READ MORE

Fanie Roos glo as jy in sport wil uitblink, moet jy die wetenskap van sport verstaan.

 

“Kyk byvoorbeeld na die fisika van beweging. Dit beïnvloed alle gebiede van sport, van hulp aan atlete om vinniger te beweeg tot om beserings te voorkom en doeltreffender oefenskedules te beplan.”

Fanie het tydens die vereniging se jaarlikse afrigterskonferensie twee navorsingsreferate oor die rol van ouers van talentvolle spelers gelewer.

 

Sy eerste referaat se titel was “From junior to tour player: a growth mind-set for parents”, en sy tweede “From junior to tour player: dear PGA coach, my child is four years old and wants to be a pro”.

 

Die konferensie het van 5 tot 7 Augustus 2018 plaasgevind en die room van Suid-Afrika se gholfgemeenskap was daar. PGA-SA verteenwoordig 750 mans en vroue wat ’n passie vir die spel, die waardes en die besigheid van gholf het.

 

Sy eerste swaaihou

 

Om op die PGA-verhoog te staan, was ’n lewenslange droom wat waar geword het vir Fanie, wat reeds as sesjarige knapie begin gholf speel het.

 

Hy onthou hoe sy pa, Flip Roos, sy gholfstokke korter gemaak het sodat dit klein genoeg was vir Fanie en sy broer, Christo, om mee te speel.

 

Die twee seuns pluk vandag die vrugte van hul pa se toewyding en afrigting. Fanie bestuur tans sy eie gholfakademie en Christo is ’n professionele nasionale PGA-speler.

 

Net op die regte tyd

 

Die uitnodiging om ’n spreker by die PGA-SA se nasionale konferensie te wees, het net op die regte tyd gekom, sê Fanie. Hy is tans besig is om navorsing vir sy meestersgraadtesis oor gholf te doen, met die fokus op die ontwikkeling en ondersteuning van jong spelers.

 

Ouers druk soms hul kinders om slegs een sport te beoefen, met die hoop om ’n professionele sportman of -vrou groot te maak. Fanie se mening hieroor is dat kinders aan so veel sportaktiwiteite as moontlik moet deelneem terwyl hulle grootword.

 

“Wanneer kinders as individue of aan spansport deelneem, verwerf hulle belangrike vaardighede wat ’n bydrae tot hul toekomstige sportsukses sal lewer.

 

“Ek raai ouers en jong atlete aan om eers op die ouderdom van 15 of 16 jaar te begin spesialiseer,” sê Fanie.

 

Meer oor Fanie

 

Fanie het in 2003 sy BA-graad in menslike bewegingskunde en sielkunde aan die NWU voltooi, gevolg deur ’n nagraadse onderwysdiploma in 2004.

 

Hy het sy honneursgraad in sportwetenskap aan die Universiteit van Pretoria voltooi.

 

Hy het 13 jaar gelede sy afrigtersloopbaan begin en is ’n professionele klas AAA PGA-speler. Nadat hy ’n ruk lank by Emfuleni Park Laerskool skoolgehou het, het hy in 2014 sy akademiese loopbaan as junior lektor aan die NWU begin.

 

En ja, die volgende geslag Roos-gholfspelers is reeds aan die oefen. Fanie se vrou, Hanri, het reeds vir hulle 16 maande oue seun sy eerste gholfuitrusting gekoop!

Fanie Roos, ’n dosent in sportbestuur, het onlangs die eerste verteenwoordiger van die NWU geword wat die gesogte Professionele Gholfspelersvereniging van Suid-Afrika (“PGA-SA”) toegespreek het.

Fanie Roos, ’n dosent in sportbestuur, het sy eie gholfakademie waar hy talentvolle spelers afrig.

Dié voëltjie word toe ’n arend