Optog ondersteun gendergelykheid

Studente en personeel op die kampus in Mahikeng het op Vrydag 4 Oktober aan ’n gemeenskapsoptog ter ondersteuning van gendergelykheid deelgeneem.

Die doel van die onlangse optog in Mahikeng was om diversiteit en genderbewustheid te bevorder.

Die organiseerders van die gebeurtenis was die komitee vir LGBTIQA+ (lesbiërs, gays, biseksuele, transgender-, interseksuele, queer en aseksuele persone), met ondersteuning van die kantoor vir studentelewe en die studente-kampusraad. Die doel was om diversiteit en genderbewustheid en solidariteit met die LGBTIQA+-gemeenskap te bevorder.

Die optog, bekend as Pride Q’Nnexion, volg ná die genderbewustheidsweek wat in Augustus regoor die NWU gehou is. Dit het by die hoofhek begin en by die studentesentrum geëindig.

Gemeenskappe wat geraak word

Bakang Morare, LGBTIQA+ se komiteeleier, sê gendergebaseerde geweld en homofobie is onder die talle kwessies wat gemeenskappe in Suid-Afrika raak, ongeag ras of klas.

“Geslagsgebaseerde geweld by universiteite het in die afgelope maande as gevolg van geweld teen studente by sommige Suid-Afrikaanse universiteite na vore gekom.”

Die optog het die behoefte beklemtoon om diskriminasie teen te werk. Vooroordeel van enige aard is dikwels die basis vir geweld en stigmatisering, wat veral kwesbare groepe raak.

In die lig van sulke geweld moedig Bakang die universiteit aan om oproepe om eenheid en solidariteit met gemarginaliseerde groepe te ondersteun.

“Dit moet tot positiewe optrede en ondersteuning lei sodat ons bewus kan raak van die behoefte om toestande te skep waar strukturele ongelykheid – op grond van gender, klas en ras – aandag kan ontvang.”