X

PROFIELE

CJ en Marietha van Zyl was albei in dagkoshuise – CJ in Oryx en Marietha in Acacia. Hier is hulle as jong studente by ’n dinee wat hulle koshuise gereël het.


Pak uitdagings kaalvuis

 

Om beter oor die weg te kom én om hul taak as onderwysers beter te doen, moes CJ en Marietha leer om Arabies te praat. Nog ’n uitdaging is die versengende hitte van die woestynstreek. Marietha verduidelik dat die streek baie min reën ontvang – slegs twee dae per jaar.

 

Woestyn-avontuur dra vrugte vir Suid-Afrikaanse egpaar

Daar is min dinge so romanties soos gedigte en lirieke, maar in die geval van CJ en Marietha van Zyl was ’n studiegids al wat Cupido nodig gehad het om harte vinniger te laat klop.

Wat gevolg het, was ’n studenteliefde wat later in ‘n huweliksbelofte verander het en vandag, ná die geboorte van twee kinders, in ‘n internasionale avontuur in die Verenigde Arabiese Emirate afspeel.

 

Marietha verduidelik: “In 2008 het Annette Willemse, kommunikasiebeampte op die NWU se kampus in Vanderbijlpark, ’n groep studente gevra om model te speel vir ‘n fotosessie. Die uiteinde was ‘n studiegidsvoorblad met my en CJ se gesigte daarop! As ons nou terugkyk, is daardie einste studiegidsvoorblad een van ons mees gekoesterde herinneringe aan ons studentelewe."

 

CJ het sy studies aan die NWU in 2006 begin nadat hy sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Vanderbijlpark voltooi het. Marietha, ʼn oudleerling van Hoërskool Driehoek, het in 2007 met haar BEd-studies begin.

 

“Ons het in 2007 op die kampus ontmoet en het in 2011 op die oewer van die Vaalrivier verloof geraak,” onthou sy.

 

’n Studentelewe sonder perke

 

Vir die Van Zyls was die jare wat hulle as studente op die kampus deurgebring het sonder twyfel die beste tyd van hul lewens. In CJ se derde jaar is hy as ’n huiskomiteelid van Oryx, die dagkoshuis, verkies terwyl Marietha, toe ’n tweedejaarstudent, tot die Acacia-dagkoshuis se huiskomitee verkies is.

 

Hulle tyd as studenteleiers was baie spesiaal en baie van die vriendskapsbande wat hulle toe gesmee het, bestaan vandag nog.

“Oryx en Acacia het in daardie dae met mekaar ‘gesleep’, en as gevolg daarvan het ons in baie studentepret gedeel,” sê CJ. “Ek is egter seker ons koshuispa, dr Sydney Vos, en ons koshuisma, Marietjie van der Ryst, het nie altyd in die opwinding van ons studentepret gedeel nie. Ek vermoed hulle wou heel dikwels die hasepad kies,” vertel hy laggend.

 

In daardie tyd was CJ verantwoordelik vir Oryx se sosiale projekte en Marietha was bemoeid met Acacia se gesondheid- en veiligheidsportefeulje. Marietha het ook in 2009 as onderprimaria diens gedoen.

Die lewe in die Verenigde Arabiese Emirate

 

In 2015 het die Van Zyls en hul oudste dogter, Zayla (nou vier jaar oud), die groot stap geneem en Dubai toe geëmigreer.

Hulle was jonk en lus vir ʼn nuwe avontuur en volgens Marietha is hulle nog glad nie spyt dat hulle dié besluit geneem het nie.“Die aanpassing was aanvanklik groot, maar ons is werklik gelukkig. Ek en CJ het goeie poste as onderwysers by staatskole en ons kinders floreer. Ons tweede kind, Wernhard (nou een jaar oud), is in Dubai gebore,” sê Marietha.

Die skoolkurrikulum in die Verenigde Arabiese Emirate is op die Amerikaanse kurrikulum geskoei en verskil baie van die Suid-Afrikaanse opset. Voor die Van Zyls geëmigreer het, het CJ by Hoërskool Suiderlig in Vanderbijlpark skoolgehou en Marietha by die Lefika Primary School in Sebokeng.

 

Die Van Zyls woon sowat 130km vanaf Dubai in die dorp Al Ain. “Dubai is ’n hutspot van kulture en dis ongelooflik om te sien hoe mense van regoor die wêreld leef. In hierdie opsig is ons dankbaar vir die geleentheid om ons kinders kultuur-slim groot te maak,” meen CJ. Hy voeg by dat hul internasionale avontuur nie net welvaartsvoordele bied nie, maar ook belangrike lewenservaringe – ervaringe wat hulle dalk nie in Suid-Afrika vir hul kinders sou kon bied nie.

 

Ja, hulle woon dalk in ʼn woestyn, maar tog lyk dit asof die Van Zyls se lewens vrugbaar en vervullend is.

 

DIE NWU & U

 

Stuur gerus vir ons julle kommentaar, voorstelle en enige ander bydraes wat julle wil lewer, byvoorbeeld foto's of nuusbrokkies.

 

Ons waardeer julle opinies en insette – die NWU & U behoort immers aan ons almal.

 

KLIK

DEEL

<

>

Navigasie

VOLGENDE ARTIKEL

VORIGE ARTIKEL

KLANK

VIDEO

MEER INLIGTING


Voete plat op die grond

 

CJ en Marietha meen al twee die rol wat hul ouers – en veral hul moeders in hul opvoeding gespeel het, het die grondslag gevorm waarop hulle vandag hul lewens bou. As enkelouers het Solome van Zyl en Magda van der Merwe hul kinders geleer om altyd aan hul wortels geanker te bly en om nooit minder as hul beste te lewer nie.

 

“Ons het geleer dat moed opgee eenvoudig nie ʼn opsie is nie en dat ons ons drome moet nastreef,” meen Marietha en voeg by dat ʼn mens ver sal moet soek vir beter rolmodelle as dié twee vroue.

 

NWU & U  |

NWU & U  |

Woestyn-avontuur dra vrugte vir Suid-Afrikaanse egpaar