moedig omgee aan

ROL AF

 

Met die kweek van medemenslikheid as die tema, wou die navorsingsdag bydra tot die drie dinge wat nodig is om medemenslikheid te bevorder. Dit is om:

 

  • jouself en jou tradisies krities te ondersoek
  • jouself nie net as deel van ’n groep te sien nie, maar ook as ’n mens wat deur bande van erkenning en omgee aan alle ander mense verbind is
  • die vermoë te kweek om jouself in die skoene te stel van iemand wat van jou verskil.

 

 

Dit is die plakkaat wat dr Laura Weiss, ’n navorser en postdoktorale genoot by Optentia, gebruik het tydens die dialoogsessie wat sy gefasiliteer het.

Omgee-konneksies kan ’n groot verskil maak. Dit is veral waar wat betref hulp aan jongmense wat hulself in hopelose situasie bevind.

 

Hierdie waarheid is op 26 September beklemtoon toe die kampus in Vanderbijlpark die Optentia-navorsingsfokusarea se derde jaarlikse navorsingsdag gehou het.

 

Die kampus het gebruis van opwinding toe 300 mense van verskillende dissiplines en entiteite bymekaar gekom het. Hulle was van hoëronderwysinstellings, regeringsdepartemente en besigheidsorganisasies.

 

Die tema van die geleentheid was die kweek van medemenslikheid en die ontwikkeling en deel van bewyse (Cultivating humanity: Generating and sharing evidence).

 

Die program het ’n lesing, twee webinaarsessies, dialoë, projek- en plakkaataanbiedings en die bekendstelling van die Yabelana-toepassing ingesluit. Hierdie toep is ’n baanbreker-e-gidsstelsel wat ouer volwassenes kan verbind met dienste wat in hulle spesifieke behoeftes voorsien en in hulle gemeenskap beskikbaar is. (Jy kan hier meer daaroor lees.)

 

Program bars uit sy nate

 

Optentia se aksiegevulde dag het afgeskop met ’n lesing deur prof Linda Theron, ’n buitengewone professor by die fokusarea, oor die kweek van medemenslikheid deur omgee-konneksies.

 

Linda het verduidelik dat omgee-konneksies belangrik is vir die aanpasbaarheid van Suid-Afrikaanse adolessente wat chroniese en ondenkbare vlakke van ontbering ervaar. Omgee-konneksies wat die saamhorigheid van die mens en die welstand van adolessente vooropstel, kan jong mense meer aanpasbaar maak.

 

Sy het afgevaardigdes aangespoor om die aanpasbaarheid van jongmense wat in gevaar verkeer te bevorder. Hulle kan dit doen deur hul hande te vat, hul sterk punte te beklemtoon, en vir hulle te wys dat hulle nie alleen staan nie.

 

Twee lewendige webinaars het die teenwoordiges by die werkswinkel verbind met navorsers van lande soos Finland en Denemarke, wat hulle ervaring en kundigheid gedeel het.

 

Die navorsingsdag is afgesluit met plakkaat- en dialoogsessies waar deelnemers lewendige besprekings oor onderwerpe soos werkloosheid, gendergebaseerde geweld en werksonsekerheid gehad het.

 

Gebeurtenis lewer nuwe netwerke op

 

Prof Ian Rothmann, Optentia se direkteur, sê almal is opgewonde oor die nuwe netwerke wat hulle ontwikkel het. “Navorsers en nagraadse studente het die geleentheid waardeer om by internasionale kundiges te leer.”

 

In die dialooggroepe het deelnemers maniere bespreek om ’n medemenslike samelewing te kweek, en navorsers van verskillende navorsingsentiteite by die NWU het meer oor mekaar se navorsing geleer.

 

Die gebeurtenis het ook ander resultate opgelewer. Daar was ten minste een gesamentlike navorsingsbefondsingsaansoek van twee navorsingsentiteite en een voorstel vir samewerking met die gemeenskap.

ROL AF

TERUG

NAVORSINGSDAG