Studenteleiers Teboho Siziba, Heinz Schoeman-Struwig en Theo Seepamore (agter van links) is hier saam met prof Dan Kgwadi (visekanselier), dr Bismark Tyobeka (voorsitter van die Raad) en prof Marlene Verhoef (registrateur).

Die NWU-studente het hul sê gesê. Ná ’n geslaagde 2019/20-studenteleierskapsverkiesing is verteenwoordigers vir die volgende akademiese jaar vir elkeen van die drie kampusse gekies.

 

eish! het met die drie aangewese voorsitters, Theo Seepamore (Mahikeng), Heinz Schoeman-Struwig (Potchefstroom) en Teboho Siziba (Vanderbijlpark), oor hul leierskapstermyne gepraat.

 

 

Het julle geweet?

 

Theo is ’n entoesiastiese sportondersteuner en het al as hulpafrigter van die Khayelitsha-koshuis en as die hoofafrigter van die Lost City-koshuis in Mahikeng gedien. Hy was ook die spanbestuurder van die kampus se aërobikaklub.

 

In sy vrye tyd geniet hy dit om te swem, aërobiese oefeninge te doen en potspel (pool) te speel. Sy gunstelingsportspan is Kaizer Chiefs.

 

Benewens dat hy ’n studenteleier is, is Heinz ook ’n gevestigde entrepreneur en sosialemedia-beïnvloeder. Hy het sy eie klerereeks, genaamd inHeinzsight Clothing. Sy sosialemedianaam is @inHeinzsight en julle kan hom op Twitter en Instagram volg.

 

Teboho hou baie van lees en sy gunstelinggesegde oor leierskap kom uit die pen van Norman Vincent Peale, ’n Amerikaanse leraar en skrywer wat bekend is vir sy werk oor positiewe denke. “Glo in jouself! Glo in jou vermoëns! Sonder ’n beskeie maar redelike vertroue in jou eie vermoë, kan jy nie suksesvol of gelukkig wees nie.”

 

 

Onderweg na studenteleierskap

Hoewel hulle verskillende agtergronde het, is daar ooreenkomste in hoe die drietal die hoogste sport van studenteleierskap bereik het.

Hulle het almal reeds vroeg in hul studenteloopbane by akademiese en studente-organisasies aangesluit en het verskillende leierskapsrolle beklee.

Akademies het hulle rolle vervul soos dié van klasverteenwoordiger, akademiese mentor, aanvullende instrukteur en navorsingsassistent.

Op die gebied van studentebestuur is hulle as lede van die onderskeie studentekampusrade, op huiskomitees en ander strukture soos sportklubs en kuns- en kultuurkomitees verkies.

’n Kommersiële produsent, ’n eiendomsontwikkelaar en ’n opvoedkundige

Theo, wat van die dorpie Diretsane in Noordwes kom, is besig met sy meestersgraad in landbou en fokus op gewaswetenskap. Hy is baie opgewonde daaroor om homself as suksesvolle kommersiële produsent te bekwaam.

Heinz, wat in Sandton gebore is en in Bryanston grootgeword het, glo dat die lewe vol variasie moet wees. Hy spog met ’n BA-graad in ontwikkeling en bestuur en ’n honneursgraad in publieke administrasie en regeerkunde, en hy is op die oomblik met ’n meestersgraad in omgewings- en ramprisikowetenskap besig. Heinz sê hy oorweeg ’n loopbaan in eiendomsontwikkeling.

Die derde lid van die drie, Teboho, is ’n finalejaarstudent in opvoedkunde wat beoog om binne die volgende vyf jaar sy PhD te voltooi. Hy glo aan voortgesette opvoeding en wil homself bemagtig om ’n positiewe krag van verandering vir die jonger geslag te wees.

Ideale vir 2020

Toe die drietal gevra is waarna hulle streef vir die jaar wat voorlê, het hulle saamgestem – hulle wil die NWU se studente met energie en toewyding dien. Hulle wy hulle almal toe aan die beginsel van diensbaarheidsleierskap en sê hulle begeerte is om die universiteit te dien deur hande te vat en met innovering leiding te neem.

Teboho som dit op deur te sê: “Die rol van studenteleiers is aan ons toevertrou en ons sal dit met waardigheid, toewyding en trots uitvoer.”