ’n Paar van sy gedigte sal in ’n nuwe bundel, Nuwe Stemme 6, verskyn.

 

Leer om te toor met taal

 

Vir sy voorgraadse studies aan die NWU het Marcel op taal en letterkunde gefokus, en toe ’n honneursgraad in Afrikaans en Nederlands verwerf.

 

Hy wou meer kreatief wees met sy meestersgraad en het besluit om oor die aard en skryfproses van die eenpersoondrama navorsing te doen. Dit het hom toegerus om sy eerste eenpersoondrama te skryf en die basis vir sy werk as skrywer gelê.

 

Aangename herinneringe aan die NWU

 

“Wanneer ek aan die NWU dink, is my eerste herinneringe die talle lesings in Afrikaans. Ek onthou hoe mal almal oor die vak was en hoe almal gedink (en gehoop) het hulle verstaan Breyten Breytenbach se werk. Ons was beslis ’n kreatiewe spul wat net wou stories vertel en mekaar vermaak.”

 

Hy sê die koshuislewe staan ook uit. “Ek het gehou van Sêr en om op Ratau Lebone se huiskomitee te dien. Ek sal altyd onthou hoe ons maande lank gerepeteer het net om tydens Sêr-kompetisies ’n paar minute op die verhoog te verskyn.”

 

As hy aan sy studentedae terugdink, sê Marcel hy sal dit alles weer oordoen.

“Die aande het so lank gevoel, maar wanneer dit by studies en akademiese werk kom, was dit verrassend kort. Daar was absolute vryheid op kampus en in ons klasse. Potchefstroom was die een plek wat ek as my huis beskou het, en ek was werklik hartseer toe ek moes weggaan.”

 

Hy sê die NWU met sy uiteenlopende studente en personeel het hom geleer dat mense verskil, en dit is presies hoe dit moet wees.

 

Marco in die kollig

 

Die ander Spaumer-broer, Marco, ook bekend as Tim du Plooy van Suidooster, sê wat hy die meeste van sy werk hou, is om elke dag voor die kameras te wees. “Ek is ’n baie skaam persoon en toneelspel dwing my om buite my gemaksone te beweeg. Dit is baie opwindend.”

 

Marco het musiekteater in Pretoria studeer en met ’n paar produksies vir kinders begin. Ná ’n klein rolletjie in die sepie 7de Laan het Marco as aanbieder vir KykNET gewerk.

 

Sy loopbaan het geblom, en hy het rolle in ’n ander sepie, Binnelanders, en die musiekblyspel As jy sing losgeslaan. Hy het ook aan KykNET-programme soos Kollig, Bravo en KykNET Sêr gewerk. As ’n teaterakteur is sy talente aangewend in suksesvolle produksies soos SAND by Universiteit Stellenbosch se Woordfees, en Sak & Pak in die Staatsteater in Pretoria.

 

Broers in die vermaaklikheidsbedryf

 

Marcel en Marco glo nie in wedywering tussen broers nie. “Ons is gelukkig as een van ons ’n geleentheid kry.”

 

Dit is waarom die talentvolle duo glo dit is tot hulle voordeel om in dieselfde bedryf te werk. Soos broers maar maak, sien hulle na mekaar se belange om.

 

 “Ons hou van dieselfde goed en werk goed in ’n span saam. Ons hoop om meer geleenthede te hê om saam te werk. Ons drome is om saam ’n boek te skryf en saam in ’n fliek te speel. ’n Ander groot wens is om saam musiek te maak.”

die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

KLIK

DEEL

<

>

Navigasie

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

mEER INLIGTING

Marco Spaumer speel die rol van Tim du Plooy in die sepie Suidooster.

NWU & U  |

NWU & U  |