Mei was Verpleegkundemaand, en aan hierdie helde wil ons sê: dankie, en ons salueer julle!

Die Studentelewe-afdeling en die Skool vir Verpleegkunde het op 12 Mei Internasionale Dag vir Verpleegkundiges en Vroedvroue gevier en hulde gebring aan ons verpleegkundiges vir die sleutelrol wat hulle in die samelewing speel – veral tydens die Covid-19-pandemie.

 

Studentelewe toon waardering

 

Studentelewe op die Mahikengkampus het die dag gevier deur na die verpleegkundiges by die Gesondheidsentrum uit te reik om hulle waardering te toon vir die werk wat hulle doen.

 

Lerato Wana van Studentelewe sê die verpleegkundiges by die Gesondheidsentrum speel ’n belangrike rol in die welstand van die studente sowel as die werknemers.

 

“Verpleegkundiges is op hierdie stadium aan die voorpunt van die stryd teen die Covid-19-pandemie, en hulle kry nie altyd genoeg erkenning nie. Ons wil dus op hierdie spesiale dag aan hulle die respek betoon wat hulle verdien.”

 

Lerato het hulle ook bedank vir die wonderlike werk wat hulle doen.

Stephanie van der Walt, wat al 14 jaar lank ’n professionele verpleegkundige is, sê dat die afdeling se gebaar haar nederig laat voel.

 

“Dis ’n wonderlike loopbaan om ’n verpleegkundige te wees, veral omdat ek ’n verhouding met my pasiënte kan hê wat min ander mense beskore is.

 

“Die Covid-19-pandemie is ’n uitdaging vir alle gesondheidsorgwerkers, maar ons probeer om positief en gefokus te bly,” sê Stephanie.

 

’n Stille waak vir hulle opofferings

 

Op die Potchefstroomkampus het dosente van die Skool vir Verpleegkunde ’n stille waak in Lovers’ Lane gehou.

 

Terwyl hulle Covid-19-regulasies nagekom en twee meter van mekaar af gestaan het, het dosente met geboë hoofde gestaan en plakkate en lampies vasgehou ter ere van kollegas wat hulle lewens verloor het, asook vir diegene wat steeds elke dag teen die virus stry.

 

“Ons dosente, studente en kollegas is terdeë bewus van die opofferings wat verpleegkundiges en hulle geliefdes elke dag maak om om te sien na pasiënte wat met Covid-19 gediagnoseer is,” sê dr Elsabé Bornman, adjunkdirekteur van die skool.

 

Waarom 12 Mei?

 

Internasionale Dag vir Verpleegkundiges word jaarliks op 12 Mei gevier – die verjaardag van die grondlegger van die moderne verpleegkunde, Florence Nightingale.

 

Florence Nightingale is in 1820 in Florence, Italië gebore. Hoewel haar ouers Britte was, is sy in Italië gebore terwyl hulle gereis het. Florence, asook haar ouer suster Parthenope, is vernoem na die Italiaanse stede waar hulle gebore is.

 

Bron: National Women’s History Museum

Verpleegkundeberoep sal oorleef

 

“Hierdie jaar het die Internasionale Dag vir Verpleegkundiges aangebreek terwyl die wêreld ’n wrede pandemie in die gesig staar wat verwoesting op alle lewensterreine veroorsaak,” sê Tshepo Theletsane, die bestuurder van die Gesondheidsentrum en verpleegkundige van beroep.

 

“Die verpleegkundeberoep het oor die jare heen talle uitdagings gehad – insluitende pandemies. Dit het egter dekades lank al oorleef en sal dit steeds doen,” sê hy.

 

“Op hierdie dag herdenk ons al die verpleegkundiges wat as gevolg van Covid-19-verwante komplikasies gesterf het, en dink ook aan almal se gesinne.

 

“Aan al die verpleegkundiges wat steeds vir die siekes en bejaardes sorg, ons vereer julle en wens julle goeie gesondheid en ’n sterk geestesingesteldheid toe,” sluit Tshepo af.

 

 

KOM ONS SALUEER ONS VERPLEEGKUNDIGES

 

Personeellede van die Skool vir Verpleegkunde wat by die stille waak teenwoordig was, is van links dr Precious Chibuike Chukwuere en Mariska Oosthuizen van Tonder. Agter van links is Kathleen Froneman, Anelle Erasmus en Stephani Botha.

Personeellede van die Mahikeng-kampuskliniek is van links sr Tshepo Theletsane, hoofverpleegkundige, sr Amanda Matseka en sr Stephanie van der Walt, beroepsgesondheidsverpleegkundige.