READ MORE

Stap in kantoordrag om meisies se waardigheid te beskerm

ROL AF

 

Uitgedos in deftige kantoordrag het Eunice van Schalkwyk en Cobus Steenkamp hierdie twee pienk aktetasse tydens hulle 65 km lange staptog in die Visrivier Canyon gedra.

Die gewone kleredrag in die Visrivier Canyon is kortbroeke en stewels. Vandag is anders. Twee mense verskyn uit die verte. Hulle het kantoordrag aan en dra pienk aktetasse.

Nee, dis nie ’n hallusinasie nie.

 

Hulle is Cobus Steenkamp, ’n dosent in polisiëring in die Skool vir Owerheidstudies, en sy vriendin, Eunice van Schalkwyk, wat by CTEC, ’n omgewingsbestuursprogram, werk. Hulle is op ’n 65 km lange staptog vir ’n goeie doel.

 

Cobus en Eunice het drie dae lank deur die Visrivier Canyon in die suide van Namibië gestap om mense bewus te maak van en geld in te samel vir Project Dignity.

 

Dit is ’n nie-winsgewende organisasie (NWO) wat afwesigheid en die uitvalkoers by skoolmeisies wil verminder deur aan hulle herbruikbare sanitêreware te gee.

 

Nadat die NWO ’n liefdadigheidsveldtog in Potchefstroom gehou het, het Cobus en Eunice besluit om met hierdie organisasie saam te werk. “Ons is baie passievol oor opvoeding en die belangrikheid daarvan dat skoolmeisies onderwys ontvang. Dus was Project Dignity die perfekte organisasie waar ons ’n bydrae kon lewer,” sê Eunice.

 

Durf die natuur aan

 

“Voor die staptog het ons talle telefoonoproepe van ons vriende gekry wat sê ons moet nie in daardie onherbergsame gebied gaan stap nie, aangesien dit baie van ons sou verg,” sê Cobus.

 

Die eerste 20 km van die klipperige terrein was vir hom die ergste. Vir Eunice was die ergste om buite te slaap in die slaapsakke wat hulle van ’n ruimtekombers en valskermmateriaal gemaak het.

 

Cobus verduidelik dat hulle hul eie slaapsakke moes maak as gevolg van die min plek wat daar in hulle aktetasse was. “Ons kon net die broodnodigste, soos kos en kooktoerusting, inpak.”

 

Stap vir bewustheid

 

Hulle het regdeur die drie dae lange staptog hulle kantoordrag gedra.

 

"As jy wil hê mense moet van enige goeie saak kennis neem, sal jy hulle aandag makliker kry as jy formeel geklee is,” sê Eunice. “Kantoordrag het ook ’n simboliese waarde. Dit wys dat as ’n meisie haar skoolloopbaan voltooi, sy moontlik werk kan kry en net soos ons kan aantrek.”

 

Hoewel die totale bedrag wat ingesamel is nog nie bevestig is nie, is duisende rande as gevolg van Cobus en Eunice se staptog vir die saak geskenk.

 

Vir Cobus en Eunice is die reis egter nog nie verby nie. Hulle kyk reeds weer met watter ander verdienstelike saak hulle volgende jaar kan help.

TERUG