Hulp is een oproep ver

 

As jy in ’n gewelddadige verhouding is, daar is hulp:

 

NWU-personeellede en hulle gesinne kan die werknemerbystandsprogram van NWU Welstand (NWUWelness) gebruik wat op ’n nasionale vlak gratis een-tot-een-berading verskaf.

 

Die werknemerbystandsprogram is ’n vertroulike diens wat ontwerp is om NWU-werknemers en hul gesinne in aanraking te bring met ervare professionele persone wat berading vir persoonlike, gesins- en werkverwante probleme verskaf.

 

 Werknemers en hul gesinslede kan 0800 213 149 skakel om met ’n berader te praat.

 

 

 

 

 

Mishandeling kan talle vorms aanneem, van fisies tot emosioneel, en mishandeling in ’n intieme verhouding deur iemand wat jy liefhet en vertrou, kan veral vernietigend en pynlik wees.

moenie stilbly nie, neem beheer

GEWELD:

Dr Tertia Oosthuizen, ’n voorligting- en bedryfsielkundige, doen reeds meer as 20 jaar lank navorsing oor alle vorms van geweld, maar veral teenoor vroue. Haar navorsing sluit ook trauma-, posttraumatiese persoonlike groei- en versoeningsprosesse in.

ROL AF

TERUG

Die media het al baie artikels gepubliseer oor vroue wat gekies het om hul lewensverhale te deel nadat hulle aan huishoudelike geweld en mishandeling blootgestel is. Die stories van plaaslike bekendes soos Bongekile “Babes” Wodumo en Corlea Botha is maar net twee van dié wat onlangs in die nuus was.

 

Dr Tertia Oosthuizen, die programadministrateur van Voorligtingsielkunde op die kampus in Potchefstroom, het met eish! oor geweld in verhoudings gepraat, en wat slagoffers kan doen om beheer oor die situasie te neem.

 

Tertia sê elke vorm van geweld in ’n verhouding laat letsels.

 

“Dit is baie jammer dat die slagoffers in baie gevalle nie daaroor praat nie, nie na hulp soek nie en met hierdie pyn saamleef.” Sy sê daar is maniere vir mense om hierdie hulpeloosheid wat deur geweld veroorsaak word, te hanteer, en om uit die gewelddadige verhouding te kan padgee.

 

Hoe om weg te kom

 

“Dit is belangrik om ’n veilige ontsnappingsroete te hê, veral in gevalle van huishoudelike geweld. Jy moet fisies padgee. Hierdie noodplan kan ook met jou kinders ingeoefen word.”

 

Jy moet ’n noodtassie op ’n veilige plek hê vir ingeval jy dringend moet padgee. Dit kan by die huis van ’n familielid of vriend gelaat word. Die tas moet ’n gewaarmerkte afskrif van jou identiteitsdokument, geld, oornagklere, ’n ou selfoon met al die belangrike nommers daarop, en ’n ekstra stel huis- en motorsleutels bevat.

 

Verbreek die stilte

 

“Moenie in stilte ly nie. Neem iemand in jou vertroue. Daardie persoon moet weet waardeur jy gaan. Jou dokter of ’n vriend is dikwels die eerste ondersteuningslyn.”

 

Die Wet op Gesinsgeweld (116 van 1998) is op die internet beskikbaar. Slagoffers moet weet wat die wet oor die verskillende tipes mishandeling sê, hoe dit hanteer moet word en waar dit aangemeld moet word. Die wet maak veral vir toegang tot regshulp voorsiening.

 

“Dis belangrik dat slagoffers weet hulle kan huishoudelike geweld oorkom.” Tertia sê as dit nie aandag ontvang nie, kan die siklus van geweld dikwels voortduur en mettertyd tot allesoorheersende gevoelens van hopeloosheid, ’n swak selfbeeld, skaamte en emosionele gevangenisskap lei.

 

Sy sê dit verg moed om hulp te soek, maar daardeur kan jy ook lewens red en verander. “Kinders sien wat hul ouers doen. In situasies waar hulle aan geweld blootgestel word, kan hulle ook glo dat huishoudelike geweld ’n oplossing vir probleme is en só die bose kringloop ook in hulle lewens laat voortduur.

 

“Keer hierdie destruktiewe siklus. Slagoffers moenie stilbly en dit maar net verduur nie. Daar is organisasies en professionele persone wat kan help. Daar is altyd ’n uitweg en daar is beslis hoop om daaruit te ontsnap.”