Matlotlo Goitseone Kgopisho, ’n BA Sosiale Wetenskappe-student in sielkunde, sê sy floreer op aktiwiteite wat haar fisiek en geestelik uitdaag, en dis waarom sy boks en rugby gekies het.

 

Afskop

 

Matlotlo het in die klein dorpie Uitkyk, ’n paar kilometer van Mahikeng af, grootgeword, en sê haar pa, ’n rolstoel-basketbalafrigter, het haar liefde vir sport aangewakker. Matlotlo het in 2017 as eerstejaarstudent by albei hierdie sportkodes betrokke geraak en sedertdien nog nooit teruggekyk nie.

 

“Ek was deel van die sewes-rugbyspan wat die NWU verteenwoordig het by die USSA-toernooi wat in Port Elizabeth gehou is. Ek was ook deel van die span wat die tweede plek in die Luiperds Liga gewen het,” sê Matlotlo.

 

Sy het ’n silwermedalje in boks gewen by die USSA-toernooi wat in 2017 by die Mangosuthu Universiteit van Tegnologie gehou is en boonop ’n toekenning vir die beste vroulike nuweling ontvang.

 

Hou vir hou die beste

 

Matlotlo het in 2018 ’n goue medalje ontvang by die USSA-bokstoernooi wat die NWU aangebied het. Die volgende jaar het sy toekennings vir die beste vroulike vegter en beste vroulike speler ontvang, sy is vir Noordwes se provinsiale boksspan gekies, en het ook ’n goue medalje by die USSA-toernooi in Secunda ingepalm.

 

Matlotlo wou graag eendag professionele rugby speel, of professioneel boks, maar haar hoop is verydel toe sy in 2018 tydens ’n Luiperds Liga-rugbywedstryd ’n kniebesering opgedoen het.

 

“Ek glo as dit nie vir my besering was nie, sou ek baie beter in albei hierdie sportkodes kon vaar,” sê die sportvrou, wat nog steeds die NWU in albei sportsoorte verteenwoordig.

 

Sy sê sport hou vir haar groot voordele in. “Dit dra nie net by tot my sielkundige, fisieke en emosionele ontwikkeling nie, dit help my ook om gedissiplineerd te wees.”

 

Matlotlo (in rooi) ruil houe uit met ’n opponent tydens ’n bokstoernooi wat by die NWU gehou is.

Rugby en boks is moeilike, hoë-impakkontaksportsoorte en dit verg ’n unieke sportvrou om nie net by een van hulle nie, maar by albei betrokke te wees.

MATLOTLO

Gereed vir aksie …  Matlotlo is mal oor hoë-impakkontaksport soos rugby.

is mal oor die uitdagings wat boks en rugby bied