By die 2019 NWU Alumnitoekenningseremonie is van links Frederik Louw, Caster Semenya, Pieter Twine, Elmarie Myburgh, prof Alta Schutte, Maggy-Emelia Maliti-Ntshwe, Mmahati Mmutlana, (sy ontvang die toekenning namens haar suster, prof Mamokgethi Phakeng), Nomsa Mazibuko, en Anri van der Linde (sy ontvang die toekenning namens haar pa, Johan van Rensburg).

NWU lig sy hoed vir alumni-ikone

 

 

Die NWU-alumni is baanbrekers en rolmodelle wat op hulle onderskeie gebiede uitblink. Dit is waarom die universiteit op 11 Oktober tydens ’n toekenningseremonie in Sandton van sy merkwaardigste alumni vereer het.

Die gesogte Alumnitoekennings vir Uitnemendheid het erkenning gegee aan nege prominente alumni wat buitengewone bydraes tot die samelewing, nasionaal en internasionaal, gemaak het.

 

Hierdie jaar se ontvangers is bekende Suid-Afrikaners wat in ’n wye verskeidenheid beroepe en ondernemings uitgeblink het.

 

Hulle sluit in ’n musiekpromotor; ’n dinamiese entrepreneur; ’n kampvegter vir gehalte-onderwys; ’n baanbreker wat maatskaplike verantwoordelikheid in aksie wil omskep; ’n invloedryke leier in die onderwys; ’n ervare sielkundige profileerder; ’n gevierde navorser; ’n sportikoon; en ’n dinamiese en veelsydige sosialemedia-beïnvloeder.

 

Daar was agt toekenningskategorieë, waarvan een (gemeenskapsbetrokkenheid) twee wenners gehad het.

 

Die gesogte NWU Alumnitoekennings is vir die sesde keer aan verdienstelike alumni toegeken.

 

Vorige ontvangers sluit gerespekteerde Suid-Afrikaners in, byvoorbeeld FW de Klerk, prof Anis Karodia, regter Yvonne Mokgoro, dr Bismark Tyobeka, prof Pieter Stoker, Katlego Maboe, regter Frans Kgomo en prof TT Cloete.

DIE WENNERS IS:

  • KUNS EN KULTUUR-TOEKENNING

    Johan van Rensburg, musiekpromotor en televisie-aanbieder. (LEES MEER)

  • SAKELEIERSKAPTOEKENNING

    Maggy-Emilia Maliti-Ntshwe, ’n dinamiese entrepreneur. (LEES MEER)

  • GEMEENSKAPSBETROKKENHEID-TOEKENNING

    Frederik Louw, ’n gerespekteerde onderwyser wat gehalte-onderwys bevorder. (LEES MEER)

  • GEMEENSKAPSBETROKKENHEID-TOEKENNING

    Pieter Twine, ’n dinamiese fondsinsamelaar wat maatskaplike verantwoordelikheid in aksie omskep. (LEES MEER)

  • ONDERWYSTOEKENNING

    Prof Mamokgethi Phakeng, ’n invloedryke leier in die onderwys en visekanselier van ’n universiteit in Suid-Afrika. (LEES MEER)

  • OPENBARE DIENSLEWERING-TOEKENNING

    Elmarie Myburgh, ervare sielkundige profileerder vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens. (LEES MEER)

  • NAVORSINGSTOEKENNING

    Prof Alta Schutte, NWU-navorser in die stryd teen hipertensie. (LEES MEER)

  • SPORTTOEKENNING

    Caster Semenya, internasionale sportikoon en wêreldrekordbreker. (LEES MEER)

  • JONG ALUMNUS-TOEKENNING

    Nomsa Mazibuko, dinamiese en veelsydige sosialemedia-beïnvloeder. (LEES MEER)

Nadat hulle bygedra het om van die Alumnitoekenningseremonie ʼn reusesukses te maak, geniet hierdie personeellede van Korporatiewe Verhoudinge en Bemarking ʼn uitbundige oomblik. Hulle is agter van links Willie du Plessis, Annette Willemse, direkteur Warren Makgowe, uitvoerende direkteur Clement Manoko, direkteur Louis Jacobs, Sam Mbatha, Suré Honiball, Mpho Malefane en Nicolize van der Walt. Voor is Gregory Sekobotsane, Tshegofatso Lekabye, Christi Cloete en René Vermeulen.

 

 

Visekanselier Prof Dan Kgwadi het tydens die toekenningseremonie gesê die onvermoeide toewyding aan uitnemendheid en innovering laat die NWU se hart sterk klop.

 

“Ons verbintenis tot ons studente was nog nooit so sterk nie. Ons universiteit – julle universiteit – floreer. Ons het onlangs ’n nuwe mylpaal ten opsigte van graderings behaal toe die Times se wêreldranglys vir hoër onderwys aangedui het dat die NWU die vyfde posisie in Suid-Afrika behaal het.”

 

Die NWU is wêreldwyd tussen 501 en 600 uit die 1 396 deelnemende universiteite geplaas. Hierdie gradering is op vyf prestasie-aanwysers gegrond: onderrig-leer, navorsing, aanhalings, internasionalisasie en impak op die bedryf.