READ MORE

Sluit by ons aan vir ’n toer van die biblioteek om sy elegante nuwe voorkoms en die moderne toerusting in sy nuwe ruimtes te sien. Hierdie ruimtes sluit vertrekke in vir groepwerk en stil studie-areas, asook rekenaarwerkstasies (met voldoende kragpunte en sagteware) en skootrekenaarwerkstasies.

BIBLIOTEEK

jeugdiger

VOORKOMS

ROL AF

 

Kort nadat die 67 jaar oue Ferdinand Postma Biblioteek op die kampus in Potchefstroom sy laaste lagie verf gekry het, het dit op 14 Junie 2018 sy moderne voorkoms en topklas toerusting gevier.

Mense wat hierdie geleentheid bygewoon het, is op ’n toer van die biblioteek geneem en het ook die bekendstelling bygewoon van ’n boek wat dr Tom Larney, ’n voormalige direkteur van Biblioteekdienste, oor die biblioteek se geskiedenis geskryf het. Hierdie publikasie is ook as ’n e-boek op Boloka, die institusionele bewaarplek van die NWU, beskikbaar.

 

Hoog tyd vir ’n verjongingskuur

 

In die lig daarvan dat die biblioteek se hoeksteen in 1951 gelê is, is dit verstaanbaar dat die biblioteekbestuur in 2011 besluit het dat dit hoog tyd is om die gebou ’n groot verjongingskuur te laat ondergaan.

 

Met Tom aan die stuur was een van die eerste stappe om die biblioteek se eie koffiewinkel, genaamd Ferdi’s, te open – ’n eerste vir akademiese biblioteke in Suid-Afrika.

 

Die eerste verfstrepe

 

Die vaardighede van ’n argitek, wat in die heraanwending van akademiese biblioteekruimtes spesialiseer, is ingeroep en die eerste fase van die opknappingsprojek (2012 tot 2014) het ’n navorsings- en honneursmeent op die derde vloer tot gevolg gehad.

 

Gedurende die tweede fase (2014 tot 2015) het die grondvloer en die voorgraadse inligtingsmeent gevolg, terwyl die tweede vloer tydens die derde fase (2017) opgeknap is. Die finale fase, naamlik die opknapping van die eerste vloer, was in 2018.

 

Opgegradeer en toegerus met hoogs moderne geriewe om die leerervaring van ons studente te bevorder, is die biblioteek nou gereed om in die nuwe geslag se behoeftes te voorsien.

Op 14 Junie 2018 het die NWU die voltooiing gevier van ’n uitgebreide projek om die Ferdinand Postma Biblioteek se ruimtes te vernuwe en aan die veranderende behoeftes van gebruikers te voldoen. Teenwoordig by dié geleentheid was Elsa Esterhuizen (voormalige direkteur), dr Mathew Moyo (huidige hoofdirekteur van Biblioteek- en Inligtingsdienste), dr Tom Larney (voormalige direkteur), Neli Kaunda (huidige direkteur) en dr Franciska Bothma, uitvoerende adviseur vir die adjunk-visekanselier vir onderrig en leer.