Prof Marius Stander sê hy sou die woord “liefde” gebruik om sy verbintenis met die universiteit te beskryf.

ROL AF

Marius Stander:

die NWU is deel van my DNS

Die jaar was 1983 en jy kon ’n Wimpy-allegaartjie vir R3,50 koop, kyk hoe die Wes-Indiese elftal deur Suid-Afrika toer, sien hoe Leanne Hosking as Mej Suid-Afrika gekroon word, en jou lyf op die maat van Joan Armatrading se “Drop the pilot” swaai.

Dit was die jaar toe Marius Stander by die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) aangesluit het en met ’n indrukwekkende loopbaanreis begin het wat oor meer as drie dekades sou strek.

 

Vandag, ná 36 jaar, word Marius as ’n voorste kenner op die gebied van bedryfsielkunde en talentbestuur gereken. Hy het hierdie kundigheid aan sy studente oorgedra en sy kennis teruggeploeg in die universiteit – veral die kampus in Vanderbijlpark – en gehelp om ’n plek van gehalte en impak vir toekomstige geslagte te skep.

 

’n Lewe van eerstes

 

Eerstes verander die koers van ons lewens, en hierdie universele waarheid is beslis van toepassing op Marius.

 

As student by die PU vir CHO in Vanderbijlpark gedurende die laat 1970’s, was hy een van die heel eerste voorsitters van die kampus se studenteraad.

 

Daarna het Marius die eerste verteenwoordiger van daardie kampus geword om op die Afrikaanse Studentebond te dien, en die eerste voltydse bedryfsielkundestudent om sy nagraadse studies op die kampus in Potchefstroom voort te sit.

 

Nadat hy gegradueer het, was hy die eerste alumniverteenwoordiger van die kampus om in die universiteit se Konvokasie te dien.

 

Passie vir mense kom uit sy rugbydae

 

As stigterslid van die WATUNI Rugbyklub in Vanderbijlpark skryf Marius sy passie vir groepdinamika en ontwikkeling aan rugby toe.

 “Alle sport het lesse wat vanaf die veld op die werklike lewe toegepas word, maar rugby het lesse wat by geen ander spel aangetref word nie – en ek praat nie van die standaardreëls van spanwerk en toegewyde spel nie,” verduidelik Marius.

 

’n Paar van hierdie lesse is: sukses volg as jy die spel met passie speel; genoegdoening volg wanneer jy strawwe duikslae ontvang en uitdeel; die werklike wêreld verskaf nie buffers nie; dit is nie genoeg om bloot jou doelwit te bereik nie – jy moet dit oorskry; en sukses word dikwels bepaal deur besluite wat op die nippertjie geneem word.

 

Loopbaanhoogtepunte

 

Marius het sy akademiese loopbaan as junior lektor in bedryfsielkunde op die kampus in Potchefstroom begin en in 1985 op die kampus in Vanderbijlpark voortgesit. Hy en ’n jare lange kollega, mentor en vriend, prof Joppie van Graan, het die kampus se Bedryfsielkunde-departement begin, en die res is, soos daar gesê word, geskiedenis.

 

“Ek is baie dankbaar vir al die geleenthede wat ek ontvang het, en ek voel geseënd om te sê ek het my belangstellingsveld op ses vastelande verteenwoordig.”

 

Marius is ’n Nasionale Navorsingstigting-gegradeerde navorser, ’n meesterpraktisyn in mensehulpbronne, ’n uitvoerende afrigter, mentor by die Suid-Afrikaanse Raad vir Mensepraktyke, en eregenoot van die Vereniging vir Bedryfs- en Organisasiesielkundiges van Suid-Afrika. En natuurlik is hy ’n volle professor in bedryfsielkunde.

 

Marius het tot dusver akademiese referate by internasionale konferensies in 18 lande gelewer, as toesighoudende sielkundige vir meer as 60 interns opgetree, en as studieleier vir meer as 50 meestersgraad- en PhD-studente gedien.

 

 NWU in sy DNS

 

Toe ons hom oor die NWU uitvra, het Marius gesê dat hy vermoed dat die universiteit deel van sy genetiese samestelling is.

“My hele lewensverhaal is verbind aan die NWU, sy mense, en die geleenthede wat dit aan my gebied het; hetsy as student, personeellid, akademikus of trotse alumnus,” sê hy.

 

Hy het sy vrou, Annatjie, op die kampus in Vanderbijlpark ontmoet. Die egpaar het twee kinders, Ederick en Elizma, en ’n skoondogter, Tasmin. Tussen die vyf van hulle het hulle nie minder nie as 19 grade aan die NWU verwerf!

 

En sy wens vir die NWU vir die toekoms? “Ek hoop met my hele hart dat die NWU ’n instelling van prestasie en boweal impak sal bly.”

 

Die Stander-gesin is van links Marius, Annatjie, Ederick, Tasmin en Elizma.

ROL AF

ROL AF