Kreatiwiteit, deursettingsvermoë en ’n ondersoekende gees lewer resultate by die NWU en daarom kan die universiteit die prestasies van ’n groter, meer diverse groep navorsers as ooit tevore vier.

NWU vereer sy presteerders in navorsing en innovasie

 

Sluit by ons aan vir ʼn aand van glans en welverdiende erkenning.

Die NWU het sy heel beste navorsers en innoveerders tydens die visekanselier se jaarlikse toekennings vir navorsing en innovasie-uitnemendheid op 24 Oktober in Potchefstroom vereer.

Net soos verlede jaar het die Fakulteit Teologie die beste gevaar toe hulle die kategorieë vir die produktiefste navorser van die jaar en vir die produktiefste navorsingsentiteit gewen het. Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het ook weer met die gesogte titel vir die produktiefste junior navorser weggestap.

Talle uitmuntende personeellede, studente en fakulteite is by hierdie geleentheid vir hul uitnemendheid in navorsing, innovasie, gemeenskapsbetrokkenheid en kreatiwiteit beloon.

Dit sluit navorsers met NNS-graderings in, fakulteite wat beduidende bydraes tot gemeenskapsbetrokke navorsing gemaak het, en studente wat die meeste belofte in innovasie en doktorale studies getoon het.

Ontmoet ons wenners

Die produktiefste senior navorser is prof Marius Nel van die Fakulteit Teologie.

Die fokus van sy navorsing is Afrika-pentekostalisme en die hermeneutiese perspektiewe daarvan. Marius ondersoek die invloed van Afrika-pentekostalisme op die verskillende maniere waarop die Bybel gelees en uitgelê word.

Prof Martinette Kruger, die NWU se produktiefste junior navorser, is ’n voltydse navorser en professor by Toerismenavorsing in Ekonomiese Omgewings en die Samelewing (TREES).

Een van haar navorsingsbelangstellings is om te verstaan hoe gebeurtenisse toerisme in ’n ontwikkelende land en multikulturele samelewing kan fasiliteer. Sy het ook hierdie jaar die toekenning gewen as die Suid-Afrikaanse Vroue in Wetenskap se onderskeidende jong vrouenavorser vir die Geesteswetenskappe- en Sosiale Wetenskappe-kategorie.

Ander skitterende sterre

Vir die sesde agtereenvolgende jaar het die toekenning vir die produktiefste navorsingsentiteit aan die navorsingseenheid Gereformeerde Teologie en die Ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse Samelewing in die Fakulteit Teologie gegaan.

Prof Wen-Xiu Ma van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe is met die toekenning vir die mees aangehaalde navorser vereer en prof Chris Vorster het die Toptegnologie Innoveerder-toekenning ontvang.

Studente in die kollig

Die Visekanselierstoekenning: Belowendste Innovasie-idee van ’n Student het aan Boitshepo Gopane gegaan. Sy is vereer vir haar onderneming, Eazi Waste Group, wat haar ook vroeër vanjaar ʼn topposisie in die NWU se Leopards Lair-sakekompetisie besorg het.

Dr Gontse Mokwatsi van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe het die visekanselierstoekenning ontvang vir die jongste vrou wat ’n doktorsgraad verwerf het, en prof Gisele Mah van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe het die Visekanselierstoekenning: Ontwikkelende Vroulike Navorser ontvang.

Nuwe navorsingstoel in verpleegkunde

Tydens die toekenningseremonie het die NWU ook die onlangse toekenning van die SANOPsys SARChi-Albertina Sisulu-leerstoel in Verpleegkunde aan prof Siedine Coetzee gevier.

Dit is die eerste navorsingsleerstoel in verpleegkunde wat die NNS toegeken het. Die NNS sal deur hierdie leerstoel meer as R8 miljoen bydra tot die ontwikkeling van broodnodige verplegings- en leierskapsvaardighede op die gebied van verpleegkunde. Dit is gemik op die verbetering van die kwaliteit van die Suid-Afrikaanse verplegingsektor.

Die volledige lys navorsers wat tydens die toekenningseremonie vereer is, is op die intranet beskikbaar.

 

Lof vir die wenners

 

Visekanselier prof Dan Kgwadi het gesê dit blyk duidelik uit die NWU se navorsingsprestasies dat die instelling ’n sterk grondslag gebou het wat navorsers en vakkundiges bemagtig om hoër en verder te reik met die najaag van hul doelwitte.

 

Hy het lof gebring aan die aand se wenners en hulle gelukgewens met hul toewyding, deursettingsvermoë en visie.