Wat ’n wonderlike oomblik is dit wanneer ’n voël sy vlerke sprei, swaartekrag uitdaag, en in die lug opstyg. Hierdie oomblik, saam met die vermoë om al hoe hoër te kan vlieg en die wêreld as uitgestrekte panorama onder jou te sien, was die inspirasie agter die NWU se geïntegreerde verslag vir 2018.


Met die tema “Ons bemagtig mense om uit te styg”, vertel hierdie verslag die storie van hoe die NWU gedurende 2018 waarde vir homself en sy belanghebbers geskep het.

FOKUS OP

DIE NWU-STORIE:

 

Louis Jacobs, direkteur vir korporatiewe kommunikasie.

eish! het met Louis Jacobs, direkteur vir korporatiewe kommunikasie, gepraat oor die verslag wat die NWU Raad by hul vergadering van 20 Junie goedgekeur het, en wat aan die einde van Junie aan die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) voorgelê is.

 

V: Waarom word dit ’n geïntegreerde verslag genoem?

A: Geïntegreerde verslaggewing, wat ’n wêreldwye tendens is, is ’n meer holistiese vorm van verslaggewing. Dit vra dat daar in meer as bloot finansiële terme gedink word, en handel oor die manier waarop jy jou strategie deur jou besigheidsmodel implementeer om waarde vir jouself en vir jou belanghebbers te skep.

 

V: Is die geïntegreerde verslag wat julle aan die DHOO gestuur het vir alle personeellede beskikbaar?

A: Ja, dit is op die NWU se webwerf gepubliseer – julle kan dit hier lees.

 

V: Is dit net aanlyn beskikbaar?

A: Hierdie weergawe is digitaal, maar ons druk ook ’n ander, bondiger weergawe. Dit sal binnekort beskikbaar wees en sal deur middel van QR-kodes aan die langer weergawe op die webwerf gekoppel word. Die korter weergawe sal ook op die webwerf gepubliseer word.

 

V: Kan enigeen ’n gedrukte kopie van die geïntegreerde verslag kry?

A: Ter wille van ons koolstofvoetspoor en die gesondheid van ons planeet is die ideaal om dit aanlyn te lees, maar as jy ’n hardekopie verkies, kan jy ’n e-pos aan nelia.engelbrecht@nwu.ac.za stuur. Die gedrukte verslae sal in die laaste kwartaal van die jaar beskikbaar wees.

 

V: Waarom moet enigeen moeite doen om die geïntegreerde verslag te lees?

A: Dit vertel die storie van die NWU, en beïnvloed die besluite wat ons belanghebbers neem. Wanneer donateurs byvoorbeeld lees dat die universiteit finansieel stabiel is en vir sy mense sorg, kan dit hulle gerusstel dat hul skenkings verstandig bestee word.

 

Verder lig dit ook ons interne belanghebbers – soos julle, ons personeel – oor die universiteit se prestasies in. Dit verduidelik ook ons strategie, ons sakemodel, ons risiko’s en geleenthede, en hoe ons ten opsigte van ons mikpunte presteer het.

 

V: Kan jy vir ons ’n paar voorbeelde van die NWU se suksesse en prestasies gee?

A: Wel, het jy geweet die finansiëlebystandskantore op die drie kampusse het in 2018 ’n totaal van R1 565 miljoen geadministreer? Ons het R217,3 miljoen uit ons eie hulpbronne bygedra, wat 14% is van die totale fondse wat vir finansiële bystand toegewys is. Dit bevestig ons verbintenis om toegang vir studente te verhoog en waarde vir jongmense te skep.

 

Daarby het die uitvalkoers van eerste-inskrywers vir kontakgrade vanaf 11,11% in 2017 tot 9% in 2018 gedaal. Dit wys dat ons belegging in akademiese ondersteuning waardevolle resultate lewer. Dit illustreer ook die toewyding van ons vaardige personeellede om studente te bemagtig om uit te styg.

hoe ons mense bemagtig om uit te styg