REDAKSIONEEL

Gereed vir ’n ruimtereis?

Die uurglas van die jaar loop nou vinnig leeg. Terwyl party mense gewoonlik hierdie tyd van die jaar op al die los drade fokus wat nog bymekaargebring moet word, kyk ander na die groter prentjie – groot genoeg om die buitenste ruimte in te sluit.

 

Die Eish!-artikel oor prof Thebe Medupe se sterrewag op die kampus in Mahikeng fokus op die uitgestrekte heelal buite ons planeet, sonnestelsel en sterrestelsel.

 

As ’n mens na webwerwe van National Geographic kyk, kom ’n mens op klomp interessante feite af. Hier is ’n paar voorbeelde.

 

In ons eie sonnestelsel kan ons buurplaneet, Mars, dalk binnekort die Aarde se eerste “ruimtekolonie” huisves.

 

Oor ’n paar jaar gaan ’n groep mense wat deel is van die Mars 1-projek op ’n eenrigtingreis vertrek – om nooit weer na die Aarde terug te keer nie. Hulle kan moontlik so vroeg as 2024 op die Rooi Planeet aankom om die eerste permanente menslike nedersetting daar te stig. Of hierdie droom haalbaar is en ’n werklikheid sal word, sal slegs die tyd ons leer.

 

Mars en die res van ons sonnestelsel is natuurlik net ’n klein kolletjie in ons skyfvormige sterrestelsel, die Melkweg. Ons eie sterrestelsel bevat tussen 100 biljoen en 400 biljoen sterre en ten minste 100 biljoen planete. Om die brein verder te laat duisel, sê sterrekundiges die waarneembare heelal alleen kan moontlik 100 biljoen sterrestelsels bevat.

 

Nog ʼn ongelooflike feit is dat wanneer jy in die ruimte inkyk, óf met die blote oog óf deur ’n teleskoop soos die 16 duim Meade LX200 GPS op die kampus in Mahikeng, jy in die verlede terugkyk.

 

Dit is hoe dit werk: Die ster naaste aan ons sonnestelsel, Proxima Centauri, is ongeveer vier ligjaar ver. Dit beteken dat lig wat daarvandaan kom ongeveer vier jaar neem om die Aarde te bereik. Ons kan dus sê die lig is reeds vier jaar oud wanneer ons dit sien.

 

Van tyd gepraat – ons moet seker na die hede terugkeer. Ons vertrou dat julle, ons lesers, die komende vakansie saam met julle geliefdes sal geniet. Ons is spoedig weer terug om die eerste uitgawe van Eish! vroeg in 2019 te “lanseer”.

 

Hou hierdie ruimte dop …

 

Lekker lees.

KLIEK HIER OM MEER TE LEES