Die NWU is besig om die opwinding van wetenskap na plattelandse klaskamers te bring. Deur sy navorsers se betrokkenheid by die Onderwysers sonder Grense-projek is meer as 3 000 mikroskope aan skole in Noordwes, Limpopo, die Noord-Kaap en Gauteng verskaf.

Die mikroskope – bekend as Stanford Foldscopes – is ’n goedkoop manier om leerders te bemagtig om wetenskaplike navorsing te kan doen. Elke eenheid kos R30, wat ’n baie bekostigbare alternatief is vir konvensionele mikroskope, wat die meeste skole nie kan bekostig nie.

 

Elke Foldscope bestaan uit ’n mikroskooplens wat op ’n kartonbasis gemonteer is. Dit kan baie maklik opgestel word, selfs deur baie jong leerders, en bring pret en praktiese ervaring na die klaskamer. Leerders kan enigiets – van water tot plante en insekte – deur die lense ondersoek.

 

Leerders kan selfs hul fone gebruik om foto’s deur die lense te neem en dit in ’n toep (“app”) te plaas sodat leerders van ander provinsies, en selfs lande in die buiteland, ook die foto’s met hulle kan deel.

 

“Dis ’n wonderlike instrument wat hulle nie net in staat stel om dinge te ontdek nie, maar ook om dit te deel en hul bevindings te bespreek,” sê prof Josef de Beer, navorsingsprofessor by die Skool vir Natuurwetenskappe en Tegnologie vir Onderwys, en navorser in die navorsingsfokusarea Selfgerigte Leer.

 

Die volledige titel van die projek is: “Onderwysers sonder Grense: Wetenskaplaboratoriums vir inheemse kennis in landelike skole”. Hierdie projek het in 2016 begin en het vlerke gekry sedert die Carl en Emily Fuchs-stigting dit een van hul 50ste herdenking se vlagskipprojekte gemaak het en groot bedrae geld as befondsing beskikbaar gestel het.

 

“Daar is drie groot uitdagings vir die verskaffing van wetenskaponderwys van gehalte vir kinders. Hierdie projek wil onderwysers help om dit te oorkom,” sê Josef.

 

Van die hekkies wat oorkom moet word, is ondergekwalifiseerde wetenskap- en wiskunde-onderwysers, skole wat nie toegerus is om ondersoekende leer aan te moedig nie omdat daar ’n gebrek aan doeltreffende laboratoriums is, en ’n wetenskap- en wiskundeleerplan wat nie altyd vir leerders die toepassing van wetenskap in die samelewing toon nie.

 

Die Onderwysers sonder Grense-projek omvat egter meer as net die oopvoumikroskope. Navorsers ontwikkel ook hulpbronpakette vir wiskunde, natuurwetenskappe en tegnologie. Dit sluit inheemsekennisspeletjies in wat die onderrig van talle van hierdie konsepte in die wiskunde- en natuurwetenskappeleerplan sal vereenvoudig.

 

Dosente bied ook verskillende siklusse van kortleerprogramme vir wetenskap-, wiskunde- en tegnologie-onderwysers aan. ’n Groot fokus van hierdie programme is om selfgerigte leer by onderwysers en leerders aan te moedig.

 

*Drie gelukkige lesers kan elkeen ’n Stanford Foldscope en ’n boek, People's Plants wen. Om vir die trekking in aanmerking te kom, klik hier en beantwoord die vyf vrae in hierdie kort vraelys voor of op 7 Augustus.

 

Die Stanford Foldscopes is deur Manu Prakash van die Prakash-laboratorium by die Standford Universiteit ontwikkel.

 

 

Josef, wat ook ʼn navorser in die navorsingsfokusarea Selfgerigte Leer is, verduidelik vir ʼn groep leerders van die Hoërskool Calvinia in die Noordkaap hoe die Foldscopes gebruik kan word om die natuur te bestudeer. Saam met hom is lewenswetenskappe-onderwyser, Marlize Huisamen.

 

Prof Josef de Beer, navorsingsprofessor by die Skool vir Natuurwetenskappe en Tegnologie vir Onderwys, sê die Foldscopes stel leerders in staat om om die wonders van die wetenskap te ontdek en hulle bevindinge met mekaar te deel.

ROL AF

MIKROSKOPE

bring die opwinding van wetenskap klas toe

OOPVOU-