REDAKSIONEEL

 

Prof Fika Janse van Rensburg,

visekanselier (waarnemend).

 

Ons rat ons vir die woelige politieke situasie waarin ons land hom tans bevind. Politieke onrus, wat niks met die NWU te make gehad het nie, het daartoe gelei dat ons teen die einde van April ons Mafikengkampus tydelik moes sluit omdat veilige toegang tot die kampus nie gewaarborg kon word nie. Ons het egter weer van 2 Mei af normaal met ons bedrywighede op al drie ons kampusse voortgegaan.

 

Ons het planne in plek om enersyds die gebiede aangrensend aan ons drie kampusse verder te beveilig, en andersyds nie afhanklik te wees van kontakklasse om die semester en die jaar se akademiese werk suksesvol af te handel nie. Hiervoor gebruik ons die internet en tegnologie om die impak van verdere moontlike ontwrigting te minimaliseer.

 

Boodskap van

die visekanselier

Geagte alumnus,

 

Die NWU ervaar voortdurend ongekende sukses op talle gebiede. Op nasionale sportvelde (én internasionaal), kuns- en kultuurverhoë, akademiese podiums, navorsingsprestasies en volhoubare gemeenskapsbetrokkenheid-inisiatiewe... Te midde van onstuimige waters in ons land, gaan dit goed met “ons plek”, jou alma mater.

 

Die hersiening van ons taalbeleid en -plan is steeds aan die gang en die konsultasieproses, wat reeds in 2015 begin het, is afgehandel. Eersdaags is daar ’n gesprek met die uitvoerende komitee van die Konvokasie en daarna sal ons konseptaalbeleid en -plan gefinaliseer word. Uiteindelik is dit vir die NWU-Raad om, met die medewerking van die Senaat, die plan goed te keur – en dit behoort in Junie of September te gebeur.

 

Die bona fide van hierdie proses kan vertrou word, en dit is vir my ’n voorreg om self deel van die taaltaakspan te wees. Die NWU se beste belang staan voorop. Ons ís ’n meertalige universiteit en só is dit vasgeskryf in ons Statuut. Ons doen alles om te verseker dat dit by die NWU egte en diepgaande meertaligheid is, en nie ʼn verbloemde enkeltaligheid waar één taal tog maar die bo-toon voer nie.

 

In hierdie uitgawe verwelkom ons Bert Sorgdraer as nuwe president van die Konvokasie ná jare van diens aan die Alumnivereniging. Aangesien die Konvokasie grootliks uit alumni bestaan, is Bert se nuwe posisie eintlik ’n voortsetting van die werk waarmee hy nou al vir baie jare besig is. Ons glo Bert sal ’n belangrike bydrae lewer tot die behoud en versterking van bande tussen sleutel-belangegroepe van die NWU.

 

Ek is bly om te kan sê dat ons visekanselier, prof Dan Kgwadi, vinnig aan die herstel is ná sy hartaanval. Ek vind dit ʼn maklike taak om met die visekanselier se aflosstokkie te hardloop, ondersteun deur ’n span bekwame en toegewyde kollegas.

 

Weet vir seker: die NWU ís op koers! Soos ons dit in ons universiteitslied sing:

 

Three strong streams united flow,

Africa stands proud and tall!

 

Ons bestuur “ons plek” só dat elke alumnus en alumna trotse eienaarskap kan aanvaar van die magtige dreuning wat ons as nuwe “enkelstroom” veroorsaak.

 

Dankie vir die bydrae wat die “sterk stroom” waarvan jy as student deel was, tot hierdie kragtige “sáám-vloei” maak.

 

Jóú NWU groet jóú!

 

 

Fika Janse van Rensburg

Visekanselier (waarnemend)

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

VOLGENDE  artikel

VORIGE  artikel

KLANK

video

mEER INLIGTING

KLIK

DEEL

NWU & U  |

NWU & U  |

NWU & U