nuus

Prof Awie Kotzé is die uitvoerende dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe.

 

Die NWU het onlangs ʼn openbare lesing oor die moontlikheid van ʼn mediese skool gehou. Lees hier meer oor die openbare lesing.

Mediese skool kan die NWU in die top drie plaas

Die opwindende moontlikheid van ’n mediese skool vir die NWU het onlangs tydens ’n openbare lesing oor die onderwerp aan die lig gekom. Die NWU & U het met prof Awie Kotzé, die uitvoerende dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, gepraat oor die impak wat so ’n skool op die universiteit sal hê.

“’n Mediese skool vir die NWU sal help om die universiteit te posisioneer as een van die topdrie universiteite in Suid-Afrika, en dit sal baie help om al die ander fakulteite van die instelling te versterk,” sê Awie.

 

Hy glo dit sal veral ’n deurslaggewende groeipunt vir die NWU se kampus in Mahikeng wees, aangesien dit ook hierdie kampus in staat sal stel om te groei en verder uit te brei.

 

Hy sê ’n mediese skool sal ook die kliniese opleidingsplatform van die fakulteit versterk en sy kliniese navorsingsprogramme verryk. “Al die bestaande programme in die fakulteit sal by hierdie bykomende opleidingsgeriewe baat. Dit sal beslis nuwe paaie vir verdere nuwe professionele grade oopmaak.”

 

’n Eiesoortige mediese skool

 

Awie verduidelik dat die skool ’n gedesentraliseerde-opleidingsbenadering sal volg, aangesien dit studente binne-in gemeenskappe sal plaas. “Dit sal help om die bepaalde behoeftes van die Suid-Afrikaanse gesondheidsorgomgewing te dien.

 

“Ons sal met ’n program van die hoogste gehalte en standaard mediese praktisyns oplei wat vir die Suid-Afrikaanse konteks relevant is.”Hy sê die voorgestelde model sal sterk op menslike kapasiteit steun, asook op nuwe tegnologiese en kliniese benaderings.

 

Gesondheidswetenskappe is gereed om die mediese skool ’n werklikheid te maak. Hy sê hulle het reeds die meeste hulpbronne, infrastruktuur en toerusting om die skool mee te begin. “Tien gedesentraliseerde sentrums by distriks- en streekshospitale sal by die opleidingsprogram betrokke wees en sal die bestaande kapasiteit van die fakulteit geweldig versterk.”

 

Die taak wat voorlê…

 

Awie sê die huidige groot taak is om so veel as moontlik nasionale belanghebbers van die privaat- sowel as van die openbare sektor betrokke te kry. “Ons sal ook die skool internasionaal bevorder en is besig om internasionale belanghebbers te identifiseer.”

 

As dit alles in plek val en die NWU die groen lig kry, kan die universiteit binnekort die voorkeuropleidingsinstelling wees vir diegene wat ’n bydrae op mediese gebied wil lewer.

 

 

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

Navigasie

>

<

VOLGENDE  artikel

VORIGE  artikel

KLANK

video

mEER INLIGTING

KLIK

DEEL

NWU & U  |

NWU & U  |

INHOUD

NWU & U