In hierdie video deel Karlé nog ’n paar wenke oor hoe om groener en meer volhoubaar te leef.

KARLÉ SE

laaste strooitjie

Karlé Bell glimlag maar net toe die kruidenier verbaas na haar staar. Sy verwarring is nie vir haar vreemd nie, en sy weet wat die rede is: die tuisgemaakte maasstofsak waarin sy haar vrugte en groente afweeg.

Vir Karlé en haar gesin is plastiek verbode. Hulle hergebruik en wend goed op ’n ander manier aan. Haar sak was oorspronklik ’n kantgordyn.

 

Dit het alles ’n jaar gelede gebeur toe sy aan ’n marathon deelgeneem het. Die roete het haar deur ’n verarmde plaaslike gemeenskap geneem en sy was baie ontsteld oor die hoeveelheid gemors wat die strate vol gelê het.

 

Tyd vir verandering

 

“Ek het skielik besef dit was my gemors wat hulle gemeenskap vernietig. Dit is my verbruikersmentaliteit, my verkwistende leefstyl,” sê Karlé, ’n skakelbeampte by die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

 

Dit was tyd vir ’n verandering. Verminder, hergebruik, herwin. “Nee, daar is nog twee. Weier, en kry ’n nuwe doel,” sê sy.

 

“Ons moet bewus wees van die goed wat in ons hande gestop word. Ons hoef nie alles te ontvang wat vir ons gegee word nie. Waarom neem jy ’n pamflet as jy met jou foon ’n foto daarvan kan neem en dit beleefd van die hand kan wys?

 

“Moenie plastieksakke aanvaar nie, bring jou eie sak saam. Probeer om so ver as moontlik nee te sê. Wanneer ons vir ons wegneem-sushi gaan haal, neem ons ons eie houers saam, omdat polistireen een van die moeilikste materiale is om te herwin.”

 

’n Yslike verandering

 

Die gesin se leefstyl is onherkenbaar anders as ’n jaar gelede.

“Toe ons begin het, het sommige van my vriende gedink ek het mal geword. Ek sou selfs kwaad word as my man plastieksakke huis toe bring!” lag sy ietwat skaam. “Ek het darem intussen ’n bietjie afgekoel.”

 

Die gesin neem hul eie strooitjies na restaurante toe – iets wat hul metgeselle aan die tafel ietwat ongemaklik maak, erken sy. Tuis het hulle ’n klein groentetuin en ’n komposhoop.

 

“Ek gebruik self nie regtig enige diereprodukte nie, maar my seun en my man wel. As ek dus slaghuis toe gaan, neem ek my eie houer saam. Wanneer ek ’n funksie by die werk reël, maak ek seker dat daar glasbekers met water is, eerder as die plastiekbottels.”

 

Kom ons hou dit groen

 

As ’n menigte klein vreugdetjies geluk bring, kan ’n groot menigte klein aanpassinkies ons planeet groener maak.

 

“Moenie dink dat jy alleen nie ’n verskil kan maak nie. Kyk na die hoeveelheid plastiek wat jy net in ’n maand gebruik om jou piesangs in te sit, en moenie vir my sê dit kan nie ’n verskil maak nie.”

 

Vir Karlé sal dit net mooi die laaste strooitjie wees.