Boodskap van die

Visekanselier

BESTE KOLLEGAS

'nPaar besige weke lê voor. Die eksamens is voor die deur en voorbereidings vir ons 2019-inname van studente is in volle swang.

 

Die laaste van 54 gradeplegtighede vind hierdie week plaas en ons sal hierdie jaar ongeveer 15 000 grade en diplomas toeken. Ons gaan dus voort om gekwalifiseerde gegradueerdes te lewer wat die land op talle maniere kan dien.

 

Saam met ons navorsings- en gemeenskapsbetrokkenheidsmandate fokus ons op ons kernbesigheid, en dit is die regte ding om te doen. Gaan voort met die goeie werk!

 

Die uitdagings met die administrasie van NSFAS-beurse duur voort. Ek is bly om te rapporteer dat ongeveer 14 800 NWU-studente hierdie jaar NSFAS-beurse ontvang het, vergeleke met 10 400 in 2017 en 6 200 in 2016.

 

NSFAS verwag om teen Januarie 2019 lyste van kwalifiserende studente te verskaf, wat die druk sal verlig op ons personeel wat steeds vir inligting oor sommige 2018-eerstejaarstudente wag. Dankie aan ons personeel wat ’n reusetaak in hierdie verband verrig.

 

Ons wag ook op die voltooiing van die nuwe taalbeleid en  plan, wat hopelik in November voor die Raad sal dien – indien daar geen onvoorsiene vertraging is nie.

 

’n Verfyningskomitee hanteer tans die afronding van die dokument voordat dit voor die Senaat dien. Daarna word die beleid en plan aan die Raad voorgelê. Met die goedkeuring daarvan kan ons die plan begin implementeer.

 

Vrae en antwoorde wat dikwels oor die taalbeleid en  plan opduik, word tans geformuleer en sal beskikbaar gestel word aan almal wat belangstel. Die suksesvolle implementering van die beleid en plan sal die volle steun van veral ons akademiese personeel verg.

 

Intussen word ons daaglikse interaksie deur ons etos van sorg en inklusiwiteit gelei. Om uitdagings ten opsigte van hierdie uiters belangrike dimensie van ons projek te hanteer, is betrokkenheidsessies met akademiese personeel hierdie maand gereël.

 

Ons moet seker maak dat ons diversiteit en insluiting bevorder wanneer ons studente hanteer en dat ons help om ’n omgewing te skep waar almal welkom voel. Ons studente verdien niks minder nie.