READ MORE

Anneke Barnard, fakulteitsbibliotekaris vir Geesteswetenskappe, het onlangs die 90,18 km van Pietermaritzburg na die Moses Mabhida-stadion in Durban gehardloop.

 

Die 49-jarige marathon-entoesias het aan die Comrades deelgeneem as ’n huldeblyk aan haar man, Attie, en haar susterskind, Leon, wat albei met kanker gediagnoseer is.

Fakulteitsbibliotekaris vir Geesteswetenskappe, Anneke Barnard, het onlangs die Comrades-marathon gehardloop as huldeblyk aan haar man, Attie, en aan haar susterskind, Leon, wat albei met kanker gediagnoseer is.

Alle paaie lei na die Comrades

 

Voor hierdie jaar se Comrades het Anneke en Attie saam reeds vier Comrades-marathons voltooi. Die egpaar wou hierdie jaar weer deelneem en het saam geoefen toe Attie in Januarie met maagkanker gediagnoseer is.

 

“Ek het nie geweet wat voorlê ná sy diagnose nie, dus het ek besluit om nie aan die ultramarathon deel te neem nie,” sê Anneke. Sy het egter steeds saam met haar vriend, Lee, aanhou hardloop om fiks te bly en stres te verlig. “Attie het my aangemoedig om sonder hom aan die Comrades deel te neem, en aan die einde van April het ek besluit om dit wel te doen.”

 

Dit was tóé dat Anneke besluit het om die Comrades te hardloop as huldeblyk aan haar man en Leon wat al lank teen kanker stry. Sy het selfs harder saam met Lee geoefen omdat hulle die Comrades saam sou aanpak.

 

’n Onvergeetlike ervaring

 

Anneke het daarin geslaag om haar vyfde Comrades-marathon in 10 uur 15 minute te voltooi. Wanneer sy terugkyk, was die moeilikste deel die oefening vooraf en om – met ’n voltydse werk en haar versorging van Attie en haar gesin – die tyd daarvoor in te ruim.

 

Die laaste 15 km van die wedloop was vir haar werklik moeilik omdat haar bene begin seer word het, maar sy het haarself die hele tyd herinner aan die rede waarom sy dit aanvanklik aangepak het. “Een van die beste herinneringe aan die hele wedloop is toe ek vir Attie by die Toyota Mile net voor die eindstreep gesien het. Ek het hom ’n sweterige drukkie gegee en eindstreep toe gemik,” sê sy.

 

Anneke sê sy is altyd emosioneel voordat die wedloop begin. Om daar te staan saam met 19 000 ander opgewonde atlete en Shosholoza en die volkslied te sing, en dan te wag dat “Chariots of Fire” begin speel, laat altyd die trane loop. Sy het hierdie jaar meer as gewoonlik gehuil omdat Attie nie langs haar was nie.

 

 

TERUG