Phisvang is ’n kubermisdaad waardeur misdadigers hul slagoffers deur e-posse, telefoonoproepe, teksboodskappe of bedrieglike webwerwe kontak. Hulle doen hulself as wettige instellings voor en lok mense uit om sensitiewe data soos bank- en kredietkaartbesonderhede, gebruikersname, ID’s en wagwoorde te verskaf.

 

Wanneer hulle jou wagwoord onwettig in die hande gekry het, is daar niks wat hulle verhoed om by netwerke en stelsels in te skakel en toegang tot sensitiewe en vertroulike inligting te kry nie.

 

eish! het met Boeta Pretorius, hoofdirekteur van IT, oor die gevare van veral phisvangbedrog gepraat.

 

Moenie ingekatrol word nie

 

“Educause, ’n internasionale organisasie sonder winsbejag wat hoër onderwys help om die impak van IT te verhoog, het kubersekuriteit en privaatheid geïdentifiseer as die nommer een- en nommer twee-kwessies vir universiteite wat die nuwe digitale era betree,” sê Boeta.

 

“Daar vind gemiddeld elke dag ongeveer 40 miljoen aanvalle plaas, en volgens Cybersecurity Ventures sal skade wat met kubermisdaad verband hou teen 2021 die USD6-triljoen-kerf verbysteek.

 

“Dit is vir kubermisdadigers baie winsgewend en dit is waarom hulle enigiets sal doen om organisasies soos universiteite aan te val. Phisvang is een van hul algemeenste metodes.”

 

Boeta gee vir ons hierdie belangrike wenke:

 

  • Moet nooit jou wagwoord vir enigeen gee nie. Die universiteit sal jou elke drie maande vra om jou wagwoord te verander, wat jy net op een manier kan doen en dit is om na https://password.nwu.ac.za te gaan.
  • Onthou, hoe langer jou wagwoord is, hoe beter en veiliger is dit.
  • Maak seker dat jy ’n goeie antivirusprogram het en dateer dit gereeld op. Maak ook seker dat jy sagteware en Windows-opdaterings installeer wanneer jy gevra word om dit te doen.
  • Moenie persoonlike inligting verskaf wat jou in gevaar kan stel nie – hetsy dit deur e-pos, telefoon of aanlyn is.
  • Wees altyd bewus van die afsender se adres in e-posse. Misdadigers is baie innoverend wat adresse betref. Voorbeelde: boeta.pretorius@nwu.co.za, of absa@abssa.co.za.
  • Moet nooit op enige skakel klik as jy nie 100% seker is dat dit geldig is nie. Wanneer jy jou muis oor ’n skakel beweeg, kan jy die adres sien waarheen dit jou gaan neem. Dié besonderhede sal gewoonlik vir jou die hele verhaal van die afsender vertel.
  • Die meeste phisvang-e-posse bevat spelfoute of gebruik swak Engels.

 

Dit is belangrik dat alle studente en personeel ekstra versigtig moet wees om phisvang-swendelaars te vermy. Vir ’n eenstop-IT-ondersteuning, klik hier.

 

 

Die “see” van die internet en e-pos word al hoe gevaarliker, aangesien kuberrowers elke geleentheid benut om verwoesting te saai en vir maatskappye en individue groot skade te berokken.

Moenie in die phisvang-net gevang word nie

Die NWU is baie trots op sy baie bekwame Inligtingstegnologie-span (IT-span), wat talle maatreëls in plek het om te keer dat personeel en studente slagoffers van kubermisdadigers word. Dit is egter op die ou end elke persoon se verantwoordelikheid om seker te maak dat hulle nie in die net van kuberbedrog gevang word nie.

Boeta Pretorius is die hoofdirekteur van IT.

Klik op elke strokie hieronder om uit te vind hoe jy onveilige webwerwe kan identifiseer.