READ MORE

Chris het sy hartsliefde, Gussie, op skool ontmoet en het in 1964 met haar getroud. Later jare was hy en Gussie ʼn dekade lank die koshuisouers van Oosterhof en Klawerhof. Die egpaar het drie kinders wat – saam met hul gades – ook NWU-alumni is.

Hy't 'n glasie witwyn met ys in die hand. Met sy oë wat skitter van lewenslus, val hy hom soms self in die rede om een van sy honderde NWU-stories (met feite, jaartal én name) te deel.

 

Hy is my mentor, my leermeester, my voorbeeld van lewenslus en onblusbare energie.

 

Ja, ek praat van een van die legendes op die kampus in Potchefstroom, Chris Windell. Duisende mense se paaie het al met dié bondel energie met sy spierwit (eens donkerbruin) hare gekruis. Ek het nog niemand raakgeloop wat nie een of ander staaltjie van hom kan onthou nie.

 

My heel eerste ontmoeting met Chris was in die vroeë tagtigs by ʼn alumni-byeenkoms in Durban. Almal het dit gate uit geniet, want daar het hy al op sy unieke wyse stories oor die universiteit gedeel.

 

Bykans 20 jaar later, met my aankoms by die NWU as personeellid, het ek nie die man met die spierwit hare herken nie. Toe ek egter in daardie paar lewendige, blou oë vaskyk, het ek dadelik geweet ons paaie het al gekruis.

 

Hy is ʼn “boytjie van Braamfontein” waar die gesin gewoon het terwyl sy pa by die spoorweë gewerk het. Hy kan mens ure vermaak met sy dae as jong seun wat baie kattekwaad aangevang het.

 

Hy het sy studies by die voormalige Potchefstroom Onderwyskollege (POK) in 1960 begin en kan tot vandag sy klasmaats se name onthou.

 

Musiek in sy bloed

 

Chris is ʼn musiekmaker van formaat en was die voorsitter van die Orkes- en Liedjiekomitee van die POK.

 

In sy derde en vierde jaar was hy lid van ʼn orkes wat elke aand met sleeptyd in Shine op die Bult gespeel het. Hulle betaling vir die 90 minute was ʼn hamburger en 50 sent.

 

Jare later, met die afskop van die Kampustalentfees in 1984, was Chris die eerste seremoniemeester. Daarna was hy vir nog 13 jaar by dié fees betrokke.

 

Die begin van ʼn legende

 

Na ʼn paar jaar as Engelsonderwyser, het Chris in 1975 by die universiteit begin werk. Hy was vir etlike jare die direkteur van Openbare Betrekkinge wat hom kruis en dwars oor die land na alumni-saamtrekke geneem het.

 

Meeste studente sal hom ook onthou as die “oom” wat vir meer as 15 jaar die seremoniemeester by Opedae en die ontvangs van die eerstejaars opgetree het ... “En nooit ʼn stoute grap vertel het nie,” sal hulle byvoeg.

 

Chris het ook die Ikateleng-program onder sy vlerk geneem. Saam met sy kollegas het hy toegesien dat duisende skoolleerders vir hul matriekeindeksamen voorberei word.

 

Stilsit? Watwou!

 

Hy het by aftreeouderdom gesê hy sal eenvoudig nie kan stilsit en oud word by die huis nie. Daarom is hy steeds as fondswerwer in diens van die universiteit.

 

Chris vier vanjaar die rype ouderdom van 78 jaar en sal nog talle mense onder die stof kan loop. Daardie kenmerkende energie en lewenslus is steeds net so aansteeklik soos die jong, donkerkop man wat ek destyds in Durban raakgeloop het.

 

My mentor, my leermeester ... sy taak is nie voltooi nie.

 

Artikel: Kiewiet Scheppel, Korporatiewe Kommunikasie

TERUG

Chris Windell bekoor die gehoor tydens die Pukki Talentfees in 2015. Formele musiekopleiding het hy nie gehad nie, maar hy kan die wonderlikste klanke uit die klawers toor.

Boytjie van Braamfontein trap diep spore

ROL AF