Student Rotenda Gavhi het die gesogte Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika se Jong Stemme-digkunskompetisie gewen.

toor met woorde –
en syfers

Die 20-jarige Rotenda Gavhi se slag met woorde het haar die eerste plek in die gesogte Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika se Jong Stemme-digkunskompetisie besorg.

 

Hierdie jaarlikse kompetisie vir Suid-Afrikaanse burgers tussen die ouderdom van 18 en 25 jaar vind tydens Jeugmaand plaas. Nadat die beoordelaars en die publiek gestem het, is Rotenda as die wenner van die 2020-kompetisie aangewys.

 

Hierdie tweedejaarstudent van Duvhuledza, ’n klein dorpie net buite Thohoyandou in Limpopo, is vir ’n BCom-graad in finansiële rekenmeesterskap ingeskryf.

 

’n Vroeë begin

 

Haar liefde vir gedigte het reeds in die laerskool begin. “Wanneer ons opdragte in kreatiewe skryfwerk moes doen, het my onderwyser my werk vir die res van die klas voorgelees, en gereeld gesê ek gaan nog eendag ’n groot skrywer wees.

 

“Daardie woorde het my regtig bemoedig en bygebly. Toe ek hoërskool toe is, het my liefde vir skryf selfs groter geword en ek het begin om my werk op aanlyn platforms te publiseer.”

 

’n Passie vir skryf en om ander te help

 

Benewens dat sy ’n bedrewe skrywer en digter is, is Rotenda ook ’n ambassadeur van die New York Academy of Sciences. Sy het aansoek gedoen om tot hul mentorskapprogram, 1000 Girls, 1000 Futures, toegelaat te word.

 

Die doel van hierdie aanlyn program van die wêreldwye Wetenskap-, Tegnologie-, Ingenieurswese- en Wiskunde-alliansie (STEM) is om jaarliks 1 000 meisies tussen die ouderdom van 13 en 17 jaar wêreldwyd te bemagtig.

 

“Nadat ek my hoërskoolloopbaan voltooi het – wat ook die einde van my akademiese jaar in daardie program was – het ek besluit om aansoek te doen om ’n vrywilliger-ambassadeur te word.”

 

Sy is ook een van die direkteure van ’n NWO genaamd Be That Girl, ’n organisasie wat gemik is op die bemagtiging van meisies op akademiese, sosiale en spirituele gebied. “Ons belangrikste doelwit is om seker te maak dat meisies alles ontvang wat hulle nodig het,” sê sy.

 

Rotenda is ook ’n deeltydse grafiese ontwerper en in haar vrye tyd ontwerp sy grafika om fondse vir die sanitêreprodukteprojek van Be That Girl in te samel.

 

Planne vir die toekoms

 

Rotenda glo die toekoms hou talle seëninge vir haar in. Sy streef daarna om akademies uit te blink en om ’n groot impak op die gebied van rekeningkunde te maak. Sy wil ook haar talent vir kreatiewe skryfwerk koester en aanhou gedigte skryf.

 

Sy sê sy is in haar wese ’n sosialis en daarom wil sy by die ontwikkeling van jongmense betrokke wees. “Ek wil ’n bate vir hierdie land wees – nie vir myself nie, maar vir die samelewing. Alle eer gaan aan God vir sy grootheid wat ek tot dusver ervaar.”

 

Dit is duidelik dat Rotenda se drome en talente geen perke ken nie, en dat hierdie jong vrou groot dinge in die toekoms sal bereik.

 

Rotenda sê sy is dankbaar is vir die ondersteuning wat sy van haar familie en die gemeenskap van Duvhuledza, haar vriende by die kerk, die NWU-gemeenskap, haar Facebook-vriende, die media en die span by Be That Girl ontvang.