FOKUS OP

Gemeenskapsbetrokkenheid

Gemeenskapsbetrokkenheid by die NWU is onlosmaaklik deel van die kernbesigheid van onderrig en leer en navorsing. Dit beteken dat daar van personeel verwag word om betrokke onderrig en navorsing in die gemeenskap te doen, sê prof Marilyn Setlalentoa, die adjunk-visekanselier verantwoordelik vir gemeenskapsbetrokkenheid en vir kampusbedrywighede in Mahikeng.

eish! het haar gevra om vir ons te verduidelik wie uit gemeenskapsbetrokkenheid voordeel trek, wie die hoofrolspelers is, en hoe belangrik die impak van ons aktiwiteite is.

 

V: Wie by die NWU trek voordeel uit gemeenskapsbetrokkenheid?

A: Ons studente, personeel en gemeenskappe word almal bevoordeel.

 

Studente is hoofsaaklik op twee maniere betrokke. Eerstens bied uitreik-aksies volgens vakgebiede aan hulle die geleenthede vir diensleer. Tweedens, wanneer hulle as vrywilligers deelneem aan verskillende gestruktureerde gemeenskapsdiensprojekte wat deur kampusstudenterade geloods word, leer hulle om verantwoordelike burgers te word wat omgee.

 

Wat ons personeellede betref, behels ons aktiwiteite navorsing oor, saam met en in gemeenskappe, wat ons akademici in staat stel om navorsing te doen wat werklike probleme hanteer, terwyl hulle ook iets by die gemeenskappe leer. Hulle navorsing lei ook tot navorsingspublikasies of innovasie.

 

Wanneer ons op volhoubare en ontwikkelingsbetrokkenheid fokus, baat die gemeenskappe wanneer ons kundiges hul kennis deel en oplossings vind vir die probleme wat hulle ervaar. Soos julle kan sien, is die klem dus op gemeenskaplike voordeel.

 

V: Wie is die hoofrolspelers op ons kampusse?

A: In die fakulteite koördineer die adjunkdekane verantwoordelik vir gemeenskapsbetrokkenheid die aktiwiteite. Wat ons studente betref, het ons studentekampusrade aangewese komiteelede vir gemeenskapsbetrokkenheid.

 

V: Het ons ’n koördineringsliggaam?

A: Ja, ons het ’n eenheid wat Volhoubaarheid en Gemeenskapsimpak genoem word, met Bibi Bouwman as die direkteur.

 

Benewens Bibi het die eenheid ook twee ander lede. Dr Miranda Mgijima is die bestuurder vir betrokke onderrig en leer, en dr Hendri Coetzee is die bestuurder vir betrokke navorsing. ’n Derde posisie, dié van bestuurder vir belanghebberverhoudinge, is tans vakant.

 

Die eenheid se kantoor is in Potchefstroom geleë, maar koördineer gemeenskapsbetrokkenheid op ’n makrovlak in alle fakulteite regoor die kampusse.

 

Een van hulle belangrikste take is om die behoeftes van gemeenskappe te verbind met die kundigheid wat by die universiteit beskikbaar is. Hulle skakel ook met liggame van buite, soos die NRO’s en maatskappye wat na geleenthede soek om hul korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid in gemeenskappe te implementeer. Hierdie organisasies skakel dikwels met die Volhoubaarheid en Gemeenskapsimpak-eenheid vir gemeenskapsimpakstudies.

 

Die eenheid werk verder nou saam met die studentekampusrade deur opleiding te reël vir studente wat deelneem aan die aktiwiteite in die gemeenskappe.

 

V: Hoe weet ons of ons aktiwiteite werklik vrugte afwerp?

A: Dit is baie belangrik dat ons betrokkenheid by gemeenskappe ’n werklike impak het en volhoubaar is.

 

Uiteindelik moet daar meetbare veranderings in die gemeenskappe wees wat verby die omvang van enige bepaalde projek strek. Wanneer die NWU uiteindelik onttrek, moet hierdie veranderinge steeds daar wees.

 

’n Mens kan in werklikheid gemeenskapsbetrokkenheid met ’n boom vergelyk. Die wortels van die boom is die fakulteite en die vakgebiede van die universiteit, terwyl die stam die universiteit met sy ondersteuningstelsel en hulpbronne is. Die takke is die gemeenskap se belanghebbers, en die blare is die individuele gemeenskapslede.

 

Wanneer al die verskillende dele van hierdie ‘boom van betrokkenheid’ saam werk, dra dit vrug, wat die impak simboliseer wat ons aktiwiteite in die gemeenskappe het.

Ons nooi al die NWU-personeel om ons kundigheid, kennis en ervaring te implementeer om ’n impak in die gemeenskappe te maak.

 

V: Vir meer inligting oor gemeenskapsbetrokkenheid, kontak die volgende personeellede in die fakulteite:

A: Geesteswetenskappe: prof Aaron Tshidzumba; Ingenieurswese: Hannes du Toit; Regte: adv Renè Koraan; Ekonomiese en Bestuurwetenskappe: prof Ntebo Moroke; Teologie: prof Vhumani Magezi; Gesondheidswetenskappe: prof Andrew Robinson; Opvoedkunde: dr Elize Kung; Natuur- en Landbouwetenskappe: prof Rodney Medupe.

 

Julle kan ook vir Bibi Bouwman by Volhoubaarheid en Gemeenskapsimpak kontak.

Adjunk-visekanselier prof Marilyn Setlalentoa se agtergrond as maatskaplike werker kom goed te pas waar dit haar gemeenskaps-betrokkenheidstake raak.