BRAVO VIR DIE BESTES VAN DIE BESTES

Hulle gee nie net klas nie, hulle inspireer. Hulle is ons sterdosente wat die verbeelding stimuleer en ’n liefde vir leer kweek.

Twee van ons helderste sterre, prof Juaneé Cilliers en prof Alfred Brunsdon, het op 14 Maart by die Snowflake-gebou in Potchefstroom by die Institusionele Toekennings vir Onderriguitnemendheid-seremonie (ITOU-seremonie) met die toptoekennings weggestap.

 

Juaneé, ’n dosent in die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, en Alfred, van die Fakulteit Teologie, het albei die gesogte Toekenning vir Uitsonderlike Onderriguitnemendheid (TUOU) ontvang.

 

Juaneé is die hoof van die Stads- en Streekbeplanningsgroep, asook die leier van ’n navorsingsprogram in die Eenheid vir Omgewingswetenskappe en  bestuur. Sy is bekend as die aanbieder van ’n weeklikse omgewingsradioprogram, Omgewingspraatjies, op Radio Sonder Grense.

 

Alfred is medeprofessor, vakvoorsitter en vakprogramleier van praktiese teologie in die Skool vir Christelike Bediening en Leierskap. Sy onderrigfilosofie berus hoofsaaklik op die oortuiging dat die dosent daarvoor verantwoordelik is om ’n leeromgewing te skep wat vir die student in die oop afstandsonderrigomgewing betekenisvol is.

 

Waarom die toekennings gemaak word

 

Die toekennings gee erkenning aan dosente vir hulle verbintenis en toewyding tot studente se sukses, en moedig akademici ook aan om as universiteitsonderwysers op die gebied van onderrig en leer te ontwikkel.

 

Toekennings is in drie kategorieë gemaak, naamlik die Toekenning vir Opkomende Onderriguitnemendheid (TOOU), die Toekenning vir Onderriguitnemendheid (TOU) en die Toekenning vir Uitsonderlike Onderriguitnemendheid (TUOU). Dit is die vyfde jaar wat die toekennings in dié kategorieë gemaak word.

 

Altesaam 36 akademici het toekennings ontvang. Die Fakulteit Gesondheidswetenskappe het met agt toekennings die meeste wenners in totaal opgelewer, gevolg deur die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en die Fakulteit Geesteswetenskappe met sewe toekennings elk.

 

Waaroor die verskillende kategorieë gaan

 

Die TOOU beloon ontwikkelende dosente en die TOU gevestigde dosente vir uitnemende onderrig.

 

Die TUOU onderskryf uitnemendheid en loof uitsonderlike akademici vir leierskap en prestasie in die vakkundigheid van onderrig en leer.

 

Deelnemers aan die toekennings moet aan ten minste 80% van die kriteria in die onderskeie kategorieë voldoen en ’n nadenkende portefeulje indien. Daar word ook ten minste twee leergeleenthede waargeneem, waarvan een onaangekondig is.

 

Die TUOU-wenners se nadenkende portefeuljes word intern en ekstern gemodereer.

Hierdie jaar se ontvangers van die Toekennings vir Uitsonderlike Onderriguitnemendheid is prof Juaneé Cilliers en prof Alfred Brunsdon. Hulle is tydens die Institusionele Toekennings vir Onderriguitnemendheid-seremonie vereer.

Prof Liqhwa Siziba gee ’n roerende huldeblyk aan wyle dr Annelize Cronje vir haar waardevolle bydrae as personeellid van die Sentrum vir Onderrig en Leer.

Juaneé sê onderrig is nie ’n alleenwedloop nie. ““Daar is talle mense wat tot die reis bygedra het – van die derdejaar-beplanningstudente van 2018, tot al my kollegas.”

 

Sy sê die TUOU beteken dat dosente die mag het om hul omgewing, stad en land te transformeer. “As dosent is jy in ’n magtige posisie. Jy kry die kans om die toekoms te verander deur die jong geslag te inspireer.

 

“Ons betree ’n era van trans-verstedeliking, waar die akademie sentraal is vir die ontwikkeling van sosio-emosionele intelligensie as ’n sagte vaardigheid vir toekomstige leiers.

 

“Ons het vrugbare leiers nodig wat saam ruimtelike innovasies kan skep, en dit sal ’n groter klem op ervaringsleer vereis. Dit is deur middel van sulke navraag-gebaseerde benaderings dat ons saam kennis kan produseer en ons jong geslag kan leer om agente vir toekomstige verandering te word wat die groot uitdagings kan aanpak wat ons land en ons aarde in die gesig staar.”

 

 

Jannie Putter was die gasspreker by die geleentheid. Jannie is ’n alumnus van die NWU en werk tans as motiveerder vir die Lions-rugbyspan.

EN DIE WENNERS IS…

(Klik hier om meer te lees.)

“Hierdie toekenning het my as dosent geweldige energie gegee. Dit is ’n groot motivering om erkenning te ontvang vir die werk wat jy doen en wanneer belangstelling op hierdie manier deur jou werkgewer getoon word,” sê Alfred.

 

Hy beskou die erkenning as aanmoediging om aan te hou innoveer en sy vaardighede as dosent te ontwikkel.

 

Alfred het twee modules in teologie (preekkuns en pastorale sorg) in ’n aanlyn oop afstandleer-omgewing ontwikkel.

 

“’n Aanlyn benadering tot oop afstandleer beteken dat modules vooraf op eFundi ‘verpak’ moes word, in teenstelling met tradisionele oop afstandleer-‘uitsendings’. Hierdie proses is gedra deur my onderrig- en leerfilosofie, naamlik om ’n betekenisvolle en selfgerigteleer-ervaring met ’n gevoel van gemeenskaplikheid in ’n aanlyn omgewing te skep,” sê hy.

 

“Die ITOU-proses gee my ook ’n geleentheid om te besin oor my navorsing ten opsigte van die dekolonisasie van die kurrikulum, en hoe my navorsingsbevindings in my onderrig- en leerpraktyke toegepas kan word.”

 

 

ROL AF

ROL AF

ROL AF