Joseph is die bewys dat leefstylveranderinge kan hou

ROL AF

Vir ’n klinkklare bewys dat enigeen, ongeag hoe onfiks of onaktief hulle is, kan begin oefen en die langtermynvoordele daarvan kan ervaar, hoef ʼn mens nie verder te soek as  Joseph Matlhong, sportbeampte by die Direktoraat Studentelewe op die kampus in Vanderbijlpark nie.

Dit is moeilik om te glo dat hy op skool geboelie is omdat hy ietwat oorgewig was. Hy glo egter die boeliery en sy negatiewe liggaamsbeeld as kind het tot sy passie vir en toewyding tot sport bygedra.

 

“Ek weet dit verg werklike waagmoed en toewyding om positiewe veranderings aan ’n mens se leefstyl te maak, maar ek is ook ’n lewende bewys dat dit gedoen én volgehou kan word,” sê Joseph.

 

As selferkende sportfanatikus neem hy aktief aan tennis, atletiek, sokker, skaak, karate en denksport deel. As sportbeampte hou Joseph ook toesig oor die kampus se interkoshuis- en personeel-sokkerliga, en staan hy aan die hoof van die kampus se fiksheidsklub, wat daarop gemik is om personeel en studente aktief en fiks te kry.

 

Dié gesondheidsvoordele is werklik

 

Dit spreek vanself dat fisieke aktiwiteit en oefening onmiddellike en langtermyn-gesondheidsvoordele inhou wat jou lewensgehalte verbeter.

 

Deur meer aktief te wees, kan jy jou bloeddruk help verlaag, jou vlakke van goeie cholesterol verhoog, bloedsirkulasie verhoog, jou gewig onder beheer hou, en beenverlies – wat tot osteoporose kan lei – voorkom. Al hierdie voordele kan weer tot minder mediese uitgawes, intervensies en medikasie lei.

 

Die klub, wat in 2012 tot stand gekom het, is Joseph se vreugde en trots, en hy vertel jou vinnig dat ’n gesonde lewe meer as net ’n fiksheidsroetine behels. “Kitsdiëte, té kwaai oefeninge, en kitsoplossings wat vir jou maksimum resultate in die kortste moontlik tyd belowe, is alles hindernisse op jou pad na optimale gesondheid en fiksheid,” sê hy.

 

Resultate tel

 

Joseph het oor die afgelope sewe jaar hard gewerk om personeel te motiveer om by die klub aan te sluit, en hy het gevind dat sy beste bemarkingsinstrument die resultate is wat deur kollegas bereik word.

 

Hy lag en vertel die storie van hoe hy die klub se naam van die “drafklub” na “fiksheidsklub” moes verander omdat mense “heeltemal geïntimideer” was deur die vooruitsig om ná ’n dag op kantoor op die kampus rond te hardloop.

 

Die klublede kom tans vyf keer per week– wat Saterdagoggende insluit – vir net minder as twee uur per sessie bymekaar.

 

Deelnemers van alle ouderdomme en fiksheidsvlakke word tydens die sessies deur hulle roetine geneem in wat Joseph sy “oorkruis”-fiksheidsroetine noem. Dit sluit elemente van ’n avontuur-oefenkamp, CrossFit, kardio-oefeninge, en oefeninge met gewigte in.

 

Op die vraag of enigeen kan deelneem ongeag hoe onfiks hulle is, antwoord Joseph dat alle oefening vanaf ’n nulbasis begin. Dit beteken namate ’n deelnemer se fiksheidsvlak verhoog, verhoog die intensiteit van die oefenprogram ook.

 

Sy grootste gevoel van genoegdoening ervaar hy wanneer hy kan sien dat deelnemers hul fiksheidsdoelwitte bereik, en sodoende beheer oor hul gesondheid en welstand neem.

 

Wat doen hy wanneer hy nie in die gim is en personeel en studente help oefen, of met sportaktiwiteite op die kampus help nie? Hy kyk natuurlik sport op TV!

 

Vir meer inligting oor die fiksheidsklub, stuur asseblief vir Joseph ’n e-pos.  Die oefensessies is gratis.

Joseph (regs) help lede van die klub met hulle oefeninge.

 

Wil jy saam met hulle oefen? Die fiksheidsklub kom tans vyf keer per week bymekaar, insluitende Saterdagoggende.

ROL AF