Marga se uitstaande gooi van 64,31 m op 23 Februarie in Potchefstroom tydens die Atletiek Sentraal Noordwes se baan- en veldbyeenkoms beteken dat sy die beste vrouehamergooier is wat ons land nóg opgelewer het.

 

Beide Alan (25) en Marga (22) het hulle BEd-grade op die Vanderbijlparkkampus voltooi.

 

Alan het ook ʼn honneursgraad verwerf en hy is tans vir ʼn diploma by die NWU Besigheidskool ingeskryf, terwyl Marga besig is met haar honneursgraad in opvoedkunde vir spesiale behoeftes.  Albei hou skool – Alan by Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark en Marga by Laerskool AJ Jacobs in Sasolburg.

 

Spoor mekaar aan

 

Hoewel hulle nie teen mekaar meeding nie, word daar tog op ander wyses strydbyle vir mekaar geslyp.

 

“Ek dink daar sal altyd kompetisie wees tussen ʼn broer en suster wat aan dieselfde sportsoort deelneem. Ons spoor mekaar aan en probeer mekaar druk waar ons kan. Daar is dus kompetisie ja, maar nie oor afstande nie. Ons kyk na ons persoonlike bestes en hoeveel keer op ʼn dag ons beter afstande kan haal,” verduidelik Alan.

 

“Ons motiveer mekaar, druk mekaar, en help mekaar,” sê Marga. “My boetie help my altyd voor ʼn kompetisie met my hamers. Hy gaan hulle na en doen dit ’n tweede keer om seker te maak dat alles reg is. Dit is lekker om dit met hom te kan deel.”

 

Volgens Marga het die pad vorentoe net een spoor om te volg: “Vir my is dit ʼn dag-tot-dag-situasie – oefen elke dag, doen die beste wat ek kan om op die einde van die dag die beste hamergooier te wees wat ek kan wees.”

 

Alan voeg by: “Ons oefen so hard as wat ons kan en probeer alles in ons vermoë om ons afstande te verbeter.”

 

Sy aan sy, meter vir meter, boet en sus, dit is in hulle bloed.

 

 

Afrigter so reg in hulle kraal

 

Hamergooikampioene en broer-en-suster-duo Marga en Alan Cumming word deur die legendariese hamergooier Chris Harmse afgerig. Dit is ʼn voorreg wat hulle hoog op prys stel.

 

“Chris het ons onder sy vlerk geneem en hy help ons verskriklik baie, nie net met die sport self nie, maar in ons persoonlike lewe ook. Dit is lekker om hom in ons kraal te hê. Hy het so baie ondervinding en kennis wat hy oordra. Hy is al vir soveel jaar suksesvol, en hy het die wenformule,” sê Alan.

 

Marga stem saam dat dit ʼn baie groot eer en voorreg is om by Chris te kan oefen.

 

“Wat vir my wonderlik is, is dat hy oor jou emosionele gesondheid omgee. Ja, dit gaan oor die sport en om te presteer, om die beste te wees wat jy kan wees, maar om daarby uit te kom, sluit dit jou emosionele welstand in.”

 

 

 

 

HAMER- GOOI

Hulle is allermins vinkel en koljander, maar as dit by hamergooi kom, is die een nes die ander.

 

Gedurende die onlangse Suid-Afrikaanse Senior Atletiekkampioenskap het hierdie broer-en-suster-duo, Marga en Alan Cumming, dit onteenseglik bewys toe beide met goud in die hamergooi weggestap het.

Kampioene! Hierdie broer en suster, Marga en Alan Cummings, bring die beste in mekaar na vore. Albei hou tans skool, terwyl hulle ook verder studeer aan die NWU. Marga is besig met ʼn honneursgraad in opvoedkunde vir spesiale behoeftes, terwyl Alan ingeskryf is vir ʼn diploma by die NWU Besigheidskool.

is in hulle bloed