REDAKSIONEEL

KOMAAN, ROER JOU LITTE!

As jy die skuldige een uit vier volwassenes wêreldwyd is wat te onaktief is, het jy ’n 20-30% groter kans om te sterf as mense wat aktief genoeg is.

 

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie se webblad is onvoldoende fisiese aktiwiteit een van die grootste risikofaktore vir sterftes wêreldwyd. Dit is ook ’n sleutelrisikofaktor vir nie-oordraagbare siektes soos kardiovaskulêre siekte, kanker en diabetes.

 

Dit lyk asof geld en ligging ’n rol in die vlakke van aktiwiteit speel. ’n Studie toon dat 26% van mans en 35% van vroue in hoë-inkomstelande nie aktief genoeg is nie, vergeleke met 12% van mans en 24% van vroue in lae-inkomstelande.

 

In stede kan faktore soos misdaad in buitelugareas, swaar verkeer en te min parke mense ook ontmoedig om aktief te wees.

 

Hierdie uitgawe van Eish! berig oor ’n hele paar mense wat goeie rolmodelle vir die stoelpatatte onder ons is. Fanie Roos en prof Melvin Mbao is ywerige gholfspelers, terwyl dr Pieter van den Berg verskeie rugby sewes-spanne afrig.

 

Om nie te praat van marathonatleet Elroy Gelant, en Afrika se beste junior sewekampatleet, Joné Kruger, nie. Ek is seker hulle het in hul leeftyd al talle pare hardloopskoene voos gehardloop!

 

Ek en jy kan ook ’n nuwe blaadjie omblaai. Dié van ons wat in Potchefstroom gebaseer is, kan byvoorbeeld by die NWU se Instituut vir Biokinetika aansluit.

 

Hulle is oop vir alle NWU-personeel en  studente, en hul wetenskaplike oefenprogramme, toesigsessies en gimgeriewe is teen R200 per maand beskikbaar. (Jy kan hier meer inligting en die besonderhede vir ’n kontakpersoon kry.)

 

Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel aan dat volwassenes van 18 tot 64 jaar ten minste 150 minute se matige fisiese aktiwiteit regdeur die week moet doen.

 

Komaan, my mede-luies – laat ons beweeg! Onthou: daar is ’n 20-30% groter kans om te sterf waarvoor jy moet weghol…

 

KLIEK HIER OM MEER TE LEES