Die NWU is soos geen ander universiteit nie, en ons kultuur moet daardie uniekheid en die waardes wat ons deel, weerspieël.

 

 

FOKUS OP

Op dié manier baat ons almal

Mense en Kultuur het met Studentelewe saamgespan om vas te stel wat die huidige kultuur van die NWU is sodat ons kan begin om ’n gedeelde organisasiekultuur te bewerkstellig.

Dit is die doel van Die NWU-Manier-projek, wat 60 fokusgroepe sal gebruik om by personeel en studente regoor die drie kampusse uit te vind hoe hulle die huidige NWU-kultuur waarneem.

 

Om uit te vind wat Die NWU-Manier is en waarom dit vir personeel en studente belangrik is om aan die fokusgroepe deel te neem, het eish! met Reitumetse Machaba, senior organisasie-ontwikkelingspesialis en projekbestuurder vir Die NWU-Manier gesels.

 

V: Waaroor gaan Die NWU-Manier-projek?

A: Soos almal weet, is dit ons droom om ’n internasionaal-erkende universiteit in Afrika te wees wat bekend is vir betrokke wetenskapsbeoefening, maatskaplike responsiwiteit en ’n sorgsaamheidsetiek.

 

Om hierdie droom te bewaarheid, werk ons hard daaraan om ons strategie te realiseer. Ons strategie is daarop gemik om die NWU te transformeer en te posisioneer as ’n unitêre instelling van voortreflike akademiese uitnemendheid met ’n verbintenis tot maatskaplike geregtigheid.

 

As deel van hierdie reis moet ons ’n gedeelde organisasiekultuur skep wat ons strategie sal ondersteun. Die NWU-Manier kyk na personeel en studente se kultuur wat ons dan probeer om met die universiteit se strategie te belyn.

 

V: Op wie is die fokusgroepe gemik?

A: Hierdie projek is op alle werknemers gemik. Dit sluit in 70% permanente personeel en 30% vastetermyn- en kontrakwerknemers, en studente regoor die universiteit in koshuise en afkampus.

 

V: Wat wil julle met hierdie projek bereik?

A: Daar is ’n hele paar doelwitte wat ons wil bereik, maar die belangrikste is om die heersende NWU-kultuur akkuraat te bepaal en te begryp.

Ons wil diep gesprekke oor die wenslikheid en niewenslikheid van spesifieke elemente van die kultuur en subkulture fasiliteer.

 

V: Waarom moet personeel en studente deelneem?

A: As ons ’n gedeelde kultuur wil skep, moet ons seker maak dat almal in die NWU-gemeenskap die geleentheid het om hul stem te laat hoor.

 

Uiteindelik moet elke personeellid en student saamstaan agter ’n stel waardes, norme en alledaagse optredes. Dit sal ons almal help om saam Die NWU-Manier uit te leef en te verseker dat die kultuur die universiteit se strategie ondersteun. Laat asseblief jou stem hoor deur jou insette te gee en jou ervarings van die NWU te deel.

 

Reitumetse Machaba van

Mense en Kultuur is die projekbestuurder van Die

NWU-Manier.