X

Nuus

Die Sokkerinstituut op die kampus in Mahikeng spog met vier afrigters en 62 spelers.

“Elke dag bring uitdagings wat jou aanspoor om al hoe harder te werk om jou doelwitte te bereik.”

 

- Vuyu Sambu

Dit word die pragtige spel (beautiful game) genoem. Dit is hier waar die verhewe die goddelike ontmoet, soos ’n mens met Pelé se bicycle-skop en Maradona se hand of God kan sien.

“Sommige mense dink sokker is ’n saak van lewe en dood. Ek hou nie van daardie sienswyse nie. Ek kan hulle verseker dis baie ernstiger as dit,” het die legendariese sokkerspeler Bill Shankly eenmaal gesê.

 

Min sportsoorte ontlok soveel passie as sokker, en op die NWU se kampus in Mahikeng is die bekende Sokkerinstituut besig om passie in prestige om te skakel.

 

Die instituut se bestuurder, Vuyu Sambu, is reeds sedert die ontstaan van die Sokkerinstituut in 2007 deel daarvan, toe hy ’n speler was terwyl hy sy studies voltooi het.

 

Skiet vanuit verskillende hoeke

 

As speler was Vuyu veelsydig en kon hy met gemak tussen posisies wissel. As ’n bestuurder is dit nog steeds dieselfde, en sy vermoë om by al sy verskillende administratiewe en leierskapsverantwoordelikhede uit te kom, het die Sokkerinstituut een van die juwele in die provinsie se sportkroon gemaak.

 

“Toe dit tyd raak om ’n nuwe bestuurder aan te stel, het ek genoeg ervaring gehad om die rol te vervul,” verduidelik hy.

Die instituut het vier afrigters, met die Nigeries-gebore Ayodeji Ojo in beheer van die eerste span. ’n Totaal van 62 spelers – 26 in die eerstespangroep, 18 in die B-span en 18 in die vrouespan – noem die grasgroen velde van die Sokkerinstituut hul tuiste.

 

Skop hier af

 

In 2009 het die Sokkerinstituut vir die eerste keer deelgeneem aan die Universiteitesport Suid-Afrika- (USSA-)kampioenskappe, waarvoor hulle die gasheer was en wat hulle gewen het. Hulle het in 2010 hulle titel met sukses in Grahamstad verdedig, met Vuyu Sambu in beide gevalle aan die stuur as kaptein.

 

“Ek het ’n sagte plek vir die instituut in my hart, want dit is waar my loopbaan begin het. Ek het baie passie daarvoor; dis my tuiste,” sê hy ernstig. Die instituut hou gereeld sokkerklinieke waar afrigters geleer word om skoolspanne af te rig. Hierdie klinieke is ’n stap in die regte rigting, hoewel Vuyu baie ernstig is daaroor dat sokkerontwikkeling in die provinsie ’n marathon is, nie ’n naelloop nie.

 

’n Lang pad lê voor

 

“Ons moet nog ’n ver pad loop ten opsigte van sokkerontwikkeling in die provinsie,” sê hy, en voeg by dat Noordwes laag op die rangorde is vergeleke met ander provinsies. “Die Sokkerinstituut kan nie alleen vir die ontwikkeling van sport in die provinsie verantwoordelik wees nie. Ons het ander belanghebbers, skole en die provinsiale regering nodig om meer toewyding te toon en meer fondse beskikbaar te stel om sokker in Noordwes te ontwikkel.”

 

Dit is advies waarna die verskillende rolspelers in die provinsie gerus kan luister, want die suksesverhale van alumni van die Sokkerinstituut sluit in Orlando Pirates se middelveldspeler, Thabo Rakhale, Supersport United se voorspeler, Thabo Mnyamane en die doelwagter, Boalefa Pule, asook Platinum Stars se verdediger, Luvolwethu Mpeta, en Bidvest Wits se middelveldspeler, Xola Mlambo.

 

’n Nuwe geslag wil nou hierdie Premier-sokkerligasterre se voorbeeld volg – spelers soos Wendelle Martin, Sifiso Ngwenya, Vincent Langa, Khuzi Mashabela en Michael Smit, wat almal deur die Sokkerinstituut gewerf is. Hulle is talentvolle jongmense met ’n blink toekoms, danksy hierdie instituut.

 

Gelukkig is Vuyu Sambu daar om hulle op hul pad te lei – iemand wat die nuanses van hierdie kuns bestudeer het. “Dit is nie ’n spel sonder kinkels nie,” sê hy. “Elke dag bring uitdagings wat jou aanspoor om al hoe harder te werk om die doelwitte van hierdie pragtige spel te bereik.”

 

Die pragtige spel

die NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

KLIK

DEEL

<

>

Navigasie

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

video

mEER INLIGTING

Klik op die foto om meer van die Sokkerinstituut te wete te kom.

NWU & U  |

NWU & U  |