HERO LEI VARSITYRUGBYSPAN

Louis van der Westhuizen, tweede van regs, was die kaptein tydens die eerste Varsitybekerwedstryd, toe hulle die Universiteit van Johannesburg 23-8 gewen het.

Louis in aksie terwyl hy vir die Luiperds speel.

ROL AF

 

 

Chucky skop af

 

Toe Louis as eerstejaar by Overs-manskoshuis aanland, word hy summier as “Chucky” herdoop. Hy lag: “Ek dink dis oor my rooi hare dat hulle my ‘Chucky’ genoem het. Soos Chuck Norris.”

 

Louis van der Westhuizen, heel regs, was die jongste haker by die Rugbywêreldbekertoernooi.

Dis 2015 en Louis van der Westhuizen staan aangesig tot aangesig met die vreesaanjaendste uitdaging in wêreldrugby.

 

Om hom vul die Nieu-Seelandse haka die Queen Elizabeth Olympic-stadion in die ooste van Londen. Dis die Rugby Wêreldbeker en die eerste keer dat die kleine Namibië die onbetwiste heerser van die ovaalbal – die magtige All Blacks – aandurf.

 

Net ʼn paar minute vroeër het Louis hand-op-die-bors sy volkslied, “Namibia, Land of the Brave”, gesing – ook die eerste keer dat ʼn Namibiese rugbyspan dit in Engeland sing.

 

Louis is slegs 20-jaar oud en die jongste haker by die toernooi. Sy direkte teenstander in die nommer 16-trui, Kevin Mealamu, spog met meer as 100 toetse en die Kiwi’s met altesaam 1 061 toetse tussen mekaar. Dit is ʼn opdraande stryd as daar al ooit een was.

 

“Dit was ʼn droom wat waar geword het, maar dit was ook verskriklik intimiderend,” vertel die NWU se Varsitybeker-kaptein. “Die oomblik was so groot dat ek die vorige aand nie ʼn oog kon toemaak nie.”

Al het Namibië op daardie dag, 24 September 2015, met 58-14 die onderspit gedelf, was dit ʼn ervaring wat hy vir niks sal verruil nie. En daar was lesse om te leer – lesse wat hy vandag met sy spanmaats kan deel.

Maar amper was dit nie so nie.

 

Aan die stuur van die skip

 

“Ek sou nooit op rugby gefokus het nie,” bieg hy. “My enigste doel was om my graad in ingenieurswese te kry.”

Al het hy nie spesifiek daarop gekonsentreer nie, het sy rugbyloopbaan in alle erns afgeskop. Hy het nie net vir Namibië gespeel nie, maar ook vir die Luiperds. Nadat hy vroeër vanjaar kaptein van die Varsitybeker-span geword het, stuur hy nou die NWU se skip.

 

“Sedert ek verlede jaar deel van die groter leiergroep is, het gesien hoe dinge gedoen word. Dit gaan oor meer as om net die span te lei. Dit gaan daaroor om die universiteit te verteenwoordig – om daardie embleem op jou bors te dra. Daar is ʼn groter prentjie as die Varsitybeker en dit is waarvoor ons speel.”

 

Ondersteuning op die tuisfront

 

Sy pa, Lourie, is sy grootse ondersteuner en sy ma, Wilma, skerm van voor die televisie dat hy tog net nie seerkry nie. Broer Hennie het ook by die NWU studeer. Louis se meisie, Zanria van Schalkwyk, kom nes hy ook van Windhoek af en dit is saam met haar dat hy hoop om sy rugbyloopbaan in die buiteland te gaan voorsit.

 

Louis is egter meer as net ʼn rugbyman – hy is ook lief vir die viswaters. “Ek vang nie altyd iets nie, maar om langs ’n dam of langs die strand te staan, is absoluut wonderlik...” Sy stem raak weg soos dit saam met die gety Hentiesbaai toe gesleep word – daar waar die kabeljou, steenbras, galjoene en snoek in die koue Atlantiese waters wemel. “My ouma het ʼn huis daar,” sê hy. “Ons gaan elke Desember soontoe.”

 

Maar die viswater sal bietjie moet wag – Louis het eers ander verpligtinge. Tussen September en November sal hy waarskynlik vir Namibië uitdraf tydens die Wêreldbekertoernooi in Japan. En vir eers het hy ’n universiteitspan om te lei.

 

 

TERUG