READ MORE

PROF IS 89 JAAR JONK

Nie elke universiteit kan spog met ’n professor van 89 jaar oud nie, maar die NWU is bevoorreg om prof Johannes Lenake as dosent te hê. Hy deel steeds sy skat van kennis met ons studente.

Op die ouderdom van 89 is prof Johannes Lenake nog vol lewenslus. Hy bied lesings aan vir studente op die kampus in Vanderbijlpark, vertaal geliefde Suid-Sotho-volksverhale in Engels en boer boonop ’n bietjie.

ROL AF

 

 

Die Eish!-span

het by hierdie

NWU-legende gekuier

om na sy storie

te luister.

Dit begin op 15 Januarie 1929 op ’n plaas in Frankfort, waar ’n ma en pa van nege kinders as plaaswerkers ’n bestaan gemaak het. Het sy pa ooit gedink dat klein Johannes in die 90 jaar daarna tot ’n letterkundige reus sou ontwikkel?

 

Die boer vir wie Johannes se pa gewerk het, het hom gehelp om ’n gedeelte van die plaas te benut sodat hy in die wins kon deel. Hy het dit vir die Lenake-kinders ook moontlik gemaak om skool toe te gaan en al nege van hulle het laerskool klaargemaak. In daardie dae sou ’n leerder standerd 6 (graad 8) klaarmaak en dan kollege toe gaan vir vorm 1, 2 en 3 (wat soos graad 10 was).

 

Begin as onderwyser

 

Johannes het vorm 3 by die Stofberg Gedenkskool voltooi en met twee jaar se onderwysopleiding begin. In 1950 het hy begin skoolhou by wat hy noem ’n “eenmanskool” in Theunissen, waar hy 24 kinders tussen sub A en standerd 4 onderrig het.

 

Hy het by die Trans-Afrika Korrespondensiekollege ingeskryf om sy matriek klaar te maak. “Ek het gedink: nou gaan ek studeer!” Toe 1951 aanbreek, het Johannes Suid-Sotho A (soos vandag se huistaal), Afrikaans A en Engels B (soos vandag se eerste addisionele taal) deurgekom, en met ’n matriekkwalifikasie met vrystelling gespog.

 

Hy het in ’n nuwe pos by ’n ander plaasskool begin, maar binne ’n jaar aanbeweeg en ’n aanstelling as assistentonderwyser by ’n skool aanvaar. Hier het hy vir ses jaar lank gewerk totdat hy as prinsipaal by ’n skool in Colesberg aangestel is. Weer eens het Johannes die meriete van verdere studie besef en by Unisa ingeskryf vir sy BA met sielkunde en Suid-Sotho as hoofvakke.

 

Vind ’n huis in hoër onderwys

 

Nadat hy aan die einde van 1962 sy graad voltooi het, het Unisa hom onmiddellik as ’n taalassistent aangestel. Hy het met sy studies voortgegaan en vir sy honneursgraad ingeskryf.

 

In die 35 jaar daarna het hy nie net sy honneursgraad behaal nie, maar ook ’n meestersgraad en ’n PhD. Vanaf 1979 het hy as senior lektor gewerk, en later as assistentprofessor. In 1987 is hy na vol professor bevorder. Hy het in 1994 afgetree, maar die universiteit tot in 1997 op ’n deeltydse grondslag gehelp.

 

Ná sy aftrede het hy by die NWU se kampus in Vanderbijlpark aangesluit en as studieleier opgetree vir senior studente wat hul honneurs-, meestersgraad- en PhD-studie voltooi. Deesdae deel hy as ’n dosent in Suid-Sotho (inleiding tot Suid-Sotho en taalverwerwing) sy oorvloedige kennis met voorgraadse studente.

 

Wat is volgende?

 

Johannes werk tans aan ’n projek saam met skrywer en digter Antjie Krog, ’n legende in eie reg. Hulle vertaal Suid-Sotho-tekste in Engels. Hy is baie opgewonde oor die rykdom letterkundige skatte wat binnekort beskikbaar sal wees vir almal om te geniet. Dit sluit die drama van Senkatana, ’n reusagtige mitiese monster uit die Basoetoe-volksoorlewerings in.

 

Hy kry ook tyd om te werk op ’n plaas van 8,5 hektaar wat hy ’n ruk gelede gekoop het en waar hy met hoenders begin boer het. Die hoenderplaas het ontwikkel in ’n varkplaas, waar hy tans 32 klein varkies aanhou.

 

Een ding is seker: op 89 jaar toon Johannes geen teken dat hy gaan afskaal nie, en sy lewenslus blyk duidelik uit die staaltjies wat hy laggend deel. Sy boodskap is een van harde werk, passie vir jou kuns en respek vir ander: die ware tekens van ’n legende.

TERUG